Twee kritiek ná skietery by nuwe winkelsentrum

Die polisie en paramedici buite Springs Mall. Foto: Via @tshepomoswa / Twitter

Die polisie en paramedici buite Springs Mall. Foto: Via @tshepomoswa / Twitter

Twee mense, ʼn vrou en ʼn polisiebeampte, is kritiek beseer in ʼn skietery by die Springs Mall aan die Oos-Rand. Dié inkopiesentrum het Donderdag sy deure vir die publiek oopgemaak.

Kapt. Thabo Sibuyi, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media bevestig die skietery het omstreeks 10:40 plaasgevind.

“ʼn Groep verdagtes was by die opening van die sentrum om vermoedelik winkeldiefstal te pleeg. Minstens een van die verdagtes was gewapen en ʼn skietery het ontstaan toe hulle planne uitgevind is,” het Sibuyi gesê.

Sibuyi het gesê die polisiebeampte is in die skouer geskiet en die vrou, ʼn lid van die publiek, is in die maag getref.

Volgens Chris Botha, woordvoerder van Netcare 911, is die slagoffers in ʼn kritieke toestand na afsonderlike hospitale in die stad geneem.

Sibuyi het gesê nóg ʼn polisiebeampte is skrams in sy arm getref, maar nie ernstig beseer nie.

“Die polisie het vier verdagtes in verband met die voorval in hegtenis geneem. Die polisie is op soek na nog verdagtes wat in die voorval betrokke was en weggehardloop het. Die vuurwapen wat in die skietery gebruik is, is nog nie opgespoor nie,” het Sibuyi gesê.

Springs Mall het in ʼn verklaring die polisie en veiligheidsbeamptes bedank vir hul vinnige optrede.

“Die verdagtes se poging is deur die vinnige reaksie van die polisie gefnuik. Meer as 200 polisiebeamptes en bykomende veiligheidsbeamptes was op die perseel vir die geleentheid,” het die sentrumbestuurder gesê.

Die polisie het beslag gelê op die voertuig waarmee die verdagtes by die winkelsentrum opgedaag het. Die sentrumbestuur ondersteun die polisie in hul ondersoek.

Mense wat tydens die voorval vir ʼn ruk lank in die sentrum vasgekeer was terwyl die polisie die voorval onder beheer gebring en ondersoek het, het op sosiale media die sentrumbestuur geloof vir die wyse waarop die situasie hanteer is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Corrie Du Plooy ·

Bake dankie vir maroelamedia. Ek lees dit gereeld en julle hou my op hoogte met die daaglikse gebeure. Ek hou van die manier en die kategorië hoe julle die aanbied. Nuus, vreemde stilte tyd ens.

Jakalas ·

Daai rowers het nie mooi hulle plan deur dink nie. Om ‘n winkel sentrum aan te val waar daar 200 lede van die polisie is nie, gaan jou taak bietjie in die wielle ry.

JA ·

Jakalas, lees mooi “….vir die geleentheid”. Hul was nie daar voor die tyd nie.

Lourens Kritzinger ·

Wys jou net, met 200 Sap lede teenwoordig by opening van sentrum,het die kriminele geen vrees om te probeer roof en plunder nie.

Theresa B ·

Dis darem lekker in die nuwe SA……………………………..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.