Streng waterbeperkings vir NMB ingestel

Argieffoto

Argieffoto

Inwoners van Nelson Mandelabaai sal hul watergebruik met minstens 15% moet verminder nadat dit aan die lig gekom het dat die metro ongeveer 60 miljoen liter water meer as die daaglikse limiet gebruik.

Gedurende ʼn raadsitting Woensdag het die metro die implementering van streng waterbeperkings met onmiddellike effek goedgekeur.

Annette Lovemore, burgemeesterskomiteelid vir infrastruktuur en ingenieurswese, het gesê praktiese stappe moet gedoen word om iets te doen aan die Baai se watertekort. “Die minister van water en sanitasie het in April vanjaar ʼn kennisgewing gepubliseer waarin ons aangesê word om ons waterverbruik met 15% te verminder. Die kennisgewing is eers gepubliseer nadat sy en haar departement met die metro onderhandel het en gemaan het dat die watergebruik verminder word sonder dat sy ʼn regskennisgewing hoef te publiseer oor die aangeleentheid,” het Lovemore gesê.

Inwoners van Nelson Mandelabaai sal nie toegelaat word om tuinslange te gebruik om hul tuine nat te lei of hul motors te was nie. Hulle word ook versoek om die watergebruik in hul huise te verminder. Sakeondernemings en veral groot watergebruikers word aangemoedig om ʼn voorbeeld vir die res te stel, het Lovemore gesê.

“Indien die watergebruik nie binne die volgende twee maande met 15% verminder nie, sal die raad noodgedwonge strafmaatreëls moet oorweeg. Dit kan hoër watertariewe vir gebruik bo ʼn sekere vlak insluit en die vereiste dat watertenks by alle nuwe huise geïnstalleer moet word.”

Sy het gesê die munisipaliteit het ook ernstige probleme met waterverliese en sal ʼn langtermyn- en meerdoelige oplossing vir die probleem moet implementeer. “Die besonderhede van ons strategie sal binne die volgende twee weke bekendgemaak word. Daar is reeds geadverteer vir tien addisionele loodgieters se dienste,” het Lovemore gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Grap ·

Gelukkig is is daar nou mense aan stuur van sake wat weet wat hulle doen so die mense van Nelson Mandela baai is in goeie hande.

Berhalet Beukes ·

Dink wat mense wat geheel en al sonder water sit met 60 miljoen liter ‘n dag kan maak! Sies, wat ‘n skande!

Rupert Ashford ·

O aarde hoe goed begin die nuwe besems. Dit is vir almal se beswil maar dit is afskop met iets negatief. Wonder wat dink die kiesers…

Alida ·

Rupert is Rome in een dag gebou? Die DA moet eers skoonmaak en regmaak wat die ANC verbrou het. Gee hulle kans asb.

Cherokee ·

Daar skiet ‘n tekort aan die kennisgewing en dit is in die Port Elizabeth’ers se hande om dit op te volg. Wat te kort skiet is ‘n erkenning deur die munisipaliteit oor hoe groot persentasie van die waterverlies is te wyte aan waterlekke vanuit munisipale toevoer. Ek woon in Durban en die munisipaliteit het erken dat miljoene rande se water word vermors deur waterlekke in die munisipale sisteem. Vra in ‘n lokale Gazette of een of ander lokale koerant aan die munisipaliteit hoeveel water word vermors deur gebrekkige toevoer en wat beoog word om daaraan gedoen te word.

lynette ·

Nou wat is so negatief Rupert en Cherokee? Daar word iets omtrent die probleem gedoen en daar is werkskepping vir 10 ekstra loodgieters. In die verlede is niks op instandhouding en regstelling spandeer. Dus wys dit vooruitgang.

Cherokee ·

Jy vat ‘n kans, Lynette. Ervaring in Durban is dat Ethekweni selfs na ‘n erkenning van groot waterverliese deur lekplekke waarvoor hulself verantwoordelik is, verwag hulle steeds dat die inwoners streng waterbeheer moet toepas sonder om te sê wat húlle by die munisipaliteit doen om hul kant skoon te kry. Ondernemings moet van albei kante af wees en om slegs te sê dat 10 meer loodgieters aangestel is sonder om te sê wat die loodgieters gaan doen, is halwe inligting. Die munisipaliteit moet self ‘n voorbeeld stel anders word watergebruikers negatief ingestel.

Spikkel ·

Maak net al die lekplekke reg en bring die instanthouding op datum en die probleem is opgelos. Gelukkig is daar nou mense aan die stuur wat iets daaraan kan doen.

KarooKlong ·

Jare lank is dit apartheid se skuld.
Jare lank het die anc gesê dit is probleme wat hulle geerf het. Gee ten minste die DA ook nou ‘n jarelange kans.

Wat-ek-lees ·

GEbruik ons water of VERbruik ons water? Hoe lyk dit Maroela?

wondermaarnet ·

Ek verstaan nou nie. Wat gaan dit help om die koste aan water te verhoog? Dit gaan nie die water meer maak nie. Dit gaan ook nie maak dat daar meer reen val nie. Dit gaan net maak dat die mense wat reeds swaar kry daar onder lei. Die mense wat dit kan bekostig gaan net sug en dan maar meer betaal vir die water wat hulle gebruik. As mense krag steel, dan gaan hulle water ook begin steel. Volgende werld oorlog gaan wees oor water.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.