[Video] Boer se ongewone ‘waghond’ maak opslae

Lobengula buite Tobie Bird se huis. Foto: Verskaf

Baie boere hou kwaai honde aan om hulle teen plaasaanvalle te beskerm, maar ʼn boer van die Hoopstad-distrik in die Vrystaat het ʼn stap verder gegaan om die veiligheid op sy plaas op te skerp.

Snags loop ʼn volwasse leeumannetjie om Tobie Bird (46) en sy vrou, Christolien (31), se plaashuis om hulle teen aanvallers te beskerm.

ʼn Video van Lobengula, die driejarige leeu, wat homself ewe voor die veiligheidshek op die stoep buite die huis tuismaak en deur die tralies deur Bird gevryf word, het die afgelope week soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei. Die video is deur Tobie se vriend, Johan Frederik Lee, geneem en Lee vertel in die video dat Bird hierdie buitengewone maatreël moes instel om sy huis en gesin te beskerm.

Lee is dieselfde man wat vroeër vanjaar in ʼn videoboodskap ʼn beroep gedoen het op Angus Buchan om ʼn massa-biddag vir die land te hou, wat uiteindelik tot die It’s Time-byeenkoms buite Bloemfontein gelei het wat deur honderde duisende mense bygewoon is.

Bird het Dinsdag aan Maroela Media vertel hy boer al drie jaar lank met leeus op die plaas en dat hy vir Lobengula na die plaas gebring het toe hy een jaar oud was. Bird se pa het die bynaam Lobengula gehad, wat verwys na ʼn hoof van die Ndebele-stam. Die naam beteken “mans met die lang skilde”.

Kort ná Lobengula se aankoms op die plaas, het Bird hom een oggend gevind waar hy bebloed in ʼn kamp gelê het nadat hy deur ander leeus aangeval en verskeur is. Ten spyte daarvan dat ʼn veearts aanbeveel het Lobengula moet van kant gemaak word, het Bird hom na sy motorhuis geneem waar hy drie maande lank aangesterk het.

“Lobengula het een oggend uit die motorhuis gestrompel gekom en reguit op my afgestap en teen my geskuur en daarna teen my vrou gaan skuur. Ons het geskrik, want dit is immers ʼn wilde leeu, maar hy het niks aan ons gedoen nie. Sedertdien was hy nog altyd baie mak. Ons het hom nie aangeneem nie, hy het ons aangeneem,” sê Bird.

Hy sê hy was ongeveer ʼn maand gelede in die hospitaal toe hy inligting van ʼn landelike veiligheidsgroep ontvang het dat sy plaas deur plaasaanvallers geteiken gaan word. Met sy aankoms by die huis was daar duidelike tekens dat ʼn plaasaanval beplan word, onder meer die hoofkragkabel wat by die kragboks buite die huis ontkoppel is.

“Ek het geweet ek sal dadelik iets moet doen om die veiligheid op die plaas nog meer te verbeter. Ons is lief daarvoor om te kla en te sê die polisie doen niks om boere te beveilig nie, maar die polisie kan nie oral wees nie. Dit is die realiteit, die landelike gebiede is net te groot. Jy moet vir jou eie veiligheid verantwoordelikheid neem,” het Bird gesê.

Lobengula hou wag buite Tobie Bird se huis. Foto: Verskaf

Hy het toe besluit om Lobengula in die aande oop te maak om rondom die huis te loop. “Mense moet verstaan hoewel Lobengula mak is, gaan ons nooit uit as hy buite is nie,” sê Bird. ”Die enigste verskil tussen ʼn mak leeu en ʼn wilde leeu is dat ʼn mak leeu sy vrees vir mense verloor het. Dit maak hom eintlik nog gevaarliker as ʼn wilde leeu. As ons enigiets met Lobengula te doen het, is daar altyd ʼn hek of heining tussen ons. ʼn Leeu bly altyd ʼn wilde dier, maak nie saak hoe mak hy dalk mag voorkom nie.”

Hy vertel dat Lobengula juis onlangs ʼn kameelperd op die plaas platgetrek het, ʼn duidelike teken dat hy steeds sy jaginstink het en geensins as ʼn troeteldier gesien moet word nie.

Volgens Bird het hulle ʼn manier om Lobengula in en uit sy kamp te lok sonder dat hulle saam met hom in die kamp hoef te wees. Hy vertel dat Lobengula in die aande al om die huis loop en brul of op die stoep lê, byna asof hy weet hy moet die huis en sy inwoners oppas.

“Hierdie plan is absoluut uit desperaatheid gebore en ek sou dit nie graag ʼn langtermyn maatreël wou maak nie, maar ons moet voorkomend optree. As jy ʼn leeu om jou huis het, sal plaasaanvallers beslis twee keer dink voordat hulle kies om jou plaas te teiken.”

Bird het gesê vrese wat uitgespreek word dat Lobengula mettertyd gejag sal word, is heeltemal onnodig. “Hy is ʼn ongelooflike leeu. Ons het ʼn reël dat sodra ʼn leeu op hierdie plaas ʼn naam kry, sal hy op hierdie plaas van ouderdom doodgaan. Ek sal hom nie eens verkoop nie. Wanneer jy met leeus begin boer, is daar een aspek wat jy nie in aanmerking neem nie en dit is dat jy ʼn ongelooflike band bou met hierdie diere. Dit kom vanself. Hierdie leeu is ons lewe. Lobengula sal op dié plaas bly tot hy sy laaste asem uitblaas.”

Twee video’s volg onderaan die berig:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

51 Kommentare

Niel ·

pragtige leeu! Ek is bly om te lees hoe die boer juis verduidelik – wees altyd versigtig vir leeus, en dat mens nie sommer goedermoeds moet aanvaar dat hulle mak kan raak nie. En dat hulle altyd sorg dat daar ‘n afskorting tussen hulle en die leeu is.

Human ·

Mense, leer julle nie. Bly van sosiale media af. Almal wat die video versprei kan die boer in die moeilikheid bring. Dis n oulike leeu, maar die bybel waasrsku oor n ander brullend leeu.

Snoefels ·

Onnodige publisiteit… Shame, ek kry die leeu jammer, hy is nou oulik, maar more byt hy n kind en dan moet sy kop af

Liesl ·

Heel onwaarskynlik dat hy n kind sal byt. Boer sê tog duidelik hy is en bly n wilde dier en daar word deur tralies met hom gewerk. Dink eerder aan hoe desperaat ons arme boere moet wees vir hulle eie veiligheid om sulke drastiese stappe te neem!!!

Shaan ·

Dis so oulik! Bly die boere dink uit die boks uit om hulself te beveilig.

Andrea ·

Uitstekende plan. Kan ek asb ook n leeu kry vir my huis en gesin in Pta?

Lee ·

As ek ‘n boer was sal ek ook ‘n leeu kry om my te beskerm. Die van julle wat nie op plase bly nie weet nie hoe erg is dit om in die aand te gaan slaap en jy weet nie of jy nog die volgende oggend gaan leef nie. Welgedaan met jou leeu Tobie en jy pas al die veiligheids-maatreels ook toe so dis nie ‘n probleem nie. Oulike leeu. Hy gaan net die evidence opeet!!

piet pompies ·

Verseker baie erg om ‘n boer te wees en te weet jy is alleen verantwoordelik vir jou eie veiligheid. Ongelukkig weet ek nog van boere wat moet oop deure slaap en sê niks gaan hier gebeur nie…

Stellie ·

Wat n lekker lees artikel!!! Aan die boer wat hom deurgetrek het, wens meer mense is soos jy! Dis so n slim plan. 10/10 vir die feit dat jy steeds respek het vir n “wilde dier”.

piet pompies ·

Wonderlike idee, wonderlike leeu. Maar moet mens al jou geheime so uitlap? Volgende wat ons hoor is dat die leeu vergiftig/geskiet is deur kwaaddoeners.

Nettie ·

Dag ek nou dieselfde ding – jy hoor dan net hoe word leeus gejag vir muti. Hoe kry hulle dit reg? Werk saam met plaasvoormanne, sg. ‘wildbewaarders’ ens. en stel wipe of vergiftig die leeus sodat hulle die kop, pote en velle kan oes. Soos dié boer sy “ins and outs” uitlap, gaan dit nie lank wees of die arme ‘wag-leeu’ is oorle’ nie. Onthou net, die kroeks en skelms verstaan ook Afrikaans en lees ook Maroela.

Helene ·

Dis ook wat ek onmiddellik gedink het. Hoop nie die pragdier word slagoffer nie.

zahn ·

Duidelik respek vir die leeu, kennis van sy gewoontes. Nee wat, dit klink na ‘n wenresep. Baie bly om met ‘n boer (soos die) vergelyk te kan word.

Nettie ·

‘Skuus – dit moet lees “wippe” nie ‘wipe’ nie – wippe wat vir die leeus gestel word ….

alida ·

Baie bly die boer gebruik sy verstand en besef die leeu is wild en sal altyd wild bly. Geen naby kontak met die leeu deur sy gesin nie en die vieslike moordenaars sal tweede kom. Die boer moet net duidelike tekens op sy drade en hekke aanbring wat mense waarsku dat daar ‘n leeu om die huis is anders beland hy weer in die tronk omdat die leeu kroonwild gevang en opgevreet het. As daar waarskuwings is weet hulle mos om weg te bly daar.

Wilco ·

Nes jy daar sê Alida. Hy sal daai tekens MOET aanbring want die regering mag dalk binnekort sy leeu kom konfiskeer.

Piet ·

In die nuwe SA wat deur krimenele regeer word en hul regte beskerm word, kan mens dalk moeilikheid kry met sulke maatreels. Wanneer diewe jou werf betree gaan jy mos bewus wees van “Dolus Eventialus”, of dat die persoon “eventually dead ” gaan wees. Stel dit jou nie bloot nie? Sal graag wil hoor van n regskenner. Ek hou nogtans van die plan.

Adri ·

Ja ek hou daar van. ‘n Bietjie geskiedenis om die naam Lobengula. Soos aan my oorvertel.
My oorgrootjie ouma was die tolk tussen die ou boere jagters wat vir maande ‘n die destydse Noord en Suid Rhodesie gaan jag het. Sy was toe nog ‘n jong dogtertjie.
Op een van die jagtogte,met hulle terug keer het, Lobengula vir haar ses wit duiwe,as geskenk gegee, wat sy toe terug gebring het met die jagters en waens.

Fires ·

Wonderlike idee en van laat daar ‘n paar leeus in die Bokspan is speel hulle ook beter rugby

Sirkus Nar ·

Een van die dae lees ons dat die leeu per ongeluk uitgekom het en een van hulle twee doodgebyt het…

Dieselfde ·

Dit geld ook vir ‘wettige’ kwaai honde. So niks verkeerd met die leeu.

Kallie ·

Puik idee, baie drasties maar puik. Ons boere moet meer op sulke idees kom,dink anders en beveilig jou gesin ten alle koste. Dit is baie beter as geblikte jag! Sterkte boere van hierdie mooi land,julle is dapper!!

Theresa B ·

Pragtige dier. Ek sal ook graag so “troeteldier” wil hê. Maar ek sal dit nou nie uitbasuin en dit op sosiale media verkondig nie. Ek dink die knaap het nou vir homself ‘n lat gepluk.

Theresa B ·

Pragtige dier. Ek sal wat wou gee om so “troeteldier” te kan hê. Maar ek sal dit nou nie uitbasuin of deel op sosiale media nie. Ek dink die knaap het nou vir homself ‘n lat gepluk.

a11 ·

ek stem 100% saam met jou, ek hoop nie daar word nou weer fout gevind nie.

m ·

Geen plan is onveilbaar nie. Al wat hierdie gemors doen is om vleis met gif in vir die leeu te voer……… Niks keer hierdie mense nie…

Willie ·

Die leeu sal nie n plaas aanvaller aan val nie ,Leeus het ook n trots in hulle !

foxi ·

Ai tog……hy kan tien van daardie leeus aanhou……,tien gevreesde honde env. As die diere gif inkry….is dit als verniet. Die enigste uitweg is slange……..dit werk beslis!

Christo Visagie ·

Ek Stem,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,kry Swart Mambas, hulle is 100% gewaarborg

Nettie ·

Nee, genugtig, ek is te vrek bang vir slange! As ek moet kies om deur ‘n leeu gejaag te word of deur ‘n slang gepik te word ….. dan kies ek eerder die leeu!

Leeutjie ·

Dan sal hy hom moet opeet ook…anders is daar hofsake want wat van die arme skelm (moordenaar) se regte!!!

Scalla ·

Johan, dan gaan fauna en flora die eienaar vervolg, mens gee nie enige gemors vir n leeu om te vreet nie.

Theresa ·

Dalk ‘n diep sloot rondom plekke – vol knersende krokodil knape. Dan laat sak mens net ‘n valbrug vir jou uitgenooide, welkome gaste?

Leon ·

Ek sit aan dieselfde ding en dink Theresa, en daar sal ook nie getuies of bewyse wees nie. Die “Vikings” het dan so geleef in die kastele……….. LOL!

Chris ·

Ek dink dit is ‘n baie goeie idee om jouself so te beskerm. Honde word vergiftig, selfs ‘n leeu kan, maar ek dink enige indringer sal twee keer dink voordat hy dit daar sal waag. Die probleem is die vloeke doen hulle party keer voor as onskuldige mense wat bv iets soos slagdiere wil kom koop. Dit is ‘n moeilike situasie maar kan opgelos kan word. Boer maak mos altyd ‘n plan. Die mense wat die leeu eienaar of die boere kritiseer het geen benul wat dit is om geliefdes agv plaasmoorde aan die dood af te staan nie. Ek oornag of kuier nie meer op plase nie. Die gevaar is in my onderbewussyn in gebrand.

Cherokee ·

Rhodesië… oftewel Zimabwe… weet nie hoeveel van julle, indien enige, die insident onthou. ‘n Boer het twee jong leeus huis toe geneem om sy gesin te beskerm, toe gryp een van die jong katte sy dogter deur ‘n venster. ‘n Swart helper het die leeu verwilder met ‘n stok. Die dogter het gelukkig die aanval oorleef maar wat ek onthou is dat ‘n deel van haar kopvel afgeskeur was en terug gewerk moes word. Weer daarvan onthou toe ek die berig lees.

Celia ·

Die leeu is dierbaar! Maar, ek bid hy word nie deur plaasaanvallers geskiet nie.
Ek sou dit nie gedoen het nie.Nog minder dit so publiseer!
Ek wil nie lees hoe hierdie leeu geskiet is nie, asb.

Werner ·

Hoop natuurbewaring gryp hier in! Dis n onreg om n lieftallige leeu vir so iets te gebruik. En dit nog op media uit te blaker. Plaasaanvallers weet hiervan- al wat hulle nodig het is n vuurwapen. Arme dier!

Dries ·

En ek hoop jy betaal deur jou nek vir kos as al die boere uitgemoor is

Johann Marx ·

Uhhhmmmm…..hy sal NIE al die evidence opeet nie? Net die skedel sal oorbly…want leeus vreet nie hout nie…

ek ·

Kan nie ‘n wildplaas, plaas of leeu bekostig nie. Sal maar opname van gebrul moet maak en so lapleeu affêre moet aanmekaarflans en snags buite sit. Dalk werk dit!

humor ·

My skoonma het n mamba hans groot gemaak. Met haar is hy die lieftalligheid self, maar hou glad nie van smouse, mense wat versekering verkwansel nie ook die laaste tyd nie van die bankbestuurder nie en van mense wat dieselfde kleur as hy is nie.

Kobie ·

Ek wonder darem baie wat in so dier se kop aangaan. Hier het sy trop hom basies verwerp, en toe neem die boer en sy “trop” hom aan en versorg hom. Dankbaarheid? Aanvaarding? Lojaliteit? Mens kan maar net wonder en waardeer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.