Verdediging verwerp staat se aantyging in Panayiotou-verhoor

Jayde Panayiotou en haar man Christopher. Foto: Facebook

Christopher Panayiotou en sy twee medebeskuldigdes, Sinethemba Nenembe en Zolani Sibeko, se regsverteenwoordiger het Donderdag in die hooggeregshof in Port Elizabeth aangevoer die beskuldigdes was nie betrokke by die plan om Jayde Panayiotou te vermoor nie.

Theresa Botha, wat die selfoondata van die beskuldigdes ontleed het, het van ʼn geografiese inligtingstelsel en selfoondata gebruik gemaak om die bewegings te bepaal van die huurmotor waarmee Jayde twee jaar gelede na bewering ontvoer is voordat sy vermoor is.

Volgens Botha se verslag het selfoonkartering Sibeko naby Jayde se huis geplaas slegs dae voor sy vermoor is. Dié data het ook vir Nenembe naby die Stelen Glen-kompleks geplaas die dag van haar moord.

Peter Daubermann het dit egter aan Botha gestel dat sy nie kan sê dat Jayde se beweerde moordenaar, Siswe Vumazonke, en Nenembe saam in dieselfde voertuig na Jayde se huis gereis het die dag toe sy vermoor is nie.

Die selfoonkartering dui egter aan die twee het verskeie kere daardie oggend gekommunikeer.

“Jy kan nie presies sê waar Nenembe was toe die oproepe gemaak is nie. Hy sou nie saam met Vumazonke gereis het nie en hulle was nie in dieselfde voertuig nie. Jy kan nie sê Nenembe en Vumazonke het die omgewing op dieselfde tyd verlaat nie,” het Daubermann gesê.

Botha het Daubermann gelyk gegee op sy stellings.

Daubermann het ook die aantyging dat Sibeko deel was van die beplanning om Jayde te vermoor verwerp. Hy het dit aan Botha gestel dat Sibeko volgens die selfoondata net een keer in die omgewing van Jayde se huis was op 16 April 2015.

“Die data plaas hom nie by die Stelen Glen-kompleks nie en kan ook nie bewys dat hy in Deaconstraat gery het nie,” het Daubermann gesê.

Maroela Media het vroeër berig volgens die data wat Botha ontleed het, het Jayde se beweerde moordenaar, Vumazonke, omstreeks 05:24 met die gehuurde motor by sy huis vertrek en gery tot naby waar Nenembe was. Die selfoondata toon Vumazonke het oproepe gemaak na Nenembe en Khusta Vandala.

Om 06:03 was die voertuig by die kruising van die R102 en Kabegaweg. Omtrent 40 minute later het Vumazonke weer vir Vandala gebel. Vumazonke se selfoon het opvangs van die Linton Grange-toring naby Jayde se huis gekry, terwyl Vandala se opvangs uit Kwadesi gekom het.

Om 06:27 het die data van die voertuig se opsporingstoestel aangedui dat die voertuig skielik gerem het, maar dat die voertuig nie afgeskakel is nie. Volgens Botha se getuienis was dit die laaste keer wat die voertuig buite Jayde se meenthuiskompleks gesien is.

Kort hierna het Vumazonke weer vir Nenembe gebel en albei hul selfone het opvangs gekry van die Linton Grange-toring naby die kompleks. Teen 06:28 het die voertuig tussen 8 km/h en 16 km/h in Deaconweg gery. “Die data dui daarop dat die voertuig ses tot sewe keer om die [kompleks] se blok gery het,” het Botha getuig.

Sy het getuig die voertuig het van Deaconweg na die N2 beweeg en daarna met die R102 gery en toe die R334 in die rigting van Uitenhage geneem. Om 07:09 het Vumazonke ʼn oproep na die selferkende middelman, Luthando Siyoni, gemaak. Hierdie oproep plaas Vumazonke se selfoon in Kwanobuhle.

Volgens Botha se getuienis het die voertuig tussen 07:12 en 07:13 ʼn U-draai gemaak en is dit toe afgeskakel. “Die meting van die punt waar die voertuig afgeskakel is en waar [Jayde] se liggaam gevind is, is ongeveer 22 meter,” het sy gesê.

“Sal jy dus saamstem dat Sibeko nie teenwoordig was op 21 April tydens die ontvoering en moord nie,” het Daubermann gevra.

Marius Stander, staatsaanklaer het egter gesê Daubermann gaan selektief om met die bewyse tydens sy kruisondervraging.

Stander het dit gestel dat Sibeko op 16 April nadat hy Jayde se omgewing verlaat het in New Brighton geëindig het omstreeks dieselfde tyd in dieselfde straat as waar die beweerde voertuig wat gebruik is parkeer was.

Stander het ook selfoonnommers opgenoem van persone wat na bewering betrokke was by die voorval. Dit sluit Nenembe, Vumazonke, Khusta en Panayiotou se lyfwag Luthando Siyoni in.

“Tussen 05:00 en 08:00 is daar verskeie oproepe tussen die partye gemaak,” het Stander gesê.

Die staat voer aan Nenembe het Vumazonke gehelp om Jayde te ontvoer en te vermoor – in opdrag van Christopher. Vumazonke is intussen dood.

Die verhoor duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Alida ·

Ekke, nee hy hap na geld. Hy weet voor sy siel die skurk is skuldig maar probeer nog meer pocket.

Magda ·

Hoop die saak word ook nou afgehandel – en almal word lewenslank tronkstraf gegee.

GPC ·

Hoe kan iemand so mooi vrou leed aan doen? En in elk geval geen vrou verdien dit nie. Bêre hom ver weg dat hulle sy kos met n kettie moet inskiet.

Michelle ·

Hierdie is en bly ‘n verskriklike storie vir my.
Dit laat my so dink aan Anni Dewani en haar man Shrien wat ook haar dood beplan het.
Hoop geregtigheid geskied hierdie keer.

Soekie ·

Is dit nie dieselfde verdediging wat Dewani laat wegkom het nie. Geld speel groot rol, maar hoe slaap jy as jy weet ‘n moordenaar loop vry weg….. hartverskeurend vir ouers en almal wat hierdie vroue lief het.

Hettie ·

Kry hy nie skaam om die ou te verdedig nie Alles dui mos daarop dat hy skuldig is Bloed is aan sy hande as die ” skuldige ” loskom

vrikie ·

Sy verdediging se skietgoed het opgeraak nou val hulle die tegnologie aan, gaan sleg tweede kom

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.