Talle ontslaan ná passasierstreine bots

Twee treine het tussen Pretoria en Johannesburg gebots. Foto: @EMER_G_MED /Twitter

Twee treine het tussen Pretoria en Johannesburg gebots. Foto: @EMER_G_MED /Twitter

Altesaam 177 van die 243 mense wat Maandagmiddag beseer is toe twee passasierstreine tussen Pretoria en Johannesburg gebots het, is reeds uit die onderskeie hospitale ontslaan waarheen hulle ná die botsing geneem is.

Lillian Mofokeng, woordvoerder van Metrorail in Gauteng, het Dinsdag gesê die 177 mense is reeds teen Maandagaand ontslaan nadat die treine omstreeks 12:50 tussen die Kaalfontein- en Tembisa-treinstasie reg van voor gebots het. Een persoon is in die botsing dood.

“Altesaam 66 mense is steeds in verskeie hospitale vir waarneming of word daar behandel. Hulle sal na veragting binnekort ontslaan word,” het sy gesê.

Mofokeng het gesê ʼn voorlopige ondersoek dui daarop dat ʼn menslike fout die oorsaak van die botsing was toe een van die treine glo ʼn gevaarteken verontagsaam het.

ʼn Volledige ondersoek na die oorsaak van die ongeluk is deur die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) en die spoorveiligheidsreguleerder van stapel gestuur.

ʼn Saak van strafbare manslag word deur die Tembisa-polisie ondersoek.

Skade aan die spoorlyn is herstel en dienste op die spoorlyn is weer in werking.

Die oorledene se naam is nog nie bekend gemaak nie.

“Die ongeluk en die verlies van ʼn lewe is betreurenswaardig en ons spreek ons innige medelye uit teenoor die familie van die oorledene. Metrorail en die Prasa-bestuur wens die beseerdes ʼn spoedige herstel toe,” het Mofokeng gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JK ·

Vra enige ex treindrywer wat hier gebeur het en hulle sal jou presies vertel

jennefer ·

jammer genoeg is dit nie die skuldiges wat ontslaan is nie, maar die beseerdes uit die hospitaal

Irene Myburgh ·

Ek wonder maar net die GVB (gesentraliseerde verkeer beheer) wat het van dit geword, ‘n mens kon tog daar sien waar al die treine beweeg in ‘n sekere omgewing. En ja die treindrywer het teen ‘n rooi lig beweeg maar daar moet tog ‘n plan B wees kan daar nie van iewers die krag “getrek” word op daardie spoor sodra die “fout” agter gekom is en gesien word op die GVB.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.