‘Swartlys Nkandla-maatskappye’

Pres. Jacob Zuma se privaat woning in Nkandla, KwaZulu-Natal Foto: @power987news, Twitter

Mmusi Maimane, leier van die DA, sê geen van die 14 maatskappye betrokke by die opgraderings aan pres. Jacob Zuma se Nkandla-huis, is op ’n swartlys geplaas nie.

“Die minister van openbare werke, Nathi Nhleko, het onthul dat agt van die 14 maatskappye wat gekontrakteer is om die berugte opgraderings aan Zuma se Nkandla-huis uit te voer, sedertdien deur die departement gehuur is om ander werk te verrig, ondanks hul betrokkenheid by die R250 miljoen-skandaal,” het Maimane gesê.

Die DA het gesê hy sal die Nasionale Tesourie versoek om dadelik in te gryp en te assesseer of enige van die betrokke maatskappye enige beleide of regulasies oortree het.

Volgens Maimane het die minister van openbare werke in ’n antwoord op ’n geskrewe parlementêre vraag van die DA bevestig dat agt maatskappye – wat by die Nkandla-opgraderings betrokke was – vanaf 1 Augustus 2014 tot op datum weer deur die departement gekontrakteer is.

Maimane het gesê Nhleko het ook bevestig dat nie een van die maatskappye op ’n swartlys geplaas is nie.

“Ons is vasbeslote dat enige maatskappy of individu wat onnodig voordeel trek uit werk by Nkandla op die swartlys moet wees en aanspreeklik gehou moet word vir hul optrede,” het Maimane gesê. “Ek sal dus skriftelike vrae aan die minister voorlê om ‘n verduideliking vir die voorgestelde nuwe opgraderings by Nkandla te versoek.”

In reaksie op mediaberigte wat oor die naweek verskyn het, het die presidensie Sondag heftig ontken dat daar enige verdere opknappings op belastingbetalers se onkoste by Nkandla plaasgevind het.

“Ek wil dit weer duidelik maak dat die DA enige nuwe of verdere opgraderings aan die president se Nkandla-huis sal verwerp, ongeag hoe dit deur die nasionale regering beskryf of gekategoriseer word.”

Hy het gesê korrupsie “is ’n euwel” wat die elite verryk ten koste van armes en werkloses. “Die DA sal nie ophou totdat almal wat betrokke is by korrupsie en enige misbruik van openbare fondse verantwoordbaar gehou word nie,” het Maimane gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Betogings ·

Laat die DA net vir ‘n wyle sy vervolgingswaansin agterweë laat en sien dat daar stabiliteit by die Betogings in Noordwes kom, hel elke saak het sy meriete en die plundery weeg sekerlik nou swaarder

MCH ·

Dis die SAPS se werk om die geweld te stop en burgers te beskerm, nie die DA nie. Hopelik het die benadeeldes versekering. Skade met onluste, R20m? Staaskasstropery R30biljoen per jaar. DA se jag op die kwessie kan nouliks as vervolgingswaansin kwalifiseer.

Anoniem ·

Volgens die Preferential Procurement Policy Frameword Act (PPPFA) moes die werk aan die beste tenderaar toegeken word. Dinge soos hoë kwaliteit vakmanskap, track record, prys en BEE status sou bepaal wie is die “beste” tenderaar. Duidelik was hierdie proses nie deursigtig nie. Ek sou dus dink die persoon(e) wat die tenders toegeken het, het die PPPFA oortree. Miskien is hierdie persoon(e) omgekoop om die tenders aan spesifieke diensverskaffers toe te ken? Of Die persoon(e) het dalk gereël vir ‘n kickback indien hulle die tenders aan spesifieke diensverskaffers toeken?

Ek weet nie wat was die presiese aard van die konkelwerk nie, maar die PPPFA is beslis oortree.

As daar alreeds opknappingswerk nodig is by Nkandla, was hierdie diensverskaffers se diens duidelik nie van hoë gehalte nie, en moes hulle in elk geval nooit die tenders gekry het nie.

cor ·

Al hierdie tenderaars het politieke bande, hetsy direkte familie of aangelaste familie en vriende in hoe kringe en die een krap die ander een se rug. Hulle kan nooit op n swartlys kom nie want daar is geen vaste adresse nie en nog minder kan die verandwoordelike persone in openbare werke optree want hulle is net so diep in die sakke van die tenderaars. So sterkte DA Thuli het dinge uitgewys en dit is geignoreer. Dit is maar net n kwessie van tyd dan is die bodemlose put leeg gesuig asg. rommel status.

Reageer ·

MC, die DA is die jongste tyd slegs ingestel op ‘n heksejagtery, hulle sit behoorlik en visvang om te sien wie hulle volgende aan die hoek kan hak en hof toe kan sleep, ek sê nie hierdie saak moet ongedaan gelaat word nie, maar ou kan geen lewensverlies met rand en sent meet nie “never”

coen ·

Ek dink Zuma en kie kan nie die land regeer nie, nou moet die D.A. dit met die hulp van die reg (howe) doen.As die D.A dit nie doen nie sal al die ongeregtighede ongestraf verbygaan.

Johann Marx ·

Ek’t nog heeltyd gedink dit NET maatskappy wat op ‘n “swart lys” is wat al die kontrakte kry?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.