Verdagte in boud gewond ná rooftog op Pta-kleinhoewe

Die polisie en ambulansdienste op die toneel. Foto: Verskaf

Die polisie en ambulansdienste op die toneel. Foto: Orange Fox Security

ʼn 33-jarige verdagte is Donderdag in die vroeë oggendure in hegtenis geneem nadat hy glo met ʼn haelgeweer in die agterstewe geskiet is ná ʼn huisroof op ʼn kleinhoewe buite Pretoria.

Maroela Media het van ʼn betroubare bron verneem die man is deur lede van die gemeenskap in die omgewing van die Mooiplaas-kleinhoewes, langs die M26 buite Erasmia, wes van Centurion, aangekeer nadat die huisroof aangemeld is.

Kapt. Bonginkosi Msimango, polisiewoordvoerder, het die inhegtenisneming en rooftog aan Maroela Media bevestig.

“ʼn 32-jarige vrou was omstreeks 01:15 in haar kamer aan’t slaap toe sy wakker geword het van ʼn lawaai by die deur,” het Msimango gesê. “Sy het opgestaan en haar kamerdeur oopgemaak en drie mans, wat met vuurwapens gewapen was, in die huis opgemerk. Sy het dadelik die deur weer toegemaak en haar bure gebel om hulp te ontbied.”

Die verdagtes het die huis geplunder en ʼn televisiestel, DVD-speler, luidsprekers, skootrekenaar en drie fietse gesteel voordat hulle op die vlug geslaan het. Die gesteelde ware het ʼn geskatte waarde van R15 000.

“Een van die verdagtes is deur gemeenskapslede aangekeer en vasgetrek. Hy het koeëlwond aan sy onderlyf opgedoen en is in ʼn stabiele toestand onder polisiebewaking na ʼn hospitaal geneem.”

Van die gesteelde huisware is later in die veld daar naby gevind.

Die man sal in die Atteridgeville-landdroshof verskyn sodra hy uit die hospitaal ontslaan word.

ʼn Volskaalse soektog na die ander twee verdagtes is van stapel gestuur. Die Erasmia-polisie ondersoek die voorval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Patria ·

Wette stop dalk nie misdadigers nie, maar koeëls doen wel

Venter ·

Sit ‘n loergaatjie in jou kamerdeur, dan kan jy kyk wat aangaan voor jy oopsluit. En pepersproei met ‘n plastiekpypie deur die hout of die sleutelgat, dan kan jy spuit as hulle die deur probeer afskop.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.