Vermiste vissermanne: Nog 4 soek

Die omgeslaande vissersboot, die Maredon, in die see nadat die boot naby Kaap St. Francis in die Oos-Kaap omgeslaan het. Foto: NSRI

Die man wie se liggaam Vrydag omstreeks 11:00 naby ʼn oord in Beachview, Port Elizabeth, gevind is, is geïdentifiseer as een van die agt vissermanne wat vermis geraak het nadat ʼn tjokkaboot op 16 Julie in die vroeë oggendure in die see naby Kaap St. Francis in die Oos-Kaap omgeslaan het.

Sers. Majola Nkohli, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn lid van die publiek het die liggaam vanaf ʼn strand in Beachview opgemerk waar dit in die see gedryf het en hulp ontbied. Die liggaam is uit die water gehaal en die oorledene is as Paseka Pike (39) van Humansdorp geïdentifiseer.

Pike is die vierde van agt vermiste vissermanne wie se liggaam gevind is. Op Woensdag 19 Julie het lede van die reddingspan omstreeks 09:00 gesien hoe ʼn liggaam in die see naby Blue Horizon Bay in Port Elizabeth dryf. Die liggaam is later as Mbongeni Gift Zulu (43) van Jeffreysbaai geïdentifiseer.

Donderdag het ʼn lid van die publiek omstreeks 08:00 op ʼn liggaam afgekom waar dit by Kini Bay in Port Elizabeth uitgespoel het. Die liggaam is later as dié van Sihle Dlamini (39), ook een van die agt vermiste vissermanne, geïdentifiseer.

Dieselfde dag het ʼn helikopter vanuit die lug ʼn liggaam in die see sien dryf naby Beachview, ongeveer 50 km van waar die tjokkaboot omgeslaan het. Die liggaam is uit die water gehaal en as Elliot Ncanywa geïdentifiseer.

Maroela Media het vroeër berig die tjokkaboot, die Maredon, het 16 vissermanne aan boord gehad toe dit op 16 Julie omstreeks 03:30 in die see by Thyspunt omgeslaan het. Sewe vissermanne is later die dag lewend op ʼn strand gevind en ses van hulle is in die hospitaal opgeneem. Een van die vissermanne se liggaam is dieselfde dag langs die kuslyn naby Sunset Rocks gevind.

Nkohli het gesê die soektog na die oorblywende vier vermiste vissermanne gaan steeds voort. Enige vrywilligers wat bereid is om met die soektog te help, kan kapt. Johan du Toit by 071 475 1831 laat weet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.