Skoonseun gevonnis: ‘Moord was sinneloos en lafhartig’

Stefan Visser Woensdag in die hof. Foto: Phillip Bruwer

Stefan Visser (29), wat in die hooggeregshof in Pretoria skuldig bevind is aan die moord op sy skoonma, past. Elsabe van Niekerk (55), is Vrydag gevonnis.

Die kamerasku Visser was geklee in ʼn netjiese wit kraaghemp en noupassende denimbroek.

Regter Nicolene Janse van Nieuwenhuizen het in haar uitspraak gesê dat sy drie faktore, naamlik die erns van die misdaad, die oortreding en die belange van die gemeenskap, in ag geneem het.

Janse van Nieuwenhuizen het die feit dat Visser van 16-jarige ouderdom af by die oorledene en hul gesin gebly het, genoem asook dat sy in ag neem dat hy twee minderjarige kinders het wat nou die voorreg ontneem word om saam met hul pa groot te word.

Sy het ook in ag geneem dat Leandri Visser, Elsabe se dogter en Visser se eksvrou, tydens haar getuienis ter verswaring Donderdag gesê het Van Niekerk en Visser het steeds ʼn goeie verhouding behou selfs ná Leandri en Stefan se huwelik in September 2015 verbrokkel het.

Regter Janse van Nieuwenhuizen het gesê Visser het twee weergawes van die dag se gebeure aan die hof voorgehou. Volgens die eerste weergawe was hy in die werkswinkel in Gezina, wat aan die oorledene en haar man, Dirk van Niekerk, behoort. Hy het glo een van die werktuigkundiges daar geken en saam met hom ʼn paar biere gedrink. Hy was in die werkswinkel se badkamer toe hy gehoor het hoe Van Niekerk die huis binnekom. Hulle het ʼn woordewisseling gehad en Visser voer aan hy kan nie onthou presies waaroor nie. Van Niekerk het daarna omgedraai en uitgeloop waarna hy agter haar aangeloop en haar toe gesteek het. Sy het om hulp geroep en die buurman het gesien wat gebeur. Visser het daarna ʼn klapmus en handskoene aangetrek en voortgegaan met die aanval.

Die mes wat hy gebruik het, het ook ʼn “knucle duster” gehad. “Ek het die mes op die bakkie gegooi en weggery met die motorfiets. Ek het geval met die motorfiets op pad na my meisie se huis in Kilnerpark. Ek het nie sleutels vir die huis by my gehad nie en het oor die muur gespring en ʼn graaf gebruik om die venster te breek. Al my klere was vol bloed. Ek het ʼn handdoek gebruik om die bloeding op my voet en arm [van die motorfietsval] stop te sit. Ek het skoon klere aangetrek en weer deur die venster gespring,” het Visser in sy aanvanklike verklaring gesê.

Visser het hierna die bebloede klere in ʼn klein braaier gegooi en dit verbrand voor hy weer oor die muur gespring en na die meisie se ouma se huis gery het waar hy in hegtenis geneem is.

Die tweede weergawe in sy pleitverduideliking dui aan dat hy in die badkamer was toe hy die oorledene hoor inkom het. Hulle het begin gesels oor die egskeiding. Hulle het glo op mekaar begin skree en die oorledene het hom met haar handsak en met die vuis op die bors geslaan. Hy het haar toe met die mes begin steek.

“Die wyse waarop die beskuldigde hierdie weerlose ouer vrou met absolute brutale geweld vermoor het, is grusaam,” het Janse van Niewenhuizen gesê. Die hof het gru-besonderhede van die nadoodse verslag gehoor.

Van Niekerk het 12 steekwonde aan haar kop en skouer gehad. Dit was so ernstig dat haar neus heel geamputeer is. Haar bors het nege ernstige, diep steekwonde gehad, haar regterarm vier steekwonde en haar linkerarm 15. Van die snye was baie diep en weefsel-, spier, en vaskulêre skade is aangerig. “Haar liggaam is as’t ware oopgeruk deur die 40 wonde. Die inhoud van die verslag bring nie die gewelddadigheid van die aanval na vore nie, die foto’s wel,” het Janse van Nieuwenhuizen gesê.

“Ek neem in ag dat jy 29 jaar oud en dus relatief jonk is, dat jy ʼn eerste oortreder en ʼn pa vir twee minderjarige kinders is. Die enigste rede vir die aanval wat jy meld, is woede sonder verdere verduideliking, dit is sinneloos en lafhartig,” het Janse van Nieuwenhuizen gesê.

Sy het aangedui die wet bepaal ʼn minimum vonnis van 15 jaar wat verminder of vermeerder kan word op grond van die verswarende en versagtende getuienis wat voor die hof gelewer is.

Maroela Media het vroeër berig Visser wou nie self getuig ter versagting van sy vonnis nie ten spyte van die feit dat adv. Philip van Staden, Visser se regsverteenwoordiger, aan hom verduidelik het dit sou tot sy voordeel wees.

“Die hof voel die moord op hierdie ouma, ma en eggenoot helder oordag, wat selfs ná die buurman foto’s begin neem het net onverpoos voortgesit is, getuig van ʼn gebrek aan meegevoel en respek vir jou medemens. Ek vonnis jou tot 25 jaar direkte tronkstraf.”

ʼn Bewoë Dirk van Niekerk het aan Maroela Media gesê dat hy tevrede is met die vonnis en dat hy verlig is die saak is nou verby. Leandri Visser het gesê hul familie het gehoop vir 30 jaar tronkstraf soos die staat versoek het. “Ons is egter bly dis lank. Ek voel tevrede, ek weet net nie hoe ek môre gaan voel nie,” het Visser gesê.

Lees alle vorige berigte oor die Moot-moord op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Voorlaaier ·

Dis rof!!….Ek was in di gevangenis gewees en ouens wat lewens lank gevonnis is kon al na 18 jaar aansoek doen vir parool…25 DIREKTE tronkstraf beteken hy sal eers na 25 jaar kan aansoek doen vir parool. Dan is hy al 54….

Piet ·

Ek dink as jy meen jy was in die gevangenis, meen jy dat jy daar gewerk het. Ek was binne in die gavangenis, as jy verstaan wat ek bedoel……. Nie ‘n lekker plek nie, maar as jy ‘n misdadiger is hoort jy daar.

Voorlaaier ·

Piet ongelukkig was ek ook aan die verkeerde kant van die tralies…..
Stem saam met jou.Dit is nie i lekker plek nie….Nogtans kry ek hom jammer…Ek het darem i 2 de kans gekry. Die ou se lewe gaan verby wees wanneer hy uitkom. Hy gaan die res van sy lewe daarvoor betaal.Ek is nu al 2 jaar uit en ek sukkel nog steeds om op my voete te kom. Sukkel om werk te kry( Ek het 2 grade) Orals word di deure in my gesig toegemaak. Jy word nog steeds soos i krimineel behandel. My oortreding was belasting bedrog. Die enigste persoon wat ek blameer is myself. Ek het gebuig voor Mammon.
Baie mense sal vra hoekom ek hom jammer kry. My andwoord is ek het soveel suksesvolle manne gesien wat net op die ingewing van die oomblik kop verloor het en nou betaal hulle vir die res van hulle lewe vir die paar sekondes…Maak dit hulle i misdadiger?.In my oe nee.
Nie almal hanteer i situasie dieselfde nie. My selmaat was die sukses volle eienaar van 2 spar winkels in die Vrystaat. Op die ingewing van die oomblik het hy 2 mense geskiet. Hy het net gesnap toe hy sy vrou en haar” lover” in hulle slaapkamer betrap. Nou sit hy lewens lank.
Maar ek stem saam.Party manne word krimineel gebore. Hy gaan keer op keer terug tronk toe..Sluit hulle toe en gooi die sleutel weg.

Wee ·

Voorlaaier. Wee die een wat sleg goed maak en goed sleg, wat duisternis lig maak en lig duisternis, wat bitter soet maak en soet bitter! Jesaja 5: 20 Gaan lees sommer die hele Jesaja 5.

anton ·

Voorlaaier, ek hoor en verstaan wat jy sê.
Ek het baie jare gelede daar gewerk en ja dit is nie n lekker plek nie en ek dink dit is vandag 10 maal erger daar.
Troos jou daaraan dat daar baie mense vandag is wat nie eers in die tronk was, of n oortreding begaan het, wat ook nie werk kan kry nie net omrede hulle verkeerde velkleur het!!!

Voorlaaier ·

Wee.. Ek was een wat altyd verby tronke gery het en gou gou om te se ” Kry vir julle en gou sommer die sleutel weg”!…Tot ek self aan die ander kant van die tralies beland het..Ek praat glad nie almal se dade goed nie. Jy kry kriminele en dan kry jy KRIMENELE!!….Ek was 7 jaar daar en het baie goeie en slegte manne gesien..Soos ek voorheen gese het party manne is gebore vir die tronk..Hulle hele denkwyse is krimineel. Hulle kan nie ge rehabiliteer word nie…Dan kry jy di manne wat net vir i breukdeel van i sekonde kop verloor het en hy sit in die tronk as gevolg van dit….Suksesvolle manne met gesinne en drome.. Nie een van ons weet wat daardie man se geestes toestand was toe ” die popo die fan strike” nie…Ek dink i goeie voorbeeld is pad woede…Jy snap net..Ek staan by my punt. In my oe het hy die wet oortree. Ja.en hy betaal die prys. Soms lewenlank. Maar is hy i krimineel?….My andwoord is nee.

J. Louw ·

Sommige mense soek net ‘n slaapplek en kos sonder om daarvoor te betaal en waar hierdie gesin al die jare in hierdie behoefte van hom voorsien het, vervul die korrektiewe dienste nou hierdie funksie vir hom. As hy vrygelaat sou word sal hy net eenvoudig ‘n ander gasheer soek om op te teer en bewaar die een se siel wat met hom swaarde kruis. Ek hoop Mnr. van Niekerk en almal wat deur sy dade skade gely het hervat en herbou hul lewens anders gaan hy nie net een slagoffer hê nie….. Glo my daar is weer lig in die donker tonnel al lyk dit nie nou so nie. Gee julle siele nou ‘n kans om te genees deur hom vir eens en altyd uit jul gedagtes en lewens te kry. Bid vir krag en genesing vir julle.

Theresa ·

Dis is wat elke plaasmoord se moordenaar moet kry. Wonder wat verhef hul bo so ‘n vonnis.

Te Min ·

Hierdie man moes lewenslank gekry het sonder parool, want hy het haar aanhou steek met die mes nadat hy gesien het die buurman neem ‘n video van hom.

Ai tog ·

Ai tog “te min” as jy te min weet, los eers komentaar of google eers. Lewenslank is 25 jaar en direkte tronkstraf beteken die hele 25 /lewenslank voor daar na parool gekyk kan word. Hy is swaar gestraf, gaan lees wanneer laas was daar so harde straf – ander kry meer jare maar samelopend en die term direkte tronkstraf weggelaat, so hul sit net n paar jaar en dan parool hulle, hy kan nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.