[Video’s] Chaos op Loftus toe span verloor

Foto: Via Twitter

Foto: Via Twitter

*Die video’s volg onderaan die berig

Loftus Versfeld in Pretoria is Saterdagaand in chaos gedompel toe ondersteuners van Orlando Pirates op die veld gestorm het terwyl Mamelodi Sundowns besig was om hulle ʼn goeie loesing te gee tydens ʼn PSL-wedstryd.

Volgens ʼn verslaggewer van African News Agency, was dit ʼn skandelike en gewelddadige toneel, wat heeltemal teenstrydig was met die goeie wedstryd.

Die spel is vir ʼn geruime tyd vertraag toe honderde ondersteuners op die veld gestorm het nadat Sundowns ses doele teen Pirates aangeteken het, met 8 minute se speeltyd oor.

“Met die veiligheidbeamptes wat oorweldig is, moes die spelers en beamptes vir hul lewens vlug toe die ontstoke skare op hulle afgestorm het.”

Die verslaggewer sê sowat 15 minute se chaos het geheers, waartydens uitsaaitoerusting beskadig en sitplekke afgeruk is.

ʼn Gepantserde voertuig van die polisie het opgedaag en die skare is met traangas of skokgranate verdryf.

“Ten spyte van die chaos en gewelddadige tonele, kon die spel sowat ʼn uur later voortgaan en die Sundowns hul oorwinning beklink.”

Sover vasgestel kan word, is geen lewensverlies aangemeld nie, maar sommige ondersteuners het wel beserings opgedoen en 13 mense moes hospitaal toe geneem word. Geen spelers of beamptes is beseer nie.

Kapt. Kay Makhubela, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê die polisie ondersoek sake van saakbeskadiging en aanranding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.