Vrou sterk aan ná Lephalale-plaasaanval

Drs. Werner en Mariette Emslie. Foto: Via Facebook

Dr. Mariëtte Emslie (55), die vrou wat verlede week gewond is in ʼn plaasaanval in Limpopo waartydens haar man, dr. Werner Emslie (55), doodgeskiet is, sterk goed aan in die Pretoriase hospitaal waar sy behandel word.

Dr. Victor Emslie (53), Werner se broer wat as die familie se woordvoerder optree, het Dinsdag aan Maroela Media gesê haar toestand is stabiel. “Sy word nog steeds in die waakeenheid behandel, maar sy is van die ventilator af en is wakker,” het hy gesê.

Maroela Media het vroeër berig die aanval het Woensdag om 20:00 op die egpaar se plaas in die Afguns-omgewing buite Lephalale (Ellisras) plaasgevind. Mariëtte is ʼn algemene praktisyn op die dorp en Werner was ʼn geliefde boer en dokter in bedryfsgesondheid.

Vier aanvallers, waarvan twee met vuurwapens gewapen was, het op die egpaar se plaas toegeslaan en Werner summier doodgeskiet terwyl hy buite sy huis op die stoep gesit het. Mariëtte en die egpaar se dogter, Barbara (19), ʼn eerstejaar mediese student aan Tukkies in Pretoria, was in die huis.

Die aanvallers het hulle in die huis oorval en gedwing om die kluis uit te wys. Mariëtte is tydens die voorval in die maag geskiet, met pangas aangerand en met die vuis in haar gesig geslaan. Barbara is vasgebind voordat die aanvallers met twee vuurwapens in die egpaar se splinternuwe bakkie op die vlug geslaan het. Die bakkie is later verlate gevind, ʼn paar kilometer van die plaas.

Barbara kon daarin slaag om los te kom waarna sy hulp ontbied het en haar ma bygestaan het. Barbara is nie ernstig beseer tydens die voorval nie.

Mariette is in ʼn kritieke toestand na die Mediclinic Lephalale gehaas. Die koeël het haar lewer getref en sy moes ʼn noodoperasie ondergaan om die bloeding te stop. SA CAN (Community Action Network) en AfriForum het ʼn helikopter van Netcare 911 uit Gauteng laat kom om haar na die Muelmed-hospitaal in Pretoria te neem vir behandeling en sy is Donderdag in die vroeë oggendure opgeneem.

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, provinsiale polisiewoordvoerder van Limpopo, het Dinsdag aan Maroela Media gesê niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. “Die soektog duur onverpoosd voer en sterk leidrade word opvolg.”

Die Lephalale-polisie ondersoek ʼn plaasmoordsaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Tiger ·

Ai dokter Mariette,ons bid jou ‘n spoedige en volkome herstel toe.
Ons het ‘n week gelede by vriende op ‘n plaas in daai omgewing gaan kuier.Hulle algehele onparaatheid het ons geskok.Die buurtwag radio antenna is staande maar hulle het nie ‘n radio nie en is ook nie van plan om een te kry nie.Ons het ons buurwag radio in ons voertuig saamgery EN my man was heeltyd gewapen omdat ons ook op ‘n plaas woon maar ver daarvan daan.Mense leef in totale ontkenning tot hulle aangeval word.Dis om van te huil.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.