Soektog duur voort ná meisie (7) in see verdwyn

Louise Fowler is Vrydagmiddag by ʼn strand in Bettiesbaai deur golwe van die rotse afgeslaan. Foto: Facebook

ʼn Sewejarige meisie word steeds vermis nadat sy Vrydagmiddag by ʼn strand in Bettiesbaai, oos van Kaapstad, deur golwe van die rotse afgeslaan is.

Greenfield Girls Primary School in Kenilworth het bevestig die meisie is Louise Fowler, ʼn graad 1-leerder by die skool. Louise was saam met haar ma toe die voorval gebeur het.

Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), het Sondagoggend aan Maroela Media gesê die soektog na die kind duur steeds voort. “Daar word vermoed dat sy verdrink het, maar niks kan amptelik bevestig word totdat die soektog iets oplewer nie,” het hy gesê.

Die NSRI het Saterdag in ʼn verklaring gesê ʼn soektog is onmiddellik van stapel gestuur nadat Louise in die water beland het. ʼn Uitgebreide soektog word in die see en al langs die kuslyn gedoen. Tot dusver is daar nog geen teken van Louise nie, maar daar is wel van haar klere in die water gevind. Die NSRI het gesê die seetoestande was Saterdag baie rof.

Volgens Lambinon word die soektog deur die polisie se duikeenheid behartig, bygestaan deur die NSRI.

Greenfield Girls Primary School het Sondag in ʼn inskrywing op die skool se amptelike Facebook-blad hul medelye met Louise se familie uitgespreek. “Die verlies van ʼn kind is onbeskryflik. Mag die kosbare herinneringe wat [Louise se familie] van haar het, hulle deur hierdie routydperk dra en mag God hulle seën en langs hulle loop. Louise was vir ʼn té kort tydjie by ons, maar wat ʼn liefling. Ons gedagtes is by haar onderwysers en klasmaats in hierdie moeilike tyd.”

Lt.kol. Andrè Traut, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media bevestig die soektog duur nog voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Wim ·

Ai. Hoe verskriklik hartseer. Sterke aan haar familie en almal wat haar ken.

Ada ·

Ek hoop net dat diepragtige blommetjie lewend gevind sal word al is die kanse skraal.Sterkte.

Pippa ·

Mag jy veilig aan jou geliefdes terugbesorg word pragtige poplap xxxx

Hannelie ·

Sterkte aan haar familie. Ek kan my nie indink hoe haar ouers moet voel nie.

Antie ·

Hoe hartseer my hart en gebede gaan uit na die ou kleinding se familie, Sterke aan julle.

What a joke. ·

Ag liewe Vader….so sterkte aan familie…my hart baie seer vir jul verlies…Ai genade…

Deon ·

Ek kan glo sulke goed gebeur!!! Ouers is treurig, kyk nie na hulle kinders!! Mens is te bang om iewers te gaan waar kinders is, want daar is geen dissipline of dit lyk vir my sekere ouers het net nie algemene kennis om te besef dat sekere goed gevaarlik is nie!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.