Senekal se krane droog op

Argieffoto: Wikimedia

Argieffoto: Wikimedia

Ongeveer 40 000 mense word geraak deur ʼn krisis nadat water in Senekal in die Vrystaat opgedroog het.

Die burgerregteorganisasie AfriForum het 18 van sy takke gemobiliseer om volgende week Saterdag, op 7 Mei, water aan die gemeenskap van Senekal te verskaf.

Stefan Coetzee, voorsitter van die niewinsgewende-organisasie Senekal Water, het aan AfriForum gesê sowat 40 000 mense word deur dié waterkrisis geraak. Hy het ook gesê dit is die tweede keer in drie jaar wat die dorp só ʼn krisis beleef – in 2013 het Senekal vir nege maande sonder water gesit.

Volgens Charles Castle, regs -en risikokoördineerder vir gemeenskapsake by AfriForum, is die grootste krisis die drinkwater. “Ons is ingelig dat die dorp tot gister tussen 05:00 en 08:00 elke dag nog munisipale water in hul krane ontvang het, maar dat dié water vuil en ondrinkbaar was. Nou is daar glad nie meer water nie. Die inwoners is grootliks afhanklik van waterskenkings en reënval.”

AfriForum se takke in Kempton Park, Alberton, Nigel, Springs, Heidelberg, Vanderbijlpark, Primrose, Frankfort, Reitz, Harrismith, Bethlehem, Heilbron, Krugersdorp, Vereeniging, Sasolburg, Randfontein, Westonaria en Petrus Steyn vat almal hande vir dié projek om te verseker dat die inwoners van Senekal skoon water kry.

Verskeie ander organisasies en besighede het ook hul bereidwilligheid getoon om saam met AfriForum hierdie waterverskaffingsprojek aan te pak, onder meer Ptruck Towing, WSSA (Water Shortage South Africa), The Twilight Group en Gauteng 4×4 Water Drive.

AfriForum moedig alle AfriForum-lede, lede van die publiek en inwoners van elke betrokke gemeenskap aan om betrokke te raak deur ʼn e-pos na [email protected] te stuur of 074 589 3589 te skakel.

“Ons benodig almal se samewerking om aan die inwoners van Senekal drinkwater te verskaf,” het Castle gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johann Marx ·

Ek dink ons moet almal die demokratiese reg hê om belasting te betaal aan die party, instansie, organisasie of diensverskaffer wat DOEN met ons belasting waarvoor dit bedoel was? Is die nie ‘n regering se PLIG om met belasting (wat ook betaal is deur die inwoners van Senekal) vir Senekal se mense water te voorsien nie? Waarom moet ons gewone mense deur ‘n burger-regte groep instaan waar die regering faal……….en dit nadat ons die regering indirek “betaal” het om die werk te doen? Niemand wou my nog ooit betaal vir werk wat ek NIE gedoen het nie.

Lance ·

Senekal se belasting is nodig om die nuwe vliegtuig te koop …jammer julle anc kom eerste ….maak julle en die burgerregte mense maar n plan asb. Wat n skande …ironie is meeste van senekal se mense gaan weer anc stem ….daar is nie n pil vir domheid nie

Ann ·

Julle is uitgesproke, maar wag tot die water in julle krane ook opdroog. Dan kyk ons wat sê julle dan. Julle het nie ñ idee hoe dit voel om sonder water te wees nie. Moenie praat as julle nie weet hoe dit voel nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.