Zuma mors belastingbetalers se geld in die hof, sê EFF

Mbuyiseni Ndlozi. Foto: Twitter

Mbuyiseni Ndlozi. Foto: Twitter

Pres. Jacob Zuma moet uittree en homself daarvan weerhou om te appelleer teen die hooggeregshofuitspraak dat hy deur 783 korrupsieaanklagte in die gesig gestaar word, het die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) Vrydag gesê.

Die hooggeregshof het Vrydag Mokotedi Mpshe, voormalige nasionale direkteur van Openbare Vervolging, se uitspraak in 2009 – dat al die aanklagte laat vaar moet word, tersyde gestel.

Mbuyiseni Ndlozi, woordvoerder van die EFF, het aan ANA gesê Suid-Afrika kan nie ʼn president hê wat “tussen die hof en die Uniegebou beweeg” nie. “Hy moet individueel antwoord gee op elkeen van daardie aanklagte en 780 klagtes is te veel. Hy moet uittree en die proses onverhinderd laat voortgaan… daarbenewens moet hy ook nie appèl aanteken nie. Ons verwerp enige verdere gebruik van belastingbetalers se geld. Die land het Zuma nooit gestuur om deel te wees van onwettige aktiwiteite nie. ʼn Appèlaansoek is ʼn vermorsing van geld en in wese korrup.”

Adjunkregterpresident Aubrey Ledwaba het Vrydag die “spioenasiebande”-uitspraak aan ʼn vol bank regters voorgehou in die uitgerekte saak wat die Demokratiese Alliansie gebring het. Die hof het bevind dat Mpshe onder druk was toe hy beslis het dat die vervolging teen Zuma nie voortgesit moet word nie.

Mpshe het die saak uitgegooi op die basis dat die sogenaamde spioenasiebande – opnames van telefoonoproepe tussen senior aanklaers – voorgestel het dat hulle die tydsberekening om Zuma te vervolg oor bedrog, korrupsie en swendelary, vir politieke doeleindes gemanipuleer het. Die DA het oor die jare heen volgehou dat dit nie ʼn voldoende rede was om die 783 aanklagtes terug te trek nie.

Lees alle vorige berigte oor die spioenasiebande op Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jef ·

Malema sien sy kans skoon, hy kan nie wag om president te word nie. en dan begin alle ellende weer van vooraf of dit gaan aan waar dit opgehou het.

Kadot ·

Wanneer kom Malema se beurt om al die aanklagte teen hom as spierwit onskuldig te bewys?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.