Talle ‘taxi’-malariagevalle waargeneem

Argieffoto. Foto: Pixabay.

Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) sê talle gevalle van “lughawe”- of “taxi”-malaria is in Gauteng waargeneem terwyl daar ʼn toename in malariagevalle in Limpopo en Mpumalanga is.

“Lughawe”- of “taxi”-malaria verwys na mense wat malaria opdoen al was hulle nie in malariagebiede nie. Dan is dit die anofelesmuskiet wat ʼn ry- of vlieggeleentheid uit ʼn malariagebied gekry het.

Volgens Nios is vier gevalle van “taxi”-malaria in Kilnerpark (Pretoria) en een in Akasia (Pretoria) aangemeld. Twee gevalle is ook in Kempton Park aangemeld en een mens is dood. Volgens Nios is dié soort malaria egter baie skaars. Daar is sedert 2007 nog net 72 sulke gevalle in Suid-Afrika aangemeld, waarvan die meeste in Gauteng.

Nios het gesê aangesien ʼn mens wat dié soort malaria opgedoen het nie na ʼn malariagebied gereis het nie, word dit dikwels verkeerdelik as griep gediagnoseer.

Volgens Nios beteken die onlangse gevalle nie dat malaria nou na nuwe gebiede in Suid-Afrika versprei nie.

In Limpopo en Mpumalanga is daar intussen ʼn toename in malariagevalle waargeneem, veral op plase langs die Lephalalerivier in die Waterberggebied en in die Krugerwildtuin en omgewing.

Nios het gesê die hoofvoorkomingstrategie vir endemiese omgewings is om huise met langwerkende insekdoders te spuit.

Nios het weereens die belangrikheid van vroeë behandeling benadruk. Hy het ook die versekering gegee dat daar dié seisoen genoeg medikasie en malariatoetse by gesondheidsgeriewe is om dié toename in gevalle te bestuur.

Reisigers van malariagebiede in Limpopo, Mpumalanga en die verre noordelike dele van KwaZulu-Natal, asook inwoners van buurlande soos Mosambiek, Botswana, Zimbabwe en Namibië wat griepsimptome ervaar, word aangeraai om dringend bloedtoetse te laat doen.

Lees gerus hier vir simptome en voorkomende maatreëls.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Klimaatsverandering? ·

Klimaatsverandering? Dit is baie jare gelede dat die spuit van stilstaande water deur munisipaliteite gedoen is op selfs ook die hoëveldgebied reeds om die uitbroei van muskiete in toom te hou. Ek dink ons begin betaal vir hierdie nalatigheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.