Seun (1) vier verjaardag in hospitaal ná hy byna in vuil swembad verdrink

Damon Ferreira. Foto: Facebook.

Damon Ferreira, wat môre sy tweede verjaardag vier, is in ʼn bedenklike toestand in die Netcare Bay-hospitaal in Richardsbaai nadat hy Woensdag in die gesin se nuwe huis se swembad beland het.

Chantel Ferreira, Damon se ma, het aan Maroela Media vertel wat gebeur het.

Die gesin het Saterdag na ʼn nuwe huis in Richardsbaai verhuis van Vryheid af. “Hulle moes een van die vensters vervang, asook die voordeur; dis waarmee die kontrakteurs Woensdag besig was.”

Chantel vertel dat die swembad wel omhein is en dat hulle van plan was om dit later met ʼn seil te bedek.

“Michael (3) en Damon het die hele tyd daar rond gespeel en gaan kyk, dan roep ek hulle terug. Ek was net vinnig met hul 10 week oue babasussie in die kamer besig toe Michael in die kamer kom en ek agterkom Damon is nie by hom nie.”

Chantel het dadelik begin soek en om die huis geloop, waarna sy Damon onderstebo in die swembad aangetref het.

“Ek het begin skree: ‘My child, my child!’ en die eienaar se seun het aangehardloop gekom, ingespring en Damon uitgehaal. Hy was al blou om sy mond. Hy het gesê ek moet begin om hartmassering toe te pas, maar ek kon nie op daardie oomblik onthou hoe nie.

“Die man het Damon toe op sy sy gedraai en in die ribbes begin pomp, en ek het nog vir hom gesê hy moenie te hard druk nie. Hy het toe gesê ons moet Damon dadelik hospitaal toe neem. Ek het nie eens geweet waar die hospitaal is nie,” het Chantel vertel.

Damon Ferreira. Foto: Facebook.

Die man het vooruit gejaag met Damon en Chantel het haar ander twee kinders in die kar gelaai en ook begin jaag. “Ek het nie eens skoene aangehad nie. Ek het een verkeerde afdraai gevat omdat ek die dorp nie ken nie. Teen daardie tyd was die man gelukkig al op pad terug om my te kom haal. Ek is so dankbaar dat hy daar was.”

Damon is volgens Chantel in die intensiewe kindersaal van die privaat hospitaal.

Dokters is in dié stadium bekommerd oor sy linkerlong omdat die aanvanklike x-strale net wit gewys het. “Dit is as gevolg van al die vuilgoed en slik in die water [die swembad was vol, maar nog in die proses om reggemaak te word]. Dit begin kom nou stuk-stuk uit, maar hy het infeksie in sy longe as gevolg daarvan.”

Chantel verduidelik dat die dokters nie nou al duidelikheid kan gee oor moontlike breinskade nie omdat Damon nog nie ten volle wakker is nie. “Hulle het hom dieper sedeer omdat hy te veel reageer en beweeg het as ons met hom praat. Die dokter het nogal vir ons gesê hulle kan nie glo hy het nog so beweeg nie, omdat hy genoeg sedasie ontvang om ʼn groot man te sedeer. Hy is ʼn regte fighter.”

Dokters sal Saterdagaand begin om Damon uit sedasie te bring.

Die gesin het nie ʼn mediese fonds nie, maar die hospitaal probeer hulle sover moontlik tegemoetkom. “Ons praat direk met die hospitaal se finansiële beamptes, en hulle probeer regtig kyk waar hulle vir ons kan afslag gee en ons kan akkommodeer. Dit lyk of hulle hom nie nou dadelik sal oorplaas nie.”

ʼn Blad is in Damon se naam geskep sodat belangstellendes geld kan oorbetaal om die gesin by te staan. “Die geld wat ons sover gekry het, sal ek gebruik om die goed soos die x-stale waarvoor ons kontant geld moet neersit te betaal.”

Hulle het tot dusver omtrent R12 000 ontvang.

“Dit is ongelooflik hoeveel mense belangstel en boodskappe stuur en bid, dis net ongelooflik.”

Enige iemand wat belangstel of wil bydra kan Damon se blad op Facebook besoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

ABC ·

Elke huiseiebaar moet verantwoordelik gehou word as die swembad nie ñ veiligheidsnet op het nie. Goeie emmer! Ongelukke gebeur so vinnig!

Marinda ·

Alles sal uitwerk soos dit moet. Sterkte. Julle kind is in goeie hande. Die Drs en staf hier weet wat hulle doen.

Tries ·

So het ons tweejarige dogtertjie jare terug met die intrek in ‘n nuwe huis aan ‘n Coke-bottel vol petrol in ‘n buitekamer probeer proe. Ek was ver swanger met haar boetie en besig om uit te pak. Dank die Heer, sy het nie veel ingekry nie en was okay daarna. Ons was nie bewus van die bottel petrol nie. Dit het waarskynlik aan die vorige eienaar behoort. Dis dalk ‘n goeie idee om vooraf ‘n nuwe huis en erf sorgvuldig te deursoek en kindervriedelik te maak voordat kleuters, peuters en babas daarheen geneem word. Dinge gebeur so vinnig met kleingoed… Baie, baie sterkte aan die pappa en mamma. Ons vertrou Damon is spoedig beter.

Gesiggie ·

Ek is so dankbaar dat Damon ok is… en Bid vir n vinnige beterskap , n Ma het soveel verpligtinge en kan nie altyd haarself in 3 deel om by als uit te kom en te doen… n ongeluk gebeur, en ek kan dink dat jy as Ma jouself verkwalik…ons kinders is so kosbaar, en ons wil net die beste vir hul gee.. Baie dankie aan die eienaar se Seun , dat jy die Ma so mooi bygestaan het. Sterkte aan jul, en Mag Jesus Damon aanraak sodat hy 100% sal herstel…

LBS ·

Ek gooi gladnie verwyte nie, maar as die swembad OMHEIN is, hoe het die seuntjie dan in die swembad beland?

At ·

Ai, hoe hartseer om ‘n kindjie so te sien. My hart gaan uit na sy gesin, en sterkte vir julle. Die Here sal genees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.