Vier mans sal na verwagting Donderdag in die Wynberg-landdroshof verskyn in verband met die moord, verkragting en roof van die 16-jarige Franziska Blöchliger.
Die saak is in Junie uitgestel omdat daar steeds op selfoonbewyse gewag word.
Adv. Renee Prinsloo-Uys, die staatsaanklaer, het die hof toe verseker dat die bewyse in die volgende paar weke gereed sal wees aangesien dit byna ses weke geneem het om saam te stel en binnekort gefinaliseer sal word.
Die hof is ook ingelig dat een van die beskuldigdes, Jerome Moses, nou deur Kevin Pietersen verteenwoordig sal word. Moses is saam met sy medebeskuldigde, Daniel Easter, op borgtog vrygelaat omdat hulle slegs met Blöchliger se gesteelde selfoon verbind kan word. Hul borgtog is verleng.
Die ander twee beskuldigdes het reeds vroeër aangedui dat hulle nie om borgtog sal aansoek doen nie. Een van hulle word verbind met ʼn ander saak van moord, verkragting en roof, terwyl die tweede een versuim het om in die hof te verskyn by ʼn vorige geleentheid in verband met ʼn ander saak.
Blöchliger se liggaam is in Maart in die Tokai-woud gevind nadat sy gaan draf en nooit weer teruggekeer het nie. ʼn Nadoodse ondersoek het getoon dat Blöchliger verkrag is, en sand in haar keel ten tyde van haar dood asook wurgmerke aan haar keel gehad het.
Nie eens n galg is goedgenoeg nie, ek bid steeds vir haar arme ouers
Ja, baie gebede vir die ouers wat moet worstel met elke gedagte. Mag die skuldige(s) spoedig boet.