[Video] ‘Dís hoekom ons renosters onthoring …’

Foto: Maroela Media

Foto: Maroela Media

“Julle moet verstaan, ons wil nie renosters onthoring nie, maar as dit hulle lewe gaan red, is dit die moeite werd,” sê Tim Parker, bestuurder van Blue Canyon Conservancy in Hoedspruit.

Dié wildreservaat het hande met Isuzu SA en Nkombe-Rhino gevat om ongeveer 25 van sy renosters die afgelope week te onthoring.

Daar is ʼn groot debat oor die onthoorning van renosters en sommige mense meen die onthoorningsproses kan die renoster in gevaar stel, hom weerhou om homself te beskerm en selfs sy gedrag verander, maar Tim sê daar is geen navorsing wat dit bewys nie.

Dr. Peter Rogers, ʼn veearts wat ook nou betrokke is by die projek, beaam dit en sê hoewel die horing vir ʼn rede daar is, is die gebrek aan ʼn horing nie iets wat die renoster se gedrag drasties verander nie. Hy sê die onthoorning spruit uit desperaatheid om ʼn spesie te red.

“Ons is gedwing om renosters te onthoring. Mense sê die massas in China en Viëtnam moet ingelig en opgevoed word, maar ons kan nie tradisies wat ouer as die Christendom is, nou verander nie – daar is nie tyd nie. Ons probeer keer dat ʼn spesie uitsterf.”

Foto: Maroela Media

Foto: Maroela Media

Viëtnam is die setel van onwettige handel in renosterhoring en dit vorm deel van die eeue oue gebruik van tradisionele Chinese medisyne as geneesmiddel vir ʼn wye verskeidenheid van koors.

Dr. Rogers sê daar is ook sprake van kleurstof wat moontlik gebruik kan word in plaas van onthoorning, en hoewel dit ʼn omstrede saak is, toon ʼn onlangse verhandeling dat die kleurstof nie doeltreffend is nie en dat onthoorning nou die vinnigste oplossing is.

Blue Canyon Conservancy het reeds in 2011 begin om sy renosters te onthoring en kan reeds ʼn afname in stropery sien. Omdat die horing weer teruggroei, moet dié proses omtrent elke twee of drie jaar gedoen word. Dit is die derde keer dat sy renosters onthoring moes word. Om ʼn renoster te onthoring verg baie tyd en beloop ongeveer R7 000 per renoster. Die proses is ook nie maklik nie.

“Baie mense vra hoekom ons nie dieper sny en die groeibed van die horing brand sodat die horing heeltemal ophou groei nie, maar dis ʼn groot etiese oorweging – ek dink nie ons sal dit ooit wil doen nie,” sê dr. Rogers.

Foto: Maroela Media

Foto: Maroela Media

Chris Prinsloo van Nkombe-Rhino, sê die hele onthoorningsproses word gereguleer deur die departement van omgewingsake en aansoek moet eers gedoen word vir nodige permitte voor renosters onthoring mag word.

Daar is ook ʼn groot debat oor die wettige handel van renosterhoring in Suid-Afrika en sommige mense meen die renoster kan op dié manier gered word. Prinsloo sê hulle wil nie nou verstrengel raak in die politiek nie, maar fokus vir eers op die renosters en hoe om hulle lewend te hou. “Die koop en verkoop van renosterhoring in Suid-Afrika is tans teen die wet en daarom bekommer ons ons nou net daaroor om hierdie spesie te red.”

Só vind die onthoorningsproses plaas:

ʼn Helikopter word gebruik om die renoster op te spoor en die dier na ʼn oop gebied af te sonder sodat hy maklik bereikbaar is vir die span op die grond. Nadat hy met ʼn pylgeweer vanuit die helikopter geskiet word, sal die span aan die werk spring sodra die dier verdoof is.

Foto: Maroela Media

Foto: Maroela Media

Dr. Rogers meen daar is baie risiko’s as dit kom by verdowing, maar dat dit die doeltreffendste manier is om die renoster te onthoring. “Die witrenoster is baie vatbaar vir die verdowingsmiddel, etorfien-hidrochloried, wat gebruik word. Die middel is 10 000 keer sterker as morfien. Ons voeg ook ʼn ensiem by wat help dat die renoster vinniger verdoof word. Met dié ensiem spaar ons ongeveer twee tot vier minute.”

Elke horing kry ʼn mikroskyfie, word gemerk, geweeg en gemeet en dan in ʼn veilige plek geberg. Sodra die onthoorning klaar is, word die renoster met ʼn teenmiddel ingespuit wat die verdowingsmiddel teenwerk. Die renoster is gou weer op sy voete.

Waarskuwing: Die video kan sensitiewe kykers ontstel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Grap ·

Ek dink hulle moet die horings met ‘n ernstige gif behandel wat nie nadelig vir die dier is nie maar dodelik vir die eind gebruikers van gestroopte horing is

Simon ·

Ek dink die stropers gaan in elk geval die horings stroop en verkoop voor die kopers besef dit is giftig

Koolkop ·

Uiteindelik! Mense wat n etiese probleem het met onthoring het n lae vlak van morele redenasie. Nog iets wat gedoen sou kon word is om horing materiaal na te maak sodat dit die mark oorvloed en sodoende prys verlaag.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.