‘Verkragting’ by matriekafskeid: Wag glo op heterdaad betrap

Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng. Foto: ANA/Jonisayi Maromo

Die 24-jarige veiligheidswag wat daarvan beskuldig word dat hy ʼn hoërskoolmeisie van Pretoria tydens haar matriekafskeid verkrag het, is glo tydens die voorval op heterdaad betrap.

Maroela Media het vroeër berig die voorval het na bewering tydens die matriekafskeid van die Mahube Valley Secondary School in Mamelodi-Oos gebeur. Die beweerde verkragting kom kort nadat bewerings aan die lig gekom het dat ʼn veiligheidswag by ʼn laerskool in Soweto minstens 87 leerders van dié skool seksueel aangerand het.

Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, het Maandag ná afloop van ʼn vergadering met die skool se bestuur, politieke partye, gemeenskapslede en joernaliste by die skool toegespreek. Hy het gesê onderwysers het tydens die matriekafskeid die leerders getel en na die beweerde slagoffer gesoek.

Hulle het inligting ontvang van waar sy moontlik mag wees. “Dit blyk dat die wag ʼn aparte plek gereël het, nader aan waar die matriekafskeid gehou is. Volgens die verslag wat ek ontvang het, het die onderwysers daarheen gegaan en is hulle op heterdaad betrap,” het Lesufi aan joernaliste gesê.

“Hoekom [die veiligheidswag] dit later ontken het, is waaraan ons ondersoekspan sal werk. Dit is die deel wat my geskok het. Ek wil nie agterdog rondom die leerder veroorsaak nie. Die realiteit is dat iemand wat nie veronderstel was om daar te wees nie, daar was en ons weet hy het iets gedoen wat heeltemal onaanvaarbaar is.”

Lesufi het gesê die skoolhoof het aan die departement gesê onderwysers en leerders het op 29 September na ʼn lodge by Bronkhorstspruit gegaan vir die matriekafskeid. Die geleentheid het teen 21:00 begin en die formele program het omstreeks middernag geëindig. “Dit was rondom 02:00 wat iets toe gebeur het en hulle [die onderwysers] het die leerder ondervra, maar sy het net gesê niks het gebeur nie,” het Lesufi gesê.

“Wat baie kommerwekkend is, is dat die [veiligheidswag] nie genooi was om deel te wees van dié skoolaktiwiteit nie. Toe die skoolhoof hom by die geleentheid hoflik gevra het wat hy daar maak, het hy gesê hy het by sy broer vir toestemming gevra en hy is ʼn motor geleen vir die geleentheid.”

Lesufi het gesê toe die skooltermyn hervat is, het die skoolhoof die leerder na haar kantoor ontbied en hierdie keer het die leerder erken wat gebeur het. “Die leerder was baie ongelukkig dat die skoolhoof haar ouers in kennis wou stel. Hulle het die volgende dag gegaan om ʼn saak by die polisie aanhangig te maak, maar die polisie het hulle weggewys en gesê hulle moet na ʼn ander polisiestasie in Bronkhorstspruit gaan.

“Ek beklemtoon hierdie punt, want ek is heeltemal gewalg daardeur. Wanneer die tydlyn in ag geneem word, moet ʼn mens in so ʼn geval die tydlyn beskerm vir die versameling van bewyse,” het hy gesê.

“Toe die saak oopgemaak is, het die polisie uiteindelik begin beweeg [en] die relevante mense ondervra. As die departement het ons ons sielkundedienste ontplooi om die nodige ondersteuning en dienste aan beide die ouers en die leerder te bied en seker te maak dat al die nodige sake hanteer is.”

Lesufi het gesê hy kan nie bewerings dat die 17-jarige leerder in ʼn romantiese verhouding met die veiligheidswag was, en dat die seks met wedersydse toestemming geskied het, bevestig nie. “Ons het inligting ontvang dat daar ʼn element is wat dit as seks met toestemming uitbeeld, dat dit ʼn kêrel en meisie verhouding was – ek is nie geskik om daaroor te argumenteer nie,” het hy gesê.

“Ons het ook inligting ontvang dat daar twee ander meisies is wat ook beskuldig word dat hulle in ʼn verhouding met [dieselfde] veiligheidswag is. Ons volledige ondersoek sal daardie inligting verifieer.” Hy het gesê daar word beweer die wag het verskeie liefdesverhoudings met leerders gehad by ʼn skool waar hy voorheen gewerk het.

Verskeie betogers het Maandagoggend voor die skool gewag in afwagting op Lesufi se besoek. Themba Masango van #NotInMyName het gesê sy organisasie het met die leerder gekommunikeer en bied ondersteuning aan haar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Zumie ·

Arme ou Lesufi ….. hierdie is nie ‘n swart wit insident nie so hy kan nie sy gewone tirades deurgee nie….

G ·

Hoekom het sy in die 1 ste plek saam hom gegaan waar hy plek bespreek het.
Ek ruik n rot.

Leahim ·

Kyk hoe hartseer lyk hy op die foto hy kan nie vir Jan van Riebeeck of apartheid skuld gee nie nou weet hy nie hoe om regte probleme in n regte wereld wat sy party geskep het uit te sorteer nie …
Disipline meneer bring terug die disipline en begin by die skole.

SjN ·

Ek sou graag vir regter Mabel op die bank gehad het vir die saak.

Anoniem ·

Die veiligheidswag en sy verskeie “girlfriends” het geen morele waardes nie. Geen wonder HIV versprei so vinnig nie.

Sarel Strydom ·

Dit is nou nie die eerste saak waar Sekuriteitswag by die skool betrokke is nie. My vraag: Vir weie werk hierdie wagte en indien dit vir die Departement is, wie het hulle aangestel. Daar moet erens ‘n kriminele rekord vir die mense beskikbaar wees. persoon wat keuring en aanstelling gedoen het moet verduidelik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.