Wees waaksaam en slaan kaartbedrog hok

Argieffoto

Argieffoto

Kaartbedrog van meer as R250 miljoen in 2015 in Suid-Afrika dui daarop dat dié kwessie steeds ʼn groot probleem is ten spyte van die Suid-Afrikaanse Bankrisiko Inligtingsentrum (SABRIC) wat ʼn afname vir 2015 aangekondig het.

Elmarie Twilley, woordvoerder van Virseker, sê selfs ’n verhoogde skyfie- en PIN-sekuriteit is nie genoeg om misdadigers te keer om kaartbedrog te pleeg nie.

“Misdadigers gebruik steeds kaartvasklemming en -ruiling by OTM’s terwyl hulle jou PIN oor jou skouer afloer. Wanneer dit by kredietkaarte kom, het Kaart Nie Teenwoordig (KNT)-bedrog met 12,6% toegeneem. Dit is verantwoordelik vir 75% van verliese verwant aan kredietkaarte wat in Suid-Afrika uitgereik is,” het Twilley gesê.

Sy meen een van die hoofredes waarom kaartbedrog voortduur is dat verbruikers nie voldoende waaksaam is nie en ander te maklik vertrou. “Videomateriaal wat van OTM-sekuriteitskameras verkry is toon dat misdadigers gereeld goed geklede mense is wat lyk asof hulle bloot met alledaagse take besig is. Die sleutel tot enige bedrieër se sukses is illusie, waar die slagoffer geen onraad vermoed nie en glo dat die misdadiger niemand anders is as ʼn gawe vreemdeling wat opreg probeer help nie.”

Kaartaflesingstoestelle en mikrokameras word gereeld in Suid-Afrika deur kaartmisdadigers gebruik. Hierdie OTM en Punt van Verkope (PVV)- aflesingstoestelle word op die kaartgleuf geïnstalleer en gestoor met behulp van ʼn klein verwerker en geheuekaart met die kaart se data. Mikrokameras wat omtrent so groot soos ʼn pen se punt is word in die panele bokant die kontantgleuf gemonteer en neem beeldmateriaal van die sleutelbord. Die kaart se data en pinkode word dan gebruik om ʼn herkodeerde, ten volle funksionele, vervalste kaart te maak.

ʼn Ander modus operandi wat gebruik word, is dié van kaartruiling. “ʼn Misdadiger gee voor dat hy met ʼn OTM sukkel en laat die slagoffer toe om sy kaart te probeer. Die misdadiger bied aan om die slagoffer te help en ruil, sonder dat die slagoffer dit agterkom, die kaart met ʼn vals kaart van soortgelyke voorkoms om – terwyl hy seker maak dat hy ʼn ogie op die sleutelbord hou om die slagoffer se PIN te kry.”

Vermy kaartbedrog met dié wenke:

  • Wees ten alle tye bewus waar jou kaart is.
  • Moet nooit jou PIN-kode verklap nie.
  • Moenie jou kaart en jou PIN-kode saam bêre nie.
  • Vermy swak-verligte OTM’s.
  • Maak seker dat niemand jou dophou terwyl jy jou PIN-kode insleutel nie.
  • Staan na aan die OTM en maak seker dat omstanders nie jou hand kan sien terwyl jy die PIN-kode insleutel nie.
  • Maak seker dat jy jou hand oor die kaartgleuf hou om te verseker dat niemand jou kaart kan neem nie.
  • Moet nooit hulp aanvaar nie – nie eers van ʼn sekuriteitswag nie.
  • Moenie toelaat dat iemand jou aandag aftrek terwyl jy ʼn transaksie by ʼn OTM doen nie.
  • Maak seker dat die kaart wat jy gebruik jou eie is, voor sowel as nadat jy ʼn transaksie afgehandel het.
  • Moet nooit jou geld by ʼn OTM tel nie.
  • Kanselleer jou kaart onmiddellik wanneer dit verlore, gesteel, beskadig of deur ʼn masjien teruggehou word. Moenie toelaat dat iemand anders die oproep namens jou maak nie.
  • As een of twee OTM’s in ʼn bepaalde area nie werk nie, is dit beter om nié na die naaste OTM in dieselfde area te gaan nie. OTM’s word gereeld gesaboteer om slagoffers na ʼn bepaalde OTM te lei.
  • Indien ʼn OTM of PVV-toestel beskadig lyk, die skerm niks vertoon nie of dit lyk asof daaraan gepeuter is, moet dit nie gebruik nie.
  • Verlaag jou daaglikse onttrekkingslimiet om te help vermy dat misdadigers al jou geld steel indien hulle wel hul kloue op jou kaart kry.

Besoek Virseker se webwerf vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

E.K. ·

Is daar iets wat mens kan doen om die kaartgleuf na te gaan as daar sulke toestelletjies geinstalleer is? Kan mens dalk met ‘n stuk papier eers deur die gleuf heen en weer skuif voor jy jou kaart insit? Dit help nie mens doen bg en dat daar steeds klein toestelletjies geinstalleer is wat alles kan lees nie! Enige raad van Virseker?

sarie van heerden ·

Ons wag vir kommentaar vanaf Virseker asseblief.

sarie van heerden ·

Indien, soos jul teruggeantwoord het, my kommentaar gedupliseer is waarom het die eerste een nie op die skerm verskyn nie en was daar ook slegs een ander kommentaar totaal verskillend van myne.

Michiel ·

Maroela, kan jul dalk opvolg en antw kry by Virseker? Dankie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.