Skolegemeenskappe moet geweld help bekamp

skolegeweld-paneel-2019-06-1

V.l.n.r is Nkosana Dolopi van Sadtu, Paul Colditz van Fedsas, Ian Cameron van AfriForum, Roné McFarlane van Equal Education, Maj.-gen. Thokozani Mathonsi van die SAPS, Piet Delport van die SAOU, Basil Manuel van Naptosa en Cullen Mackenzie van die Catholic Institute of Education. Heel regs staan Josh Charle, voorsitter van die Nasionale Persklub, wat die gesprek oor geweld in skole gelei het. Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Skole is ʼn mikrokosmos van ʼn gemeenskap en sal die vlakke van geweld in daardie omgewing weerspieël. Suid-Afrika het net openbare en private skole en daarom is dit elke lid van die gemeenskap se verantwoordelikheid om skole so veilig moontlik te maak.

Dit is die mening van Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), wat ʼn lid van die paneel onderwysdeskundiges was wat Dinsdag die kwessie van toenemende geweld in Suid-Afrikaanse skole bespreek het.

Die Nasionale Persklub het die paneelbespreking by Court Classique in Arcadia, Pretoria, aangebied.

Die kenners was dit ook eens dat onderwysers verder opgelei moet word om die toename van geweld in skole beter te hanteer omdat hulle opleiding tans nie hiervoor voorsiening maak nie.

Piet Delport van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), Basil Manuel, uitvoerende direkteur van die Nasionale Professionele Onderwyserorganisasie van Suid-Afrika (Naptosa), en Nkosana Dolopi, adjunkhoofsekretaris van die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (Sadtu), het dit egter sterk benadruk om onderwysers te bewapen sal nie die probleem oplos nie.

“As daar ʼn gewelddadige voorval by ʼn skool plaasvind, moet daar ʼn plan wees om dit te hanteer. As jy basiese infrastruktuur gereed het, soos ʼn interkom wat onderwysers en leerders aan die ander kant van die skool kan inlig oor ʼn voorval, asook ʼn veiligheidsheining om die skool, kan dit al bydra om onderwysers te help om ʼn situasie te hanteer,” het Roné McFarlane, medehoof van navorsing by Equal Education, gesê.

McFarlane meen ook dit is belangrik om die oorsake van geweld in skole te ondersoek voordat daar oor oplossings gesels kan word.

Manuel het bygevoeg dit bly onderwysers se werkgewer, die departement van basiese onderwys, se verantwoordelikheid om ʼn veilige werksomgewing vir onderwysers te bied.

Genl.maj. Thokozani Mathonsi, wat die polisie by die gesprek verteenwoordig het, het gesê geweld by skole word beslis vererger deur die vlakke van misdaad in gemeenskappe.

“Die polisie het ʼn ooreenkoms met die onderwysdepartement om geweld in skole te hanteer. Elke skool is met ʼn polisiestasie verbind en is deel van die skool se veiligheidskomitee, maar dit is ook waar dat hierdie komitees nie in elke geval so funksioneel is soos wat hulle behoort te wees nie,” het Mathonsi gesê.

Dolopi het op sy beurt gesê geweld het die nuwe norm in gemeenskappe geword. “Ons het ʼn omgewing geskep waar ons kinders geleer het dat geweld die manier is waarop jy seker maak jy kry jou sin.”

Hy het gesê skoolbeheerliggame moet versterk word om geweld in hulle eie skole te hanteer.

“Ons moenie die waarde van sport onderskat nie. Dit kan leerders wat dalk nie so akademies begaafd is nie, ʼn toevlug weg van misdaad bied,” het Dolopi gesê.

Ian Cameron, hoof van gemeenskapveiligheid by AfriForum, het hiermee saamgestem. “Ek kan nie genoeg die waarde benadruk wat kultuur en sportaktiwiteite vir kinders bied wat blootgestel word aan bendegeweld nie. Kinders word soms van so jonk soos ses geteiken om deel te word van hierdie soort geweld.”

Cameron het gesê dié burgerregte-organisasie het talle skole al gehelp om veiligheid binne en buite die perseel te assesseer.

“Hierdie kwessie is elke gemeenskap se verantwoordelikheid en die eerste langtermynoplossing is om ʼn skoolveiligheidskomitee op ʼn nasionale vlak te stig wat voorvalle kan bespreek en stappe kan doen om dit te voorkom.”

McFarlane het gesê as die paneel glo dit is geweld in gemeenskappe wat binne die skoolomgewing aangepak word, moet dit dan ook so hanteer word.

“Dit is egter belangrik om nou al ondersteuning aan onderwysers te gee waar hulle in baie moeilike omstandighede moet klas gee. Dit is ook dikwels die armste skole met die minste hulpbronne wat onder die hoogste vlakke van geweld gebuk gaan en dit is juis hierdie onderwysers wat nie by magte is om iets hieraan te doen nie.

“Ek dink dit is belangrik dat alle belanghebbendes, wat die departement van maatskaplike ontwikkeling en selfs gesondheid sou insluit, te betrek by hierdie dringende kwessie.

“Verder moet ons realisties wees oor die tydlyne van die inwerkingstelling van ʼn holistiese benadering as ons dit sou volg, maar ons kan nie die kwessie net los tot die volgende messtekery weer die koerante se hoofopskrifte haal nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Hanna Hoekom ·

As respek en verantwoordelik nie van jongs af by die huis geleer word nie, gaan skole altyd swaarkry! Ouers het die plig om hul kinders op te voed, nie die skool nie. Hierdie generasie se ouers het mos “liberation before education” geskree, dan nie?

John ·

Not to worry… Die VFPlus se nuwe inklussiewe Afrikaanse kantonne gaan die probleem van bendegeweld in buurtes en skole bine ‘n japtrap terugslaan. Gee net alles vir die agtergeblewenes in jul nuwe buurt… studiegeld, betaal hul munisipale rekeninge en maak hulle die skoolhoof en leiers en weg is die probleme. Offer jul Afrikanerharte op vir die nuwe generasie Afrikaanse wonderkinders in Afrika… en dra mildelik by tot die veiligheidsdienste van AfriForum… anders, vat julle goed en loop… soos Zindzi sè… Julle is nie hier welkom nie….

Gert ·

@John: Ek sou graag jou oplossing wil hoor, seker om DA te stem en te verengels.

sweis ·

Dit gebeur nie in ordentlike opgevoede skole nie veral nie die wat lezufi wil afbreek oor sy haat vir afrikaans nie

Markus ·

Ons sal ons eie skole moet bou en moet teruggaan na Christelike skole vir afrikaanse onderrig waar almal wat in afrikaans wil leer en onderneem om gedisiplineerd te wees welkom sal wees en lezufi se sê niks sal wees nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.