Twee sterf in geweld by Inchanga

polisie-sapd

Argieffoto: SAPD/Facebook

Die KwaZulu-Natalse polisie het Dinsdag gesê hulle kan nie bevestig dat die geweld wat sedert Sondag in Inchanga buite Durban woed, waarin twee mense reeds gesterf het, polities gemotiveerd is nie.

Lt.kol. Shooz Magudulela, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn man en vrou is Sondag in die nedersetting aangeval. Die man is ernstig beseer, terwyl die vrou, Nonsikelelo Blose (40), op die toneel gesterf het.

Volgens Magudulela het inwoners Maandag omstreeks 04:00 in reaksie op Blose se moord amok gemaak deur paaie met bande wat aan die brand gesteek is en stompe af te sper. Die groep het ook op vyf huise toegesak wat hulle afgebrand het. “Xolani Ngcobo (38) is omstreeks 06:00 in sy huis aangeval. Hy is gestenig en doodgeskiet,” het Magudulela gesê.

Hy het gesê polisiebeamptes en taakmaglede is na die gebied ontplooi en 41 verdagtes is op aanklagte van openbare geweld in hegtenis geneem. Twee verdagtes is ook in hegtenis geneem in verband met die moord op Blose. Die moordsaak word intussen verder deur die Valke ondersoek.

“Die 41 verdagtes sal vandag in die Camperdown-landdroshof verskyn,” het Magudulela gesê. Hy het gesê hy kan nie bewerings bevestig dat Ngcobo ʼn ANC-lid was of dat sy moord polities gemotiveerd was nie. “Dit is nie ons mandaat om ons oor politieke sake uit te spreek nie. Ons kan geensins sê hierdie voorvalle hou verband met politiek nie. Die polisie se ondersoek duur voort.”

Volgens Magudulela is die situasie tans kalm, maar word die gebied steeds deur die polisie gemonitor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.