TV-evangelis vas: Dringende aansoek ingedien

hof-hamer

Argieffoto.

Die hooggeregshof in Port Elizabeth het laat Donderdagaand ʼn bevel uitgereik dat die regsverteenwoordigers van die Nigeriese pastoor wat daarvan beskuldig word dat hy 30 meisies seksueel misbruik het, hom mag sien.

Maroela Media het vroeër berig die bekende Nigeriese TV-evangelis is in hegtenis geneem op aanklagte van mensehandel. Dié dringende aansoek is deur Alwyn Griebenow, sy regsverteenwoordiger, ingedien. Griebenow beweer dat hy verhoed is om sy kliënt te sien ná hy op die Port Elizabeth-lughawe in hegtenis geneem is deur die Valke.

Hy is tans by die Mount Road-polisiestasie. Griebenow het aangevoer dat sy kliënt die reg het om regsverteenwoordiging te ontvang en dat daar geen lasbrief vir hom uitgereik is nie.

Dié omstrede pastoor (58), wat glo kerke in Port Elizabeth, Kaapstad, Johannesburg en die Verenigde Koninkryk bestuur, het na bewering meer as 30 meisies en vroue van verskeie takke van die kerke na ʼn huis in Umhlanga, KwaZulu-Natal, vervoer waar hy hulle na bewering seksueel misbruik het.

Hofdokumente dui aan dat Griebenow oorspronklik ʼn ooreenkoms met die polisie aangegaan het dat die pastoor ʼn onderhoud met die polisie sou voer in sy teenwoordigheid. Volgens Griebenow is hulle blatant deur die polisie geïgnoreer by die lughawe. Die polisie het ook geweier om hulle in te lig waarheen die pastoor geneem gaan word.

Adv. Terry Price, wat teenwoordig was by die pastoor se inhegtenisneming, het die polisie veroordeel oor die hardhandige manier waarop hulle sy kliënt behandel het. “Hulle is die skuim van die aarde, hulle is erger as Mugabe se makkers in Zimbabwe. Van wanneer af neem agt gewapende mans ʼn ongewapende pastoor in hegtenis? Hul gedrag was afgryslik, hulle het voor die voet geweier om met ons te praat,” het Price gesê.

Ná die bevel toegestaan is, het Griebenow en Price hul kliënt gaan spreek. Joernaliste is ook glo Donderdag aangeval deur tientalle mans buite die Jesus Dominion International Church in Port Elizabeth toe hulle onderhoude wou gaan voer.

Die pastoor sal na verwagting Vrydag in die Port Elizabeth-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

JK ·

Mnr die Adv. wat van die 30 meisies en vroue wat hy op n lafhartige wyse misbruik het.
Wat maak hom skielkik nou beter !!

Kiepie ·

JK, dit is nog net beweringe. Daar is so iets soos onskuldig tot die teendeel bewys (nie vermoed) word.

Tillie ·

Laat my dink aan die gesegde…. Bybel onder die blad, duiwel in die gat…

vytjie ·

Tiller dus hoekom ek van Afrikaans hou. Ware shoot. lag my klaar

Piet ·

Jimmy Swaggart het laat weet dat hulle die man nog n laaste kans moet gee. Blykbaar is hy reeds vergewe.

Alida ·

Wonder of die twee Advokate steeds so rammetjie uitnek sal wees as dit hulle dogters was wat in daai duiwel se kloue beland het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.