105-jarige laat speke tot in die rekordboeke sing

Robert Marchand (105) Foto: ANA/AP

Robert Marchand (105) Foto: ANA/AP

Op die oppervlak lyk sy lewe doodnormaal: Soggens jil sy wekker nog voor die hane begin kraai. Dan staan hy op, borsel sy tande, was sy gesig en gaan stap om die blok. Deur die dag doen hy “nie eintlik iets spesiaal nie”, maar stap tog die ekstra myl wanneer hy oefen. Saans trap hy fiets – ʼn passie wat hy byna eers ná ʼn eeu van leef ontdek het.

Daar is tog iets uniek en ongewoon aan hom – vir die 105-jarige Robert Marchand van Frankryk was ouderdom nog nooit ʼn hindernis nie – inteendeel, dié wêreldrekordhouer en amateurfietsryer sê ʼn hoë ouderdom is juis ʼn geleentheid om selfs meer te probeer behaal.

Dit is immers nie leë woorde nie. Marchand was op 103 die eerste én enigste wêreldrekordhouer van die sogenaamde “One hour-cycling”-uitdaging nadat hy 14 myl (ongeveer 22km) in een uur op ʼn fiets gery het. Organiseerders moes die kategorie vir 100 jaar en ouer skep, omdat niemand nog dié uitdaging aangedurf het nie. Sportkundiges was egter nóg meer stomgeslaan.

Marchand het op 15 as vragmotorbestuurder en tuinier begin werk en het op 76 eers afgetree. Dit is eers ná sy aftrede wat hy begin fietsry het en ʼn belangstelling in oefening ontwikkel het.

Robert Marchand (105) Foto: ANA/AP

Robert Marchand (105) Foto: ANA/AP

Dié wêreldrekord was daarom nie vir hom genoeg nie, omdat hy geglo het hy kan selfs meer bereik.

Marchand het kort nadat hy die rekord opgestel het saam met Veronique Billat, ʼn professor in sportkunde aan die Universiteit van Evry-Val d’Essonne, begin werk om sy prestasie verder te verbeter.

Volgens prof. Billat dui die sportkunde daarop dat dit byna onmoontlik is om iemand se aërobiese fiksheid te verbeter ná die ouderdom van 50 jaar. Dié fiksheid word gemeet deur die sogenaamde VO2 max, ʼn maatstaf wat wys hoe goed en effektief ons liggame suurstof gebruik. Die maatstaf is in sportkunde ʼn algemeen aanvaarde fiksheidsmaatstaf.

Ná langer as ʼn jaar se oefening was sy VO2 max-vlak 13% hoër as wat dit voorheen was. Volgens toetse het hy op 105-jarige ouderdom die fiksheidsvlak van ʼn 50-jarige man gehad.

Marchand het gepoog om sy eie wêreldrekord te verbreek en daarin geslaag om dié keer 17 myl (ongeveer 28km) af te lê – 5km verder as voorheen.

Billat sê dié prestasie word nou verder ondersoek om te kyk of die sportkunde nog altyd verkeerd was oor fiksheid en ouderdom.

Robert Marchand (105) Foto: ANA/AP

Robert Marchand (105) Foto: ANA/AP

Sy sê egter die eerste studies toon dat, hoewel jy jou fiksheid op ʼn gevorderde ouderdom kan verbeter, dit baie afhang van leefstyl, dieët en gene.

Marchand het aan The New York Times vertel hy is teleurgesteld in die tyd wat hy met die tweede probeerslag opgestel het, selfs al was dit ʼn beter tyd en gaan volgende jaar, op 106 wéér die rekord breek.

“Ek glo nie dit het met veel anders te doen as met jou ingesteldheid en wat in jou kop aangaan nie. As jy ʼn ding wil doen, sit jou kop daarop en doen dit,” sê hy.

Bron: The New York Times

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Andre ·

Dit wys jou net . Mense wat dink hulle weet alles , weet nie altyd alles nie ! Mooi so my omie !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.