Só lyk plaasaanvalle in afgelope jaar

Die groep op pad na die Uniegebou (26 April 2017). Foto: Rozier van Tonder

“As die frekwensie van plaasaanval- en plaasmoordvoorvalle deur die 2017-kalenderjaar dieselfde bly, blyk dit dat die syfers weer gaan toeneem.”

Dít is een van die kommerwekkende stellings wat in die AfriForum Navorsingsinstituut (ANI) se verslag oor die plaasmoord- en plaasaanvalstatistieke vir die finansiële jaar van 2016-’17 gemaak word. Die statistieke is Woensdag bekendgestel.

AfriForum het vandag met ’n konvooi na die Uniegebou gery waar ’n petisie met 175 000 name teen plaasmoorde aan die presidensie oorhandig is.

Die getal bevestigde plaasaanvalle vir die tydperk 2016-’17 is 357 en die getal plaasmoorde ’n kommerwekkende 74. Die ANI het verduidelik die data is ingesamel deur gebruik te maak van verskeie bronne, onder meer die Suid-Afrikaanse media, inligting op sosiale media, rapportering van voorvalle aan veiligheidsnetwerke, asook slagoffers of families van slagoffers wat die voorvalle by AfriForum aanmeld.

“Voorvalle word geverifieer en die feite daarvan word bevestig. Daar is egter voorvalle van plaasaanvalle waarvan daar nie kennis gedra word nie. Vir die rede word die plaasaanvalstatistiek as konserwatief beskou en is die syfers onderhewig aan verandering,” lui die verslag.

Die tydperk vir die syfers van plaasaanvalle en -moorde is van kalenderjaar na finansiële jaar verander sodat dit met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se jaarlikse misdaadstatistiekeverslag vergelyk kan word.

Toename in plaasmoorde

Die jongste statistieke toon dat 357 plaasaanvalle in die 2016-’17-finansiële jaar voorgekom het, teenoor 446 in 2015-’16. Hoewel daar ʼn daling in plaasaanvalle aangeteken is, was daar egter ʼn drastiese toename in plaasmoorde van 49 in 2015-’16 tot 74 in 2016-’17.

In 2014-’15 is 60 plaasmoorde en 490 plaasaanvalle aangeteken en in 2013-’14 is 57 plaasmoorde en 517 plaasaanvalle aangeteken.

Volgens die ANI se ontleding van die statistieke is Gauteng die provinsie waar die meeste plaasaanvalle en plaasmoorde in 2016-’17 voorgekom het.

Grafika: AfriForum Navorsingsinstituut

Altesaam 21 plaasmoorde het in Gauteng voorgekom, asook 22,8% van die plaasaanvalle dié jaar. Twaalf plaasmoorde het in Mpumalanga plaasgevind, gevolg deur 11 plaasmoorde in KwaZulu-Natal, 9 in Noordwes, 8 in Limpopo, 6 in die Vrystaat, 3 in die Oos-Kaap, 3 in die Wes-Kaap en 1 in die Noord-Kaap.

Die Vrystaat het die tweede meeste plaasaanvalle vir die jaar beleef (15,7%), gevolg deur Mpumalanga (14,8%), Noordwes (14,8%), Limpopo (13,4%) en KwaZulu-Natal (10,1%). Die minste plaasaanvalle het in die Noord-Kaap voorgekom (1,1%).

Die ANI het ook ʼn onderskeid getref tussen aanvalle wat op plase voorgekom het teenoor aanvalle op kleinhoewes. Altesaam 71,1% van die aanvalle het op plase gebeur, teenoor 28,9% van die aanvalle op kleinhoewes.

In Gauteng het 17 van die moorde op kleinhoewes plaasgevind, teenoor vier moorde op plase. In KwaZulu-Natal het al 11 moorde in die provinsie op plase gebeur. Van die 12 moorde in Mpumalanga het tien op plase plaasgevind en twee op kleinhoewes. In Noordwes is vier moorde op plase aangeteken en vyf op kleinhoewes.

Aanvalle meestal oor naweke

In die 357 voorvalle wat die afgelope jaar aangeteken is, was daar meer as 553 slagoffers betrokke. Die gemiddelde aantal slagoffers per aanval is vier, terwyl die gemiddelde ouderdom van slagoffers 55 jaar is. In 62% van die gevalle is slagoffers wat 51 jaar en ouer is aangeval.

In 40% van die gevalle was slagoffers tussen 51 jaar en 70 jaar oud en in 22% van die gevalle was die slagoffers ouer as 70 jaar. Slagoffers tussen die ouderdomme van 21 en 50 jaar maak 25% van die totale slagoffers uit.

Die statistieke toon dat die meeste plaasaanvalle wel oor naweke gebeur. Die meeste van die aanvalle het op ʼn Saterdag gebeur (17,6%), gevolg deur Sondag (15,9%) en Vrydag (15,1%). Altesaam 14,5% van die aanvalle het op ʼn Donderdag gebeur.

Grafika: AfriForum Navorsingsinstituut

Die meeste van die plaasaanvalle het ná donker gebeur. In 36% van die gevalle het die aanvallers tussen middernag en 06:00 die oggend toegeslaan. In 34% van die gevalle het die aanvalle tussen 18:00 en middernag gebeur. Altesaam 16% van die gevalle het in die oggende plaasgevind en 14% van die aanvalle in die middae.

Daar is tydens 19% van die voorvalle aangemeld dat wapens en ammunisie by slagoffers geroof is, terwyl die slagoffer se voertuig in 24% van die gevalle as wegkommotor gebruik is. In 31% van die plaasaanvalle is daar op die slagoffers geskiet of ʼn daadwerklike poging aangewend om die slagoffer(s) te vermoor

In vier gevalle is ’n slagoffer tydens die aanval ontvoer en elders vrygelaat of vermoor. Daar is in ses gevalle bekendgemaak dat ʼn vrou tydens die aanval verkrag is. Die ANI meen dié syfer kan egter hoër wees omdat hierdie sensitiewe inligting dikwels van die publiek weerhou word. In 13 voorvalle het marteling voorgekom waar slagoffers onder meer met strykysters gebrand, gewurg en selfs met ʼn elektriese boor gemartel is.

Slagoffers en/of familie van slagoffers van plaasaanvalle word aangemoedig om voorvalle by [email protected] of [email protected] aan te meld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Vryheid ·

Die regering sal niks doen nie hulle voel niks vir die boer. Ons staan in hulle pad vir al hul planne. Beskerm jouself doen wat nodig is om jouself veilig te hou. Dit is n mors van energie om te betoog hulle lag dit af.

johann brits ·

Hoe gewoond het ons geword aan sulke verskriklike gebeurtenisse.’Net een vandag of die week’ en die gevolge vir daardie familie,die ontwrigting,pyn en smart gaan verby tot móre.Ons het nie woorde in ons woordeskat om dit te beskrywe nie.Sê nou net ek moes met ‘n week met elkeen se pyn loop?

kobus ·

Miskien moet ons ook begin om die oorteders se woongebiede en besighede te plunder en af te brand. Maak nie saak vanwaar hulle kom nie, die dorp waa dit gebeur, plunder en brand af. Ons moet tot op hulle vlak daal sodat hulle verstaan

Johannes Meintjes ·

Wat rig ons konstruktief uit met die sensitiewe inligting?

Nita ·

En geagte minister van polisie Mnr F..kle Mbalula het alle ander misdade, behalwe plaasmoorde, genoem in sy misdaadbekampings toespraak!!!

kerneels ·

En Steve lei die trop. Kry die man tog daar weg – hy gee voortdurend ‘n eensydige en onrealistiese boodskap. Dis soos om te vergeet van al die ellende, moord en verkragtings in die swart woonbuurte en op swart plase. Ek verstaan mooi, ek onderspeel geensins die erns van plaasmoorde nie! Kry tog net rolspelers wat nie nog verdere verdeeldheid in die land aanwakker nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.