Seun (17) sterf tydens skoolkamp

Argieffoto: Twitter via @_ArriveAlive

ʼn 17-jarige leerder van die PW Botha-kollege in George het Vrydagaand tydens ʼn skooluitstappie verdrink.

Kapt. Malcolm Pojie, woordvoerder van die polisie, het gesê die seun was saam met ander leerders van die skool op ʼn leierskapskamp by ʼn oord in die Kammanassie-omgewing tussen Oudtshoorn en Uniondale toe die voorval gebeur het.

“Volgens die polisie se voorlopige inligting het die seun en nog ʼn leerder van die skool omstreeks 20:30 die aand gaan swem. Die seun het in die moeilikheid beland en hy het verdrink,” het Pojie gesê.

In reaksie op ʼn berig deur ʼn plaaslike koerant wat beweer die seun is in ʼn kritieke toestand na ʼn hospitaal gehaas en het eers later in die hospitaal gesterf, het Pojie gesê volgens sy inligting is die seun reeds by die oord dood.

Hy het gesê die polisie is besig met ʼn geregtelike doodsondersoek. Pojie kon teen Dinsdagmiddag nie die naam van die oorledene bevestig nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.