Die moordbeskuldigde Christopher Panayiotou se minnares, Chanelle Coutts, was Dinsdag in die hooggeregshof in Port Elizabeth, klaarblyklik om haar geliefde te ondersteun.
Coutts het Maandag as ʼn getuie vir die verdediging getuig en het deurentyd probeer vermy dat daar foto’s van haar geneem word. Dinsdag het Coutts egter vol selfvertroue saam met die Panayiotou-familie die hof binnegekom.
Coutts (29), wat as ʼn bestuurder by Panayiotou se OK Grocer gewerk het, het langs Panayiotou se ma, Fanoula, in die voorste ry sitplekke van die openbare galery gesit. Jayde se ma, Michelle Inggs, was ooglopend ontsteld deur Coutts se teenwoordigheid en het die hof in trane verlaat.
Coutts het Maandag in haar getuienis beweer sy dra geen kennis van die gebeure wat tot die moord op Jayde Panayiotou, Christopher se vrou, gelei het nie. Sy het erken dat sy by Panayiotou se huis oorgeslaap het wanneer Jayde nie tuis was nie.
Sy het aan die hof gesê vandat die moordondersoek begin het, het sy en Christopher besluit om eerlik oor hul verhouding te wees. Coutts het gesê sy het “geen idee” hoe die staat inligting verkry het oor die beweerde motief vir die moord op Jayde nie.
Die staat beweer Panayiotou het sy vrou in April 2015 laat vermoor omdat sy vir hom ʼn finansiële las was.
Coutts kon egter nie verduidelik waarom haar selfoonnommer minstens 17 keer gebruik is om met ʼn vermeende sluipmoordenaar, Trompie, te kommunikeer nie. Sy het onder kruisverhoor gesê sy dra geen kennis van die oproepe nie.
Die selferkende middelman en uitsmyter by Panayiotou se Infinity-nagklub, Luthando Siyoni, het na bewering in 2014 ʼn ontmoeting gereël tussen Panayiotou en Trompie nadat die sakeman Siyoni gevra het om iemand te huur om sy vrou te vermoor. Volgens Siyoni se verklaring het niks na dié ontmoeting gebeur nie en ander beweerde sluipmoordenaars is genader.
Panayiotou, Sinethemba Nenembe en Zolani Sibeko staan tereg op aanklagte in verband met ontvoering, roof en die moord op Jayde op 21 April 2015.
Die saak duur voort.
Lees alle vorige berigte oor Christopher Panayiotou op Maroela Media.
Sy moet oppas sy is volgende.
Besef sy nie sy mors haar lewe op vir die man nie. Van die begin af moes sy tweede viool speel. Gun sy dan nie haarself iets beter en geluk nie?
Sy is in elk geval niks meer of beter as “secondhand news” nie.
Ek bewe so ontstel raak ek vir die blatante arrogansie van die vrou. Hoe gaan sy eendag haar kinders morele waardes leer.
Dit was presies my eerste gedagte- woorde. Haar teenwoordigheid en ondersteuning laat mens legkaarte om die hele storie bou- hoe onbetrokke was sy regtig. Inngs familie ons dink aan julle, laat haar trap, sondes bly nie ongestraf!
Hy is so skuldig aan haar moord – hoop hy kry lewenslank tronk straf – en bly agter tralies vir +- 25 jaar – VERDIEN NIKS BETER NIE
Net miskien het die arme kind niks tussen die ore…… om tevrede te wees om Christopher se 2de keuse / speelding te wees en dit bring jou in sulke gemors en dan lyk dit of jy trots daarop is dat jy in ‘n hofsaak getuig en die aandag wat jy kry geniet. ‘n Mooi meisie soos jy verdien beter al besef en verstaan jou kop dit nie, wens jou ouers kon meer tyd aan jou waardigheid en afronding gegee het.