Sersant se fiets in digte bosse opgespoor

Michael van der Watt.

Die soektog na sers. Michael van der Watt (35) van die Motherwell-taktiesereaksie-eenheid in die Oos-Kaap is vir vandag afgelas, maar sal môre voortduur.

Kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê die soekspanne het  vroeër vandag op ʼn fiets afgekom naby die Van Stadensbrug op die N2 buite Port Elizabeth. “Ons kan nou bevestig dat dit wel sy fiets is,” het Naidu gesê.

Die fiets is in ʼn digte bos opgespoor aan die oorkant van die pad naby die brug. “Iemand sou dit daarheen moes dra,” het Naidu gesê.

Lede van die polisie en die gemeenskap het saam op die fiets afgekom toe hulle besig was met ʼn soektog per voet.

Maroela Media het vroeër berig Van der Watt het Sondag vermis geraak. Hy is laas gesien deur ʼn kollega wat hom Sondagoggend ná ʼn nagskof by die huis gaan aflaai het. Hy is as vermis aangemeld deur sy vrou wat nog nie sedert Sondagaand van hom gehoor het nie.

Volgens Naidu het bure beweer hulle het Maandagoggend iemand in fietsryklere die huis sien verlaat. Van der Watt se fiets is ook vermis, maar al sy persoonlike items soos sy selfoon is by die huis.

Die polisie het mense met inligting gevra om die Kabega Park-polisiestasie by 041 397 6801/02 te skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

anton ·

Was dit nie dalk selfmoord nie? Van die brug afgespring. Net n onskuldige vraag. Hoop ek is verkeerd en dat hy lewendig gevind sal word.

Hoopvol ·

Die fiets is in bosse gevind. “Iemand moes dit daar geplaas het” Die brug is 40km v PE af. Ek wonder of dit nie sy draaipunt was en hy daar ontvoer was nie. Van Sadensbrug het mos kameras en hoe heining op. Kan nie dink dat jy oor die heining kan kom. Ek hoop maar hul vind hom lewendig!

Kobus ·

Dieselfde gedagte by my opgekom…indien roof sou fiets spoorloos weg gewees het….

Nico ·

Ek hoop hy word lewend gevind. Al lyk dinge nie belowend nie..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.