Vereniging bring hulde ná Pta-kunstenaar sterf

‘n Selfportret van Rudolph Vosser. Foto: Via Flickr

Die Pretoria Kunsvereniging hou eersdaags ʼn afskeidgeleentheid ter nagedagtenis aan die kunstenaar Rudolph Vosser (52) wat verlede week dood in sy huis in Brooklyn aangetref is.

Pieter van Heerden, direkteur van die vereniging, het Woensdag aan Maroela Media gesê die geleentheid word op 11 November om 11:00 by die kunsvereniging in Mackiestraat 173 in Nieuw Muckleneuk gehou.

“Daar is sewe woorde om hom te beskryf: Hy was ʼn meester met die kwas,” het Van Heerden gesê.

Vosser is in 1965 gebore en het kuns aan die Universiteit Pretoria studeer, waar hy as een van die toppresteerders uitgeblink het. Hy het sy eerste solouitstalling in 1999 by die kunsvereniging gehad en sedertdien talle pryse verower.

“Wyle prof. Nico Roos het op ʼn geleentheid gesê hy het tydens Rudolph se eerste jaar reeds besef Rudolph was een van die begaafste studente wat hy in sy hele loopbaan as kunsdosent ervaar het.”

Vosser word bestempel as ʼn meester in fynkuns. Baie van sy kunswerke is op veilings en in kunsgalerye verkoop. Hy word beskryf as ʼn begaafde portretskilder wie se werk te min aandag gekry het, omdat hy al minder uitgestal het. Benewens figure was dit stilleweagtige skilderye van objekte wat die oog gevang het.

Hy was nooit getroud nie en het veral in die afgelope paar jaar ʼn kluisenaarsbestaan gemaak en van die samelewing onttrek. Dit is weens dié rede dat Vosser se liggaam eers Donderdagaand gevind is, nadat hy vermoedelik twee weke tevore in sy huis in Alexanderstraat dood is.

Maroela Media het Saterdag berig die polisie het op sy ontbinde liggaam in sy motorhuis afgekom nadat bure en veiligheidsmaatskappye ʼn onaangename reuk waargeneem het. Die polisie doen ʼn geregtelike doodsondersoek om die oorsaak van sy dood vas te stel en ook hoe lank hy al dood is. Geen vuilspel word vermoed nie.

Hy laat sy broer en pa agter wat in die Oos-Kaap woon. Sy ma is ʼn paar jaar gelede oorlede en sy pa bly in ʼn versorgingsoord.

Vosser se afskeidgeleentheid is oop vir die publiek. Van Heerden doen egter ʼn beroep op mense wat die verrigtinge wil bywoon, om bywoning by 012 346 3100 te bevestig vir verversingsdoeleindes.

Die kunsvereniging beplan om moontlik in die toekoms weer ʼn kunsuitstalling met Vosser se kunswerke daar te hou.

Rudolph Vosser. Foto: Francois F Swanepoel

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Maretha ·

Ek het die voorreg gehad om as student in jou antieke winkel te werk. Daar het my liefde vir ou en mooi goed ontwikkel. Ek het geleer van Art Deco en Alfred Meakin. Ek ruik nou nog die Brasso waarmee al die items met liefde blink gepolish is! Ek het ook die voorreg gehad om jou huis op te pas. Dit is van die wonderlikste herinneringe wat ek koester! Agter in die erf was ‘n spaza winkel wat deur ‘n gat in die muur bedryf is! Ek onthou ook die Boere Bar en die wit chiffon gordyntjies met die plastiek Whitehorse perdjies op. Als waaraan jy geraak het, het in goud verander. In 1999 het ek na Kaapstad verhuis en ons het nog bietjie kontak gehad, maar die afgelope paar jaar het ons kontak verloor. Ek het onlangs ‘n groot behoefte gehad om weer kontak te maak en het jou probeer opspoor, my pogings was tevergeefs. Ek wens ek kon nog net een keer weer “hallo” sê om vir jou te vertel hoe geliefd en spesiaal jy is. Ai, my hart is so seer. Die wêreld het ‘n talentvolle kunstenaar verloor. Mag jou siel nou vrede hê. Rus sag. Maretha xxx

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.