Vleispryssamespanning ondersoek

vleis

Die Mededingingskommissie ondersoek sewe groot vleisverskaffers vir prysvasstelling. Foto: Secomp/Pixabay.com

Die Mededingingskommissie het vandeesweek op 13 persele van sewe groot vleisverskaffers toegeslaan in sy ondersoek na prysvasstelling en handelstoestande in die bedryf. Hierdie vleisverskaffers koop speenkalwers by boere en voer hulle hoë-energie voer sodat hulle binne ‘n paar maande geslag kan word. Ina Opperman verduidelik waarom die kommissie ondersoek instel.

Die kommissie het gelyktydig op die persele van Karan Beef, Sparta Foods, Chalmar Beef, Beefmaster Kimberley, Morgan Beef, Beefcor en Midland Meat toegeslaan. Die maatskappye bedryf voerkrale in Gauteng, die Vrystaat en die Noord-Kaap en verkoop beesvleis aan groot- en kleinhandelaars.

Volgens ‘n verklaring van die kommissie het hierdie vleisverskaffers na bewering ooreengekom of saamgespan om pryse en handelstoestande vas te stel vir die aankoop van speenkalwers van boere en die verkoop van vleis aan groot- en kleinhandelaars.

“Die vleisbedryf vorm ’n belangrike deel van die voedselsektor, een van die belangrike sektore vir die kommissie. Ons werk is daarop gerig om samespanning in die hele voedselsektor te beveg, aangesien die weerloosste mense in die land die grootste deel van hul inkomste aan kos bestee,” het die kommissie gesê.

Die Mededingingskommissie

Die Mededinginskommissie, Mededingingstribunaal en Mededingingsappèhof is ingestel in terme van die Mededingingswet. Die Mededingingskommissie ondersoek oortredings van die wet en pas die wet toe, terwyl die tribunaal uitspraak lewer oor bepaalde sake. Die hof oorweeg appèlle teen uitsprake van die  tribunaal. Al drie liggame is onafhanklik, maar moet administratief verantwoording doen aan die departement van ekonomiese ontwikkeling.

Doel en funksies van die Mededingingskommissie

Die Mededingingswet gee die kommissie die reg om beperkende sakepraktyke te ondersoek, reguleer en evalueer en te waak teen die gebruik van dominante posisies en samesmeltings in die mark om billikheid en bekwaamheid in die Suid-Afrikaanse ekonomie te verseker.

Die doel van die kommissie is om mededinging in Suid-Afrika te bevorder en onderhou deur:

  • Billikheid, aanpasbaarheid en ontwikkeling van die ekonomie te bevorder;
  • Mededingende pryse en produkkeuses aan verbruikers te verseker;
  • Werkskepping en die sosiale en ekonomiese welvaart van Suid-Afrikaners te bevorder;
  • Geleenthede vir Suid-Afrikaanse deelname aan wêreldmarkte uit te brei en die rol van buitelandse mededinging in die land te erken;
  • Te verseker dat klein en medium ondernemings ‘n gelyke geleentheid het om aan die ekonomie deel te neem; en
  • ‘n Groter verspreiding van eienaarskap, veral onder voorheen benadeelde mense, te bevorder.

Om hierdie doel te bereik, is die kommissie se kernfunksies die implementering van maatreëls om markdeursigtigheid uit te brei, sowel as maatreëls om te verseker dat die publiek weet wat die bepalings van die wet is. Die kommissie moet ook teen-mededingingsgedrag ondersoek en evalueer en formeel ondersoek instel na die algemene toestand van mededinging in die markte. Verder kan die kommissie aansoeke om vrystelling van die bepalings van die wet goedkeur of afkeur en samesmeltings, met of sonder voorwaardes, magtig of verbied. Die kommissie kan ook onderhandel oor toestemmingsbevele en sake verwys na die tribunaal, waar die kommissie ook kan verskyn.

Die kommissie kan met enige regulerende owerheid onderhandel en ooreenkom om die uitoefening van sy jurisdiksie oor mededingingsake in die betrokke nywerheid of bedryf te koőrdineer om die konsekwente toepassing van die beginsel van die Wet te verseker. Verder kan die kommissie ook deelneem aan enige regulerende owerheid se verrigtinge en raad gee of ontvang.

Dit val ook binne die kommissie se magte om wetgewing en openbare regulasies te hersien en aan die minister verslag te doen oor enige bepalings wat onmededingende gedrag toelaat. Die kommissie kan verder enige saak wat die tribunaal na hom verwys hanteer.

Wysigings aan die wet maak dit ook moontlik om strafregtelik op te tree teen direkteure en bestuurders wat saamspan of stilswyend instem daartoe en maak toegewings vir die beskerming vir fluitjieblasers.

Die Mededingingskommissie ondersoek ook tans beweerde prysvasstelling en kartelbedrywighede deur van die grootste agente by varsproduktemarkte en kleinhandelaars, sowel as die farmaseutiese bedryf waar hy fokus op sekere medisyne vir kankerbehandeling.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

MCH ·

Ek hoop maar vir die vleisverskaffers se part het hul nie skuldig gemaak hieraan nie. Ons kom nou al n lang pad met die onmededingende gedrag sedert die samespanning in die meelbedryf oopgevlek is. Ek kan nie glo groot en gevestigde ondernemings soos gemeld sal hul skuldig maak hieraan met die vorige gevalle se geskiedenis in die agterkom nie. Die mededingingskommissie beboet jou dat jy luister. Indien hul wel skuldig is, vat hul flaffie!

Drakensberger ·

Hoogtyd! Ons as speenkalf produsente, veral die kleiner produsente, is lank genoeg geboelie deur voerkrale.

Boerseun ·

Tyd dat ons Boere die jb’s uit lanbou druk. Pnp , Karan se monopolies moet gestop word. Ek kry
ma tussen r23 en r26 p/k. Julle ave betaal 75p/k bees en r 120 vir rump. Iets klop nie en droogte se agerstewe

Tjoppie ·

Die verbruiker het die prysbetaal vir die duur artikels of kos die skuldiges word beboet en dis regso maar kan die verbruiker nie ook n mate van vergoeding terug ontvang hoekom moet die Staat al die geld kry …….vra maar net

Sonja Beeston ·

BOERSEUN jy moet vir tannie kom kuier dan verduidelik ons vir jou hoeveel dit kos en hoekom die verbruiker R75 vir die bees betaal. Dan sal jy mooi verstaan.

Boontjie ·

Indien die Voerkrale hierbo genoem NIE skuldig is nie, watter aksie indien enige kan teen kommissie geneem word. Hul VERMOED, het geen bewyse nie maar die saadjie is klaar geplant, skade aan die industrie is klaar gedoen. Hoeveel mense gaan nou hul werk verloor oor vals aantuigings?

Eish ·

Dit is hoekom maatskappye jaloers moet waak oor hul reputasie en nie eers moet wag totdat die vlamme hemel hoog reik nie. Kyk die onlangse arrogansie van Ford. Die voerkrale kon almal reeds mediaverklarings uitgereik het soos die farmaseutiese industrie wie se reaksie saam met berig in vandag se Maroela media verskyn.

Boerseun ·

Koop direk van die boer. Ons kan gehaltevleis voorsien direk. jy moet net die klein moeiete doen en vleis nie in pnp Koop nie.

Wil weet ·

Boerseun waar kry mens julle in die hande om vleis te koop?

anton ·

Ek sal nie verbaas wees indien hulle skuldig is aan die bedryf nie. Waar n rokie is, is gewoontelik n vuurtjie.
Vandag gaan alles mos net oor geldmaak en bogger die res.
Die verbruiker is mos gewoontelik die een wat maar net moet hoes en betaal!!!

Yster ·

Dis goeie nuus. Nou moet die groot supermarkte ook ondersoek word vir buitensporige winste op lam en skaapvleis. Pryse styg weekliks. Lam rug chops tot R 50 per kg meer as gem.prys per kg gebetaal vir karkas . Bv heel lam R 80.00 per kg. Chops R130.00 en meer per kg. Goedkoopste snt bv. skenkels R 100:00 per kg. Gem wins per Kg is 40%. Skande ondersoek asb.

Jack Russel ·

Dit het n lekker en maklike manier vir die regering geword om hulle koffers vol geld te maak sonder om daarvoor te werk. Die feite is egter dat die beeste en ook skape besig is om al minder in SA te word agv. plase wat nie meer produseer nie. Vir elke 10 plase wat in swart besit beland is daar nie n tiende van die beeste wat normaalweg op die plase geproduseer is nie. Dit veroorsaak tekorte in die mark en daarom gaan pryse op. En maak julle klaar daarvoor om nog meer vir vleis te betaal want die tekort word net groter al eet mense minder vleis gaan dit nie help nie. Die staat dink as hy voerkrale kan vasvat sal vleis goedkoper word vir die massas maar dit gaan nie gebeur nie. Vraag en aanbod bepaal die prys en die aanbod is te laag. Voerkrale het nie 50% van die laaste paar jare se getalle hierdie jaar in nie. Ek kan sien dat voerkrale behoorlik vuis slaan om n paar speenkalwers in die hande te kry sodat hulle net hul oorhoofse kostes soos lone te kan volhou. Ek voorspel dat die prys nog sal opgaan en dat die tekorte sal toeneem. Die staat sal mos vleis invoer goedkoper as wat dit hier geproduseer kan word. Druk die groot voerkrale dood en ek verseker julle sal almal bloei. Die boere se afset sal krimp en julle as verbruiker gaan meer betaal vir vleis. Hierdie is net die begin.

Dries ·

Mooi gestel Jack Russell die kiesers wat die regering aan bewind moet hou kry swaar agv die regering se onvermoe. Nou moet algar in die voedselketting ondersoek word om die pryse te probeer laag hou en negatiewe pubkisiteit vir die bedryf te skep. Intussen verlaag hulle seker die invoertarrief..

Jacques Venter ·

Lank terug gehoor dat die vervoer verskaffers ook so n ooreenkoms het/gehad het.
Dalk ook iets wat ondersoek kan word

Braam ·

Die voerkraal bedryf is meer winsgewend is as die veeboerdery self?? Al wat veeboer is wil nou ‘n voerkraal begin. Hoe dan so…vir ‘n bedryf wat reeds 300 jaar+ bestaan, teenoor n relatiewe nuwe bedryf???

Koos ·

Minder vleis: Beter gesondheid? Dink nie oom Tim gaan saamstem nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.