Bekendes praat ná bewerings teen rolprentmagnaat

Harvey Weinstein (Foto: YouTube)

Nadat ʼn storm verlede week om Harvey Weinstein (65), die bekroonde Amerikaanse rolprentvervaardiger en mede-stigter van The Weinstein Company, se kop losgebars het ná aantygings van seksuele aanranding en verkragting, het talle bekendes hulle stemme vandeesweek by dié aanklagte gevoeg.

Weinstein is Sondag deur sy eie maatskappy die trekpas gegee nadat drie vroue hom aanvanklik van verkragting beskuldig het en tien vroue, waaronder verskeie aktrises, van seksuele aanranding.

Hy is ook onder meer daarvan beskuldig dat hy meer as agt vroue, insluitend die Amerikaanse aktrise Rose McGowan, betaal het om nié oor die seksuele teistering en -aanranding te praat nie.

Volgens The New York Times het al die voorvalle van seksuele aanranding en -teistering tussen 1990 en 2015 plaasgevind. Volgens dié publikasie het minstens 16 werknemers van Weinstein, waaronder direkteurs van die maatskappy en assistente, geweet van sy wangedrag.

Weinstein was betrokke by talle bekroonde rolprente soos onder meer The English Patient, Chicago, The Lord of the Rings: The Return of the king, The King’s Speech en The Artist.

Hy het in ʼn verklaring gesê hy het ʼn “tyd gelede besef dat hy ʼn beter mens moet wees” en dat sy verhoudinge met die mense saam met wie hy werk “as gevolg daarvan verbeter het”.

Charlize Theron (Foto: Facebook)

“Ek verstaan dat die manier waarop ek in die verlede teenoor my kollegas opgetree het baie pyn veroorsaak het, en ek vra onvoorwaardelik om verskoning daarvoor. Hoewel ek probeer om beter te wees, het ek nog ʼn lang pad om te stap. Ek is egter toegewyd. Die reis sal my meer leer oor myself en om die duiwels van my verlede te oorkom en in die oë te kyk.”

Hy het bevestig dat hy as deel van sy rehabilitasieprogram saam met ʼn span sielkundiges en terapeute werk.

Weinstein het ook gesê hy is in die proses om ʼn stigting te registreer wat vroue gaan bystaan om in die rolprentbedryf te werk.

Talle Hollywood-bekendes het intussen die dade waarvan hy beskuldig word, veroordeel. Bekendes soos Charlize Theron, Jennifer Lawrence, George Clooney, Meryl Streep en Lena Dunham het hulself teen hom uitgespreek. Ander bekendes soos Cara Delevingne, Angelina Jolie en Gwyneth Paltrow het hom persoonlik van seksuele teistering beskuldig.

“Die vroue wat oor hul aanranding gepraat het, is baie dapper. Hoewel ek nie dieselfde persoonlike ervaring met Weinstein gehad het nie, kan ek ongelukkig nie sê ek is verbaas nie. Hierdie tipe kultuur het altyd bestaan, nie net in Hollywood nie, maar reg oor die wêreld. Baie mans in magsposisies het in die verlede daarmee weggekom. Ons kan nie die slagoffers blameer nie – baie van die vroue is jonk en aan die begin van hul loopbane. Dit is ʼn positiewe stap in die regte rigting,” het Theron gesê.

Streep, wat onder meer saam met hom gewerk het aan die fliek The Iron Lady, het die gerugte as ʼn “skande” beskryf.

“Die skandelike nuus van Harvey Weinstein het talle van ons verstom wie se werk en verdienstelike projekte hy ondersteun het. Die vroue wat hul stemme dik gemaak het om die mishandeling aan die lig te bring, is ons helde. Een ding moet egter duidelik gestel word: Nie almal het geweet nie. Hy het my, en talle ander saam met wie hy gewerk het, met respek hanteer. Ek het nie van die aanranding geweet nie en ook nie van die geld wat hy aan die vroue gegee het om stil te bly nie. As enigiemand geweet het, glo ek nie dat al die ondersoekende joernaliste in die media sou gekies het om nie daaroor te skryf nie.”

Bronne: The New York Times, The Guardian

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Johann ·

Ja shure nois hy jammer. Hys net jammer hys uitgevang…psigopaat.

Elizma ·

Stem saam….as hy nie uitgevang is nie, sou hy maar net aangaan met alles. Dekselse gemors.?

Speedguard ·

Om nie eens te praat oor vrouens in magsposisies nie, hul verneder en Boelie die mans, en dreig almal met die selfde optrede, “seksuele teistering” ongelukkig is daar “Dames” wat die roete volg om die mans by te kom , ek het dit al in gesprekke gehoor waar die een kla en die advies is net , gee hom aan vir teistering dan klap sy doppie!!

Indie die bewerings waar is stem ek volkome saam, gooi hom op ‘n brandstapel!

Mielie ·

Dit gebeur nie net in die rolprent bedryf nie. Dis eintlik volop in die werksgebiede/korporatiewe wereld.

Wiebo ·

Al gedink aan geweld van vroue teen mans??? Nee wat wou, niemand sal dit glo nie. Ek was vir 13 jaar 14 keer aangerand deur my vrou sonder om my hande te lig vir haar. Dink julle iemand daar buite glo dit??? Nee, almal vat die vrou met die minderjarige kind se part……..

Josua Keys ·

Dit is net vir my snaaks dat mense wat hierdie dinge aanwakker deur rolprente te vervaardig en daarin speel en hulself naak ens aan die wereld verkoop en wilde sex segmente in die rolprente toelaat of speel net vir geld nou hul stem wil dikmaak as juis die dinge met hulself gebeur, verstaan my asb reg, ek praat nie die daad goed nie maar dit is juis die akteurs en aktrieses wat in rolprente speel wat die vals beeld aan die wereld verkondig wat hierdie reaksies uitlok en dan hul stem wil dik maak … haal eers die balk uit jou oog uit voor jy vinger na die ander wys. Die wereld is n voorbeeld van wat in rolprente aan die wereld verkondig word.

A ·

Ek verstaan glad nie waarom al die vreeslik bekendes NOU eers hulle monde oopmaak nie. En dan het die helfte van hulle nog geld aanvaar om stil te bly. En nou skielik is dit ‘n skande en ALMAL veroordeel hom.

En nee, ek stem glad nie saam met sy gedrag nie. Maar ek stem ook glad nie saam met hulle gedrag nie. As so iets gebeur kon hulle lankal ‘n klagte teen hom gaan maak het.

Susara ·

Wiebo, ek glo jou. Jare gelede toe ek nog in ‘n privaat kliniek as verpleeghulp gewerk het het ons ‘ou’ mense behandel wat deur hulle kinders aangerand is, die ouers het nooit ‘n saak teen hulle kinders gemaak nie ten spyte daarvan dat dit is wat die behandelende Dr hulle aangeraai het om te doen.., baie hartseer. Ek wonder nou wat Weinstein en die andere wat dit doen dink hulle bereik en wen hulle deur sulke onsmaaklike optrede?

Ada ·

Jip A ek stem saam met jou. Waarom nie lankal hulle monde oopgemaak en gepraat nie? Nou kom hulle in hulle hordes. Die man kon lankal vasgevat gewees het indien hulle vroeer gepraat het. En indien ander persone daarvan geweet het en niks daaraan gedoen het nie is hulle ook skuldig want die deler is net so skludig as die steler. Waaom ‘n blinde oog gegooi? Wou seker nie betrokke raak nie – en nou raak almal betrokke.

John ·

Ja… ja, maar daar is ook meisies wat enigiets sal doen vir ‘n rolletjie. Skielik is almal wat op die voorblad wil wees en was, danksy hom, in die wagkamers van tv-kannale vir nog so ‘n bietjie skadelose ‘bloot’-steling.

V ·

Onder die lys vroue name lees ek ook George Clooney s’n. Ek hoop almal kry berading na die trauma.

Riaan ·

Rehabilitasieprogram? Ja, miskien in die tronk. Verkgragting is ‘n misdaad, boetie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.