[Video en foto’s] Taxi kom boer te hulp ná roof

Foto: Facebook.

ʼn Boer van Kinross naby Secunda het ʼn reuseverrassing gekry nadat ʼn gewapende man sy selfoon by ʼn verkeerslig in Witbank van hom geroof het.

Kosie van der Merwe het aan Maroela Media vertel hy was Donderdag in Witbank omdat hy besig is met sy vlieglisensie en hy eksamens moes gaan skryf by die vliegveld daar naby.

“ʼn Ou sluit mos maar altyd jou deure en so, maar ek het vir een of ander rede my venster oopgehad by dié verkeerslig,” het Van der Merwe laat hoor.

Van der Merwe vertel hoe ʼn man na hom gestap en vir ʼn sigaret gevra het. “Sy een hand was is in sy sak. Toe ek vir hom ‘nee’ sê toe raak hy baie aggressief en pluk ʼn Okapi-mes met ʼn 15 cm lem uit en eis my selfoon,” het Van der Merwe vertel.

“ʼn Mens sê altyd jy sal iets kan doen maar in daardie oomblik besef ʼn mens jou lewe is meer werd.”

Volgens Van der Merwe het daar ʼn volgepakte minibustaxi langs hom gestaan. “Hulle het die man gevloek en geskel, maar hulle is ook maar bang. Die man het doodluiters weggeloop. Ek het ʼn U-draai gemaak, voor die taxi verbygery en hom agternagesit.”

Die man het homself uit die voete gemaak en in die taxistaanplek daar naby verdwyn. Van der Merwe het vliegveld toe gery en iemand se selfoon geleen om net sy familie te bel en in kennis te stel dat hy beroof is.

“My vrou sê toe vir my iemand het haar reeds gebel en gesê my foon is by die taxistaanplek ek kan dit kom haal. Ek was eers skugter en het gedink om polisiestasie toe te ry,” het Van der Merwe vertel.

Hy het stilgehou om aanwysings te vra toe daar ʼn motor langs hom stilhou en ʼn passasier vir hom vra: “Is dit jy wat jou foon soek?”

“Die man spring toe saam met my in die bakkie en sê ‘moenie bang wees nie, taxi-mense is goeie mense’. Dit klink vir my hulle het die verdagte daar vasgedruk, sy klere uitgetrek en hom bygedam met sambokke. Toe ek daar aankom het almal vir my ge-cheer en gefluit. Eintlik moes ek vir hulle gefluit het,” het Van der Merwe gesê

Hulle het sy foon aan hom terugbesorg en ook vir hom die mes gewys wat die man gebruik het om hom mee te dreig.

“Hulle het gevra of ek nie vir hulle ʼn koeldrank kan koop nie, ek het sommer R400 gaan trek. Ek is toe in ʼn taxi weer terug na my bakkie geneem. Ek het nooit gedink ek sou in ʼn taxi ry nie. ʼn Mens sien altyd net die negatiewe, maar daar is hoop. Kyk hoeveel positiewe goed het uit hierdie negatiewe gebeurtenis gekom.”

Posted by Kosie van der Merwe on Friday, August 11, 2017

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

56 Kommentare

Theresa ·

Uitsonderlik. Bly jy het jou foon terug en jou lewe behou.

Mooi so ·

DIS mos hoe dit moet wees. Geen rasse goed nie, net mense wat vir mekaar uitkyk…. Awesome storie!

Nicolene ·

Ek stem sooooo saam met jou!!!
Kan dit nie maar elke dag so gaan nie. Geen kleur nie. Net mense se harte

Eish ·

Sulke gebeure van die gewone burgery skyn soos n fyn sonstraaltjie deur die wolke na n twee weke Kaapse motreën. Dis prysenswaardig.

Lollie ·

Pragtige storie! Ek weet hulle is nie almal sleg of skurke nie maar hoe weet mens wie is goed en wie nie. Daar moet meer sulke goeie verhale wees. Dit gee mens meer moed vir die toekoms!

Lee ·

Net so,ek kry sommer n warm gevoel om my hart, om te dink hoe die lewe in SA regtig kan wees…ai tog..

Altie ·

Wat n verfrissende storie! Ek hoop dit gee mense weer geloof in sy medemens en breek die gees van haat en mismoedigheid in ons land. Ons moet onthou dat God in beheer is van hierdie land (en wêreld) se toekoms, en nie hierdie of daardie persoon in die regering van die dag nie.

De Villiers ·

Op die ou einde gaan dit nie oor velkleur nie, maar oor goed en sleg, lig en duister, God en satan.

Renée ·

Awesome…as dit net ñ voorbeeld vir di land kan wees …sal dit ñ beter plek vir almal wees om in te lewe. Dis sulke gebeurtenisse wat ñ mens sommer weer moed wil gee. As al die taxi mense net so voorbeeld wil volg.

Johann ·

Dit is mos nou n lekker artikel om te lees op n Maandag! Baie dankie MM!

Albert Juergen ·

Wonderlik dis mos wat Madiba wou almal saamwerk nie soos Zuma en sy trawante wat gedurigdeur net rassehaat aan stood nie! Werk self elke dag saam met swart mense en ek is lief vir hulld en hulle vir my hulle sal hul lewe vir my gee!

Stan ·

Fantastiese storie! Hoop om nog baie sulke goeie nuus te lees.

Andre ·

Met so n gemeenskap sal selfs ek ook meer hoop he in hierdie verwoeste land.

Daan Erasmus ·

Ek stem saam met die man. In my ondervinding is Taxi bestuurders gawe mense. Dit is omdat die base genadeloos is dat hul so moet jaag.

Goeie Nuus ·

Dankie MM, mag 100% van julle nuus so lyk…soek dit net, dit is daar buite.

Hannelie ·

WOW!! Sien nie alle taxi mense is so sleg nie. Hoop hierdie is ‘n voorbeeld vir die ander taxi mense.

Johnnie ·

10 uit 10 vir daardie mense want dit gebeur net met 1 uit n miljoen mense

dirkie ·

Daar is Mense met Goue HARTE daar buite.

Mag die HERE Julle SEËN !!

Elaine ·

dit is juis die ding daar is altyd daardie slegte appels….tussen die goeie appels

Lalla ·

WOW, wat ‘n mooi storie!! So bly alles het goed uitgewerk vir almal. En die boef sal seker nou weer 2 x dink voor hy iemand beroof.

Maria ·

Goeie voorbeeld vir almal dankie!
Almal nie is sleg nie!
Dit hoe Christene moet optree teen oor jou mede nasie!

Magaretha van heerden ·

Ons woon in die UK en ons kinders in SA. My seuns se ervaring is dat hulle meer hulp van swart mense gekry het as hulle n nood het as van blankes. So alle swartes is nie sleg nie , so ook nie al die witmense nie. Hoekom kan ons nie in vrede leef nie.

VanAfrika ·

Ek dink Julius sterwe 10 dode as hy hierdie artikel lees. Hy se mos die Afrikaner moet “passop”. Nou red swart manne n witte se sel foon en bou weer unity, iets wat Malema en Zuma by verre dop. Julius en Jacob al jul dreigemente maak ons nie bang nie, ons mede broeders en susters sien ook die goed in ons. Hierdie taxi drywers kort n medalje.

amvi ·

Doen kastig ‘n goeie daad maar vra dan inderek vir vergoeding, in die geval koeldrank. Wonder wat sou gebeur indien hulle nie iets in ruil gekry het nie. Hou op om so naief te wees mense.

Reinhardt ·

As jy niks positiefs het om te sê nie, bly eerder stil.

Shame ·

Shame amvi, tog so bly ek is nie jy nie, moet erg wees om so siening oor die lewe te he…

VanAfrika ·

Amvi, hierdie is n raar fenomina, daarom is ons verras dat soiets met ons gebeur en wat is n koeldrank nou in ruil vir jou selfoon en jou lewe. hulle kon maklik hierdie ou ontvoer het vermoor het, maar hulle het net die teenoorgestelde gedoen. ek het in my vorige kommentaar gese hulle verdien n medalje, toe besluit MM om my kommentaar te verwyder vir rede wat net hulle sal weet. Elk geval, gee die ouens wat hulle toekom

Martie ·

Dis opbouende nuus op Maandag oggend. Dankie Jesus dat U hom beskerm het.

Reinhardt ·

Dit het nou n groot glimlag op my gesig gesit. Daar is hoop vir ons land en al sy mense.

Erika ·

“n Paar jaar terug het ons ook by ‘n verkeerslig gestaan in Pretoria middestad. Ek was besig op my selfoon, venster half afgedraai, volgende moment gryp iemand hom deur die venster. Langs ons was ook ‘n volgelaaide taxi. Toe hy dink hy hardloop voor die taxi verby het hy die verrassing van sy lewe gekry. ‘n hele paar mense het hom plat geduik en ek het my selfoon terug. die hondeeenheid het so 2 karre agter ons gestaan. Toe daai lig groen slaan het nie my man bestuur nie maar The Stig homself. Hy kon nie vinnig genoeg uit Pretoria kom nie. Dis iets wat ek nooit sal vergeet nie.

MARYKE ·

well done julle,so kan mens mos saam werk .
Dankie en mag Jul geseen word .

John ·

Waar is ‘n nuwe president vir ons land wat sulke goeie verhoudinge sal bevorder. Ons moet bid daarvoor… iemand wat gee en neem op ‘n etiese en wettige wyse sal bevorder dan sal ons vooruit boer.

Andre ·

Wys jou net hoe baie kan mens change met goeie gedrag!!
Meer sulke gevalle en SA raak onslae van rasisme oornag!!!

Well Done chaps!

Afrikaanse Knaap ·

99.9% van Suid Afrikaners is lekker mense en gatvol vir al die geweld en diefstal en wetteloosheid.

msp ·

Ek was so verheug om die verhaal te lees. Ware Suid Afrikaners wat dood moeg is vir kriminele…..

Johanna Botha ·

Ek vind meeste mense is goed maar o jimmel daar is ook erg vrot appels wat dit vir almal sleg maak …en die regering die anc is VROT !

Bossie ·

Margaretha van heerden ek moet dit beaam. Ekself gaan deur ‘n krisis en my ondersteuningsbasis is anderskleurig. Hoe dit ookal mag klink is ons land in hierdie krisis omdat daar blankes is wat alles vir eie gewin doen. Sommiges is rugstekers van formaat. Eks oppad 60 toe en ek laat my kop in skaamte sak omdat ek hierdie erkenning vandag moet maak. My oë het oop gegaan. Daar is goeie blankes en daar is goeie anderskleurige mense met harte van goud wat ook net in vrede wil leef. Politiek is natuurlik ‘n geldmaak foefie en net so groot rede vir ons land se ondergang. Ek salueer hierdie opregte deel van die reënboognasie. God sal ons genadig wees. Dit kan ‘n goeie land wees as die skuim uitgedryf word.

Besemryer ·

Sjoe, ek het sommer sulke láng hoendervleise! Dit is voorwaar ‘n opbouende storie. Het self ‘n voorval deurgemaak waar ‘n taxi-bestuurder letterlik bo-oor my geduik het toe ‘n sluipskelm ondermeer my hangertjie van my nek geruk het. Ek het vir bykans 4 jaar taxi’s gebruik om na Jhb te pendel vanaf die Vaal. Gebruik nou nog by tye ‘n taxi. Nog nooit enige probleme gehad nie.

Amanda Owen ·

Voorwaar ‘n opbouende storie – ek glo daar is net ‘n klein persentasie slegte elemente in hierdie land want ‘n wrang smaak in die mond los!! Meerderheid mense het goeie verhoudings met mekaar oor die kleurgrens heen!!

Eurika le Roux ·

Haai jinne sit en raak en bewoe hier.. trane le sommer in my ogies.. ja nee hoor dit is so Politiek is ‘n euwel.. so ook die media. Ek se ook dankie vir die opregte deel van ons land se mense. Wonderlik! Met sulke goed dan sien mens daar is tog nog hoop. Vir God is niks onmoontlik nie.

Sandy ·

Wat ‘n pragtige storie, dit wys net as ons almal saam staan teen die kriminele is daar tog ‘n uitkoms vir ons in Suid-Afrika! Ek voel sommer weer positief nadat ek die storie gelees het.

Maggie Pringle ·

Ek is so bly oor sulke positiewe gedrag. Dit is wonderlik.
Ons moet leer om saam te staan teen die duiwel.
Dankie dat jy die storie met ons gedeel het.

avi ·

Wow, kry sommer hoendervleis. As ons almal net wil saamwerk, hoe gelukkig kan ons wees!

Benito ·

Fantastic !!!!…..Klinkklare bewys dat daar meer ‘ goodwill-mense ‘ as kriminele politikuste , amptenare en protesteerders in SA is !!!!

Trinity ·

Dit sal nou nogal lekker wees om ‘n webwerf te kry waar mense sulke stories kan deel. Kyk net in die kommentaar hoeveel soort gelyke stories daar is. Ek self was in ‘n gewapende roof en wou natuurlik niemand van ‘n ander kleur naby my he nie. Die wit mense wou net die “detail” kom hoor – geen simpatie nie. ‘n Swart man het in my kantoor ingekom , sy hande op my skouers kom sit en die mooiste gebed vir my gedoen het. My ondersteuning vir weke daarna was van die nie-blankes, ek het niks van enige blankes ontvang nie. So nee, almal is nie sleg nie. Daar is net soveel “slegte” blankes ook.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.