‘Wonderwerk’ vir baba Lara

Baba Lara in die hospitaal. Foto: Facebook

Baba Lara in die hospitaal. Foto: Facebook

Klein Lara van Vuuren, die baba wat talle mense se harte aangegryp het toe sy op 26 weke, 14 weke te vroeg, gebore is, sal dalk binnekort vir die eerste keer kan huis toe gaan.

Jean-Mari Kellerman van Vuuren, Lara se ma, het op Lara se Facebook-ondersteuningsgroep gesê haar “kleine wonderwerkie” weeg op haar ouderdom van 110 dae reeds 1,9 kg, byna drie keer haar geboortegewig van 650 g.

Maroela Media het vroeër berig dat die drieling-dogtertjies, Lara, Lily en Julia, op 30 Oktober 2016 in Kaapstad vroeggebore is. Die drie sussies is al drie met gate in hul hartjies gebore (patent ductus arteriosus), ʼn lewensgevaarlike hartdefek. Lily is net ʼn dag ná haar geboorte dood en Julia het op 3 Januarie in die hospitaal gesterf.

Nadat Jean-Mari die verhaal van die drie sussies op Facebook gedeel het, het talle gebede en boodskappe van ondersteuning vir die ouerpaar ingestroom. Die Facebook-ondersteuningsgroep wat Jean-Mari vir Lara begin het, het reeds byna 8 000 lede.

Baba Lara help die kardioloog met haar hartsonar. Foto: Facebook

Baba Lara “help” die kardioloog met haar hartsonar. Foto: Facebook

Jean-Mari het Vrydag op dié blad vertel dat haar “klein vegtertjie” die dokters verstom met haar mediese vordering. Volgens Lara se kardioloog het daar ʼn wonderwerk [ten opsigte van haar hartdefek] plaasgevind. “Dis steeds daar, maar sy hoef nie nou oorgeplaas te word na [die] Chris Barnard [-hospitaal] vir die operasie nie. Die kardioloog gaan die hartjie in dié stadium monitor en ná ses maande herevalueer. Dis vir ons ʼn ongelooflike wonderwerk en verligting,” het sy gesê.

“Ons bid en hoop om in die eerste week in Maart te kan huis toe gaan.”

Volg die “Bid vir baba Lara”-blad hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jane ·

Dankie Jesus vir die verhoring van gebede. Almal het gebid, selfs ons wat die egpaar en hulle babatjie nie self ken nie. Dankie dat U hierdie mooi mensie se lewe gespaar het, ek glo die Here het ‘n doel met haar soos met elkeen van ons! Dit gaan ongelooflik wees vir haar gesin na al die hartseer en trauma. Sterkte vir julle en gee haar duisende drukkies en soentjies!

Jaques ·

Sjoe, so verskriklik bly om te hoor dit gaan so goed, ek sit sommer weer met trane in my oe.
Mag kleine Lara net van krag tot krag gaan, sodat almal Sy grootheid kan sien.
Wow!!

w ·

Dankie Dankie Jesus. Vir hierdie Wonderwerkie. Asb Here ons smeek U om asb hierdie babatjie verder te behoed en bewaar dat sy haar ouers se bondeltjie vreugde sal wees. Dankie Vader

lw ·

Sterkte, mag die klein wonderwerkie net van krag tot krag gaan. My innige simpatie met die ouers in die moeilike tyd.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.