Vier vas ná twee jaagtogte in Pretoria

Argieffoto: SAPD / Facebook

Die Pretoriase polisie het Donderdagmiddag hul hande vol gehad met twee afsonderlike hoëspoedjaagtogte op min of meer dieselfde tyd deur die strate van Pretoria.

Die eerste voorval het in Garsfontein, in die ooste van die stad, plaasgevind en tot ʼn dramatiese einde in La Montagne in die Silverton-omgewing tot ʼn einde gekom.

Volgens kol. Kervin Solomons, stasiebevelvoerder van die Garsfontein-polisie, was polisiebeamptes besig met roetinemisdaadvoorkomsingspligte in die polisiëringsgebied toe hulle ʼn verdagte voertuig opgemerk het.

“Die voertuig het van die polisie weggejaag en die polisie het hulle agternagesit. ʼn Hoëspoedjaagtog het gevolg,” het Solomons gesê.

Hy het gesê die verdagtes het met hul motor, wat glo vroeër as gekaap in Sunnyside aangemeld is, op die hoek van Simon Vermootenweg en Albertusstraat in La Montagne teen ʼn private voertuig gebots. Die verdagtes het verder in Albertusstraat gevlug en weer teen ʼn private voertuig gebots, waarna die verdagtes aangekeer is.

Drie vermeende huisrowers is in hegtenis geneem. Die polisie het beslag gelê op die voertuig, ʼn vuurwapen en vermeende gesteelde eiendom.

Terselfdertyd het ʼn jaagtog in Pretoria-Sentraal begin wat in Pretoria se Moot-gebied tot ʼn einde gekom het.

Kapt. Coba Brits, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê die Pretoria-Sentraal-polisie was besig met ʼn roetine-stop-en-deursoekpatrollie toe polisiebeamptes ʼn swart BMW van die pad af wou trek. Die bestuurder het versuim om stil te hou en in die rigting van Sunnyside gevlug, waar beamptes van die Sunnyside-polisie die voertuig van die pad af getrek het.

“Toe die beamptes uit hul voertuig klim en die verdagte se voertuig genader het, het die bestuurder op hulle afgepeil en probeer om hulle om te ry. Die bestuurder het in ʼn oostelike rigting gevlug en beamptes van die Brooklyn-polisiestasie het kort daarna die voertuig opgespoor en agternagesit,” het Brits gesê.

Lede van die Sunnyside-, Brooklyn- en later ook die Villieria-polisie het by die jaagtog aangesluit.

“Die bestuur van die BMW het op die hoek van Frystraat en Breyerlaan in Waverley op ʼn polisievoertuig afgepyl en dit van die pad af gedruk. Die polisievoertuig het daar teen ʼn paal gebots. Die verdagte het verder in Breyerlaan in die rigting van Codonialaan gevlug. In Codonialaan het die verdagte uit die voertuig gespring en te voet probeer vlug en is kort daarna aangekeer en in hegtenis geneem op twee aanklagte van poging tot moord en twee van roekelose en nalatige bestuur.

“Dit is nog nie duidelik hoekom die man van die polisie wou vlug nie en sal ondersoek word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Muller ·

Die bestuurder van die BMW het soos n besetene gejaag in Fry srt ! Hyt my amper van my motorfiets af gery ! Geen respek vir kindees op fietse , motoriste of voetgangers nie ! Jammer hulle het hom nie raak geskiet nie ! Hy kon baie groot skade en hartseer veroorsaak het ! Bay wel gedaan SAPD ! Bravo !

Michael ·

Die skurk het volspoed deur fry straat gejaag en amper skoolkinders raakgery geen respek vir lewens of vrees vir die SAPS nie die agter ruit was reeds stukkend geskiet net jammer die skurk was nie raakgeskiet nie.

Aitsa ·

MM ek dink julle wou nie se polsievoertuig nie maar wel polisievoertuig ?

Wel gedaan aan SAPD

Phillip ·

Dankie vir jou valkoog Aitsa, ons het die blaps reggestel!

Groete

Phillip Bruwer, nms Maroela Media

Talitha ·

Ek was midde van skietgeveg tussen polisie en die swart BMW. OMW? Die arme studente het gespat

Sb ·

Dis werklik skrikwekkend om hierdie te lees en dit so naby aan ons kinders se skole. Wat gaan deesdae aan ?

Jannie ·

Ja was dit nou wee Steve hul se seun wat dit ge doen het het hul hom gevang as die sapd nie mee wil he ons Jong manne moet die land beskerm nie se net so dan moet Jul hoof meer karre.en mense aanstel

Ai ·

Soos dit vir my klink kan daar nog n paar klagtes maar bygevoeg word.

Goeie werk dat hulle almal gevang het. As die regstelsel maar net so effektief was.

John ·

Beter samewerking tussen spanne is nodig soos by leeutroppe, sodat die prooi nie ver vorder nie en onskuldige menselewens gespaar bly. Skelms gebruik juis die besige verkeer tot hul voordeel om weg te kom. Vinnige identifikasie en bystand en minder bravado by polisie… dis nie tv-opnames nie!

Johan ·

Ek was net besig om in Fry in vanaf die groot sirkel toe die BMW my amper stamp en toe kom die Polisie met hul ST daar verby en mik vir die die kar se wiele. Net skote hoor klap. Maar welldone op SAPD en almal wat betrokke was het goed saam gewerk om die kalant tevang.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.