Swendelaars vas ná hul glo pensioentrekker, talle ander bedrieg

Die geld wat deur die polisie gevind is (Foto: Verskaf)

Drie vermeende swendelaars is Vrydag in hegtenis geneem nadat die Humewood-polisie in Port-Elizabeth in die Oos-Kaap beslag gelê het op gesteelde kontant van meer as R1 miljoen.

Kapt. Sandra Janse van Rensburg, woordvoerder van die polisie, sê die 40-jarige Suid-Afrikaanse vrou en twee buitelanders, albei vermoedelik 31 jaar oud, is tans in polisie-aanhouding.

Volgens Janse van Rensburg het die eienaar van ʼn plaaslike besigheid in Port-Elizabeth onraad gemerk toe die drie verdagtes in haar winkel was, waarna sy die polisie in kennis gestel het deur die noodknoppie in die winkel te druk.

Met die aankoms van die polisie het hulle die drie verdagtes gekonfronteer, waarna hulle beslag gelê het op meer as R1 miljoen in die verdagtes se motor.

Janse van Rensburg sê die verdagtes het glo sowat R800 000 deur middel van bedrog van ʼn pensioentrekker gesteel. Die pensioentrekker is vermoedelik oortuig dat sy haar geld belê en dat sy goeie rente daaruit sou verdien.

Sy sê die verdagtes kan waarskynlik verbind word met ʼn bedrogsindikaat wat glo in Oos-Londen bedryf het.

Al die verdagtes sal Maandag in die hof verskyn op aanklag van bedrog en diefstal.

Intussen het die polisie ʼn waarskuwing uitgereik aan bejaardes wat moontlik groot bedrae geld wil onttrek uit hul pensioen- of spaarfondse.

“Jy moet altyd jou geld belê deur middel van ʼn bank of ʼn geloofwaardige instansie. Die swendelaars slaag keer op keer daarin om veral ouer mense om te praat en hul geld te steel. Hulle is baie oortuigend,” sê sy.

Die geld wat deur die polisie gevind is (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Cherokee ·

Maroela, ag tog, julle kan gerus probeer om meer vertellend te wees. Lees nou jul eie storie oor die eienaar van ‘n plaaslike besigheid in Port Elizabeth wat onraad vermoed het en noodknoppie gedruk het omdat ‘verdagtes’ in haar winkel was? Verdomp! Dit blyk dat sy reg was maar daar, presiès daar stop julle. Wàt het haar attent gemaak? Wat het haar laat vermoed of bewus gemaak dat iets nie lekker is nie? Jul storie breek daar kompleet af. As ek proefleser was, sou ek die berig terug gestuur het aan die berigskrywer.

Daan ·

Ag ou Cherokee,gebruik jou verbeelding man.Haar winkel was R500 000 werd toe bied hulle haar R800 000 aan en hulle het 2 kratte dieetkoeldrank gekoop omdat hulle gewig wou verloor.Toe sê hulle sy moet al die geld in die geldkas vir hulle gee en sy antwoord: “To take away?”Dis mos toe sy die knoppie druk.

Cherokee ·

Dankie Daan…. het jou raad probeer maar ek het ‘n wye verbeeldingsveld. Baie wyer as wat 2 kratte dieetkoeldrank sou kon hanteer. Toe ek sien hoeveel opsies daar is en hoeveel dieet koeldrank nodig is om met jou raad saam te stem het ek weer besluit ek is reg..

Daan ·

Maroela,waar is my kommentaar?Ek wil net wys hoe eenvoudig sommige mense is.

Justice ·

Ek vertrou dat die pensioentrekker elke sent van haar R800k sal kan terug kry. Welgedaan aan die eienaar van die besigheid en die daaropvolgende aksie van die SAP.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.