Zephany Nurse sal agter geslote deure getuig

Morne en Celeste Nurse, Zephany se biologiese ouers. Foto: ANA

Morne en Celeste Nurse, Zephany se biologiese ouers. Foto: ANA

Die media sal nie toegelaat word om oor die getuienis van die 19-jarige Zephany Nurse te berig wanneer sy in Augustus vir die staat teen haar ontvoerder getuig nie.

Regter John Hlophe het Maandag in die Wes-Kaapse hooggeregshof beveel dat Zephany se getuienis in camera aangehoor word en dat vier verslae, waaronder die slagoffer-uitwerking-assessering van Zephany en haar biologiese ouers en die paroolbeampte se verslag, ook nie aan die publiek bekendgemaak word nie.

Evadne Kortje, die staatsaanklaer, het aan die hof gesê die verslae bevat sensitiewe en persoonlike inligting.

Zephany is op 30 April 1997, toe sy net drie dae oud was, uit haar wiegie langs haar ma se bed in die Groote Schuur-hospitaal ontvoer. Die beskuldigde wie se naam nie genoem mag word nie om Zephany se ware identiteit te beskerm, is in Maart skuldig bevind aan ontvoering, bedrog en oortreding van die Kinderwet. Haar borgtog is met haar skuldigbevinding teruggetrek en sy is sedertdien agter tralies.

Vonnisverrigtinge sou na verwagting Maandag begin, maar adv. Reaz Khan vir die verdediging, het aan die hof gesê dat hy al sedert Maart vir die geskrewe uitspraak wag en dat hy dit eers Maandagoggend ontvang het. Hy het gesê hy benodig die uitspraak vir verslae wat saamgestel moet word vir die vonnisverrigtinge. Die saak is tot 1 Augustus uitgestel.

Morne Nurse, Zephany se pa, het buite die hof aan die media gesê hy is teleurgesteld oor die vertraging van die saak. “Ons moet nou nog twee maande wag. Ons is eintlik nie baie gelukkig met die verrigtinge in hierdie stadium nie, maar ons wil die media bedank wat die familie in hierdie tyd ondersteun het.”

Zephany Nurse se ware identiteit het verlede jaar aan die lig gekom nadat haar jonger biologiese suster by dieselfde hoërskool as sy begin skoolgaan het. Nadat klasmaats gegis het oor die twee meisies so baie na mekaar lyk, het Zephany se suster haar pa van die meisie in haar skool vertel. Morne het met sy eie ondersoek begin, die tiener ontmoet en die Valke in Februarie ingelig. Die beskuldigde is kort daarna in hegtenis geneem.

DNS-toetse het bevestig die meisie is die kind na wie die egpaar al jare lank soek.

Sedert die beskuldigde se inhegtenisneming, is Zephany nie toegelaat om kontak te hê met die vrou wat haar grootgemaak het nie. Sy sal in Augustus vir die eerste keer in 17 maande van aangesig tot aangesig kom met die vrou wat sy nog altyd as haar ma beskou het.

Morne het buite die hof aan die media gesê die familie is deur ʼn baie moeilike tyd met die saak. “Ons kan dit nie meer hanteer nie. Ons is moeg. Die wêreld kan ons nie blameer vir wat hierdie vrou [die beskuldigde] moet deurgaan nie. Sy is in die hof se hande en die gereg moet sy gang gaan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Maria van Dieweeck ·

Kry almal van hul jammer op verskillende maniere, maar veral Zephany..sterkte kind, kyk vorentoe en na bo…

eina ·

laat my dink aan die Namibise dogters Angela en Sharona Poulton wie 39 jare gelede verdwyn het met hulle pa Bernard aka John. tot vandag volg die moeder Lily Wren van Walvisbaai elke leidraad op. die dogters behoort al in hulle vroee veertigs te wees. onlangs was daar weer n “profeet” wie die moeder vertel het haar dogters en hulle pa, seker al in die 80, woonagtig is inn gevaarlike woonstel gebou in Jhb. feit is, dit is n wind wat nooit genees nie.

charlene ·

So baie hartseer in die verhaal, haar groot maak ouers, haar regte ouers, haar sussie, en sy. Die pyn verwarring waardeer sy moet gaan moet erg wees. (ek sou baie graag wil lees wat sy sê) Maar wat word van die kind, sy is reeds mondig en alles. ek ken die pyn van jou kind verloor en dan sien mens elke liewe swanger vrou raak maar hoe steel jy `n ander mamma se baba. Dis wreed.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.