Vrou vas vir man se huurmoord

Argieffoto

Argieffoto

ʼn KwaZulu-Natalse vrou het vandeesweek in die hof verskyn op aanklag dat sy ʼn huurmoordenaar gekry het om haar man koelbloedig buite sy huis dood te skiet.

Die vrou, Thokozile Mhlongo (46), en haar mede-aangeklaagde, Zamani Gasa (28), het Maandag in die Ntuzuma-landdroshof verskyn vir die moord op Wiseman Mhlongo (51).

Mhlongo se liggaam is op 16 Oktober vanjaar buite sy huis Newland Heights in KwaMashu aangetref met verskeie skietwonde. ’n Intensiewe ondersoek het gelei tot die inhegtenisneming van sy vrou, Thokozile.

Die staat beweer Thokozile het ʼn huurmoordenaar gekry om haar man dood te skiet. Ná haar inhegtenisneming het Thokozile lede van die ondersoekspan na Gasa gelei wat na bewering die middelman was wat die huurmoordenaar vir haar gekry het. Die huurmoordenaar is steeds op vrye voet.

Die saak teen Mhlongo en Gasa is tot 31 Oktober uitgestel.

Genl.maj. Bheki Langa, die KwaZulu-Natalse waarnemende polisiekommissaris, het die speurders gelukgewens met hulle goeie werk. “Ons is baie beïndruk met ons beamptes wat so hard gewerk het om die verdagtes aan te keer. Ons speurders sal voortgaan met die ondersoek totdat al die oortreders die straf kry wat hulle verdien,” het Langa gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.