UK-koshuis ontruim oor brand

Die Universiteit van Kaapstad. Foto: UCT/Facebook

Die Universiteit van Kaapstad. Foto: UCT/Facebook

Inwoners van ʼn koshuis op die kampus van die Universiteit van Kaapstad (UK) moes Dinsdag in die vroeë oggendure ontruim word nadat ʼn brand op die 10de verdieping ontstaan het.

Kylie Hatton, die UK se adjunkdirekteur van kommunikasie en bemarking, het aan Maroela Media gesê die brand het in een van die kamers van die Leo Marquard-koshuis ontstaan. Hatton kon nie bewerings dat die brand deur ʼn verwarmer veroorsaak is, bevestig nie en het gesê die oorsaak van die brand word nog ondersoek.

“Een van die studente is in die hospitaal opgeneem weens rookinaseming,” het Hatton gesê. “Die student se ouers is in kennis gestel en UK-personeel staan die gesin in die verband by.”

Sy het gesê van die studente sal elders gehuisves word terwyl die herstelwerk in die koshuis so spoedig moontlik afgehandel word. Dit is nie in die stadium duidelik wat die omvang van die skade is nie, maar Hatton het gesê dit was ʼn “klein brand”.

Sy het bygevoeg dat berading beskikbaar sal wees vir die studente wat geraak is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.