Solidariteit nader hof oor regskostes van SAUK8-saak

Anton van der Bijl, hoof van Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke, Foeta Krige, Suna Venter, Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, en Jacques Steenkamp. Foto: Reint Dykema

Anton van der Bijl, hoof van Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke, Foeta Krige, Suna Venter, Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, en Jacques Steenkamp. Foto: Reint Dykema

Die vakbond Solidariteit het vandag die hof versoek om die argument aan tehoor oor wie vir die koste van die hofsaak tussen die SAUK en die vier joernaliste wat in ʼn omstrede besluit van die uitsaaier afgedank is, aanspreeklik gehou moet word.

Solidariteit het in ʼn verklaring gesê die aansoek is gedoen ingevolge die hofbevel op 26 Julie vanjaar deur regter Rob Lagrange, wat beveel het dat enige party na afloop van 20 dae na die uitspraak by die hof kan aansoek doen om die aanspreeklikheid te bepaal.

Volgens Anton van der Bijl, hoof van Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke, het die oorspronklike verklaring wat die beamptes van die SAUK ingedien het oor waarom hulle nie vir die koste aanspreeklik gehou moet word nie, slegs vae bewerings bevat. “Die SAUK het geensins bewyse voor die hof geplaas ten opsigte van wie vir Solidariteit en die SAUK-8 se regskoste verantwoordelik gehou moet word nie,” het Van der Bijl gesê.

“Ons het die hof genader om formeel te besluit wie aanspreeklik gehou moet word vir die onnodige koste wat aangegaan is vir die saak. Ons sal en kan nie die saak hier los nie en diegene wat die besluit geneem het en deel was van die besluit om die individue af te dank, moet elke sent hiervan betaal. Die belastingbetaler kan eenvoudig nie vir die SAUK se onwettige optrede aanspreeklik gehou word nie,” het Van der Bijl verduidelik.

Solidariteit het die arbeidshof in Julie genader om Foeta Krige, Suna Venter, Krivani Pillay en Jacques Steenkamp se afdankings by die SAUK tersyde te stel. Hulle is deel van ʼn groep van agt joernaliste wat in die tyd deur die uitsaaier afgedank is en wie se afdankings glo met die SAUK se omstrede verbod op die uitsaai van gewelddadige betogings verband hou.

Sewe van die joernaliste is intussen weer in hul poste by die SAUK aangestel.

Lees alle vorige berigte oor die SAUK8 op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Chris Ws ·

Dis reg Solidariteit , looi hulle ordentlik!Ek vertrou die regter sal die regte bevel uitreik en hul reg tot appe’l daarteen summier weier ook.Dis hoogtyd dat ongeletterdes en onbevoegdes in bestuur posisies hard in die bek geruk word.

Anoniem ·

Solidariteit, julle is soos ‘n bulhond. As julle eers vasgebyt het, los julle nie weer totdat julle DEURgebyt het nie. Ons hou hierdie saak met groot belangstelling dop. Dis mos maklik om te maak en breek as jy die nie gevolge aan jou eie bas voel nie – as die SAUK se dwase persoonlik die hofonkoste moet betaal, sal andere hopelik twee keer dink voordat hulle soortgelyke dwaashede aanvang.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.