Video: Brandoorlewende Sean vertel hoe gebede hom red

'n Skermskoot uit die video. Die video volg onderaan die berig. Hier is Sean Smith, saam met sy ma, Mé-Lissa, en Dianne Broodryk.

‘n Skermskoot uit die video. Die video volg onderaan die berig. Hier is Sean Smith, saam met sy ma, Mé-Lissa, en Dianne Broodryk.

“Ek onthou ek het daar in die bed gelê en gevoel ek kan nie meer nie, maar toe voel ek iemand vir my bid en toe voel ek weer hoe krag deur my liggaam kom.”

Só vertel Sean Smit (16), die tienerseun van Pretoria wat erge brandwonde tydens ʼn fratsongeluk met petrol opgedoen het, in sy eerste onderhoud sedert hy verlede week van die brandhoësorgeenheid na ʼn algemene saal in die Milpark-hospitaal in Johannesburg oorgeplaas is.

Sean het sy getuienis gedeel en gesê hy voel beter en sy pyn is onder beheer.

“Ek wil net vir almal daar buite dankie sê wat my gehelp het, omgee en vir my gebid het.” Hy het in besonder vir Good Morning Angels, en Annerie du Plooy, direkteur van die Hero Burn Foundation, bedank. Hero Burn Foundation is ʼn nie-winsgewende organisasie wat ondersteuning bied aan en omsien na brandslagoffers. Annerie is self ʼn brandoorlewende wat Sean gereeld in die hospitaal besoek en hom met raad en ondersteuning bystaan.

Sean Smith Dinsdag in die Milpark-hospitaal. Foto: Verskaf

Sean Smith in die Milpark-hospitaal. Foto: Verskaf

Sean het gesê hy wil nou net graag huis toe gaan en sien veral daarna uit om by jy jonger boetie te kan wees. As alles goed gaan en dokters tevrede is met sy vordering mag hy dalk Kersfees by sy huis deurbring.

Dianne Broodryk, ʼn joernalis en omroeper van JacarandaFM, het Sean in die hospitaal gaan besoek nadat hy op 17 Oktober derdegraadse brandwonde aan sy hande, ken, nek en gedeeltes van sy rug, bors en arms opgedoen het toe sy hemp aan sy lyf aan die brand geslaan het in ʼn fratsongeluk met petrol. Hy het ook inwendige brandwonde opgedoen toe hy vlamme ingeasem het.

Hy is na die Unitas-hospitaal in Centurion geneem waar dié private hospitaal hom op hul onkoste behandel het voordat hy na die Dr. George Mukari-staatshospitaal oorgeplaas is toe daar ʼn plek oopgegaan het. Daar is egter nie ʼn brandsorgeenheid by dié hospitaal nie en geld is ingesamel om hom na ʼn private hospitaal oor te plaas.

Verskeie geldinsamelings is gehou om te help om vir Sean se mediese onkoste te betaal aangesien sy ma, Mé-Lissa, ʼn enkelma met vier kinders, nie ʼn mediese fonds het nie.

Sy verhaal het talle mense se harte aangeraak nadat dit in die media en op JacarandaFM se oggendprogram, The Complimentary Breakfast, se gewilde Good Morning Angels-liefdadigheidsprogram gedeel is, waarna die publiek hul beursies oopgemaak het. Genoeg geld is ingesamel om hom na Milpark se brandhoësorgeenheid oor te plaas.

Dr. Reuven Jacks, ’n traumachirurg by Milpark, het tydens die onderhoud gesê die ander hospitale wat Sean behandel het, het baie goeie werk verrig. Sean het ’n 42% kans vir oorlewing gehad toe hy daar aangekom het met 57% brandwonde. Nou het hy ’n 99,9% kans op ’n normale lewe.

Rehabilitasie en plastiese chirurgie is nog deel van die pad wat voorlê na herstel.

Lees vorige berigte oor Sean Smith op Maroela Media.

Die video is deur die Good Morning Angelsspan van JacarandaFM se Complimentary Breakfast vervaardig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Johann ·

POWERFULL!!!!! Sien dis wat gebeur as dieselfde God wat hou bedink het en geskape het…jou VOLKOME laat herstel van so n aanslag teen jou lewe. Nie net gesond maak nie…VOLKOME HERSTEL! Jys n getuienis van n LIEFDES WONDERWERK jongman! Jys spesiaal…weet dit.

Liza ·

Ek is so bly jy voel beter!!!! Hou vas aan Jesus en Hy sal jou deur die seer dra!!!!!

Hannelie ·

Ons bid nogsteeds vir jou jongman. Nou kan jy sien, by God is niks onmoontlik nie.

Rbee ·

Op Good morning Angels Jacaranda website. Staan: “within a week over R2.3 million contributed”. Is dit reg? Laaste wat ek gelees het was dit R843 000 wat die luisteraars bymekaar gemaak het

Boetman ·

Mooi Sean! Hou aan met jou geloof en jy sal altyd geseen wees.
Selfs sonder Netcare se R3mil sal jy volkome herstel – dis Sy wil – nie die wil van die geldwolwe nie.

liza ·

God is groot……. en Sy genade net so groot……. Sean so bly dit gaan goed met jou en hoop dat jy volkome herstel……. Dankie vir JakarandaFM se complimentary breakfast … en Good Morning Angels en vir elkeen wat bygedra het vir hom…. daar is nog goeie mense wat nog omgee……. viva Riaan……….

Koos1 ·

Rbee, dit was die R800000.00 net tydens die program, maar nog skenkings het bly in stroom, God sy Dank!
Alle mense, hier is ‘n bewys dat God lewe en nog in beheer is. Bid ook so vir ons land en laat Hom toe om ons land te help!
Sean, jy is ‘n magtige werkstuk in God se Hande, gebruik jou lewe om ander mense ook te wys dat God lewe en in beheer is.
Dankie ook aan Jacaranda en die Hero Burn Foundation en die Hospitale en aan almal wat gehelp het!!! Julle ook is die verlengstuk van God se Groot werke!!!

Justice ·

Sean se belydenis oor die krag van gebed en sy nederigheid maak alles die moeite werd. Voorwaar `n pragtige seun – sterkte vorentoe vir die lang pad van herstel. Jy is `n wenner met `n blink toekoms voor jou.

marie visser ·

Alle eer aan ons Hemelse Vader! Innig dankbaar Hy het Sean volkome genees en dat hy ook getuog van God se genesende krag. Saam met die engele wil ek sing: Heilig, heilig, heilig, Here God Almagtig, Hy wat IS, wat was en weer gaan kom!

Sê maar net ·

My oë is vol trane. Die is net so wonderlik! Sean jy is regtig ‘n pragtige kind. Dankie Here dat U hom so mooi help

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.