Gesiene oud-genl. van VSA sterf weens Covid-19

Colin Powell, voormalige Amerikaanse minister van buitelandse sake. (Argieffoto: Tim Sloan/AFP)

Colin Powell, ʼn Amerikaanse oorlogsheld en die VSA se eerste swart minister van buitelandse sake, het weens Covid-19-komplikasies gesterf. Hy was 84 jaar oud.

“Ons het ʼn merkwaardige en liefdevolle man, pa, oupa en groot Amerikaner verloor,” het sy familie Maandag in ʼn verklaring op sosiale media gesê.

Die afgetrede vierstergeneraal en voormalige voorsitter van die gesamentlike weermaghoofde het vier presidente gedien en buite die politieke magspel ʼn goeie reputasie as ʼn eerbare man opgebou.

Ná die Golfoorlog in 1991 was sy aansien so groot dat hy selfs genoem is as ʼn moontlike toekomstige president van die VSA, maar hy het eindelik nooit as presidentskandidaat gestaan nie.

“Genl. Powell is ʼn Amerikaanse held, ʼn Amerikaanse rolmodel en ʼn groot Amerikaanse storie,” het oudpres. George W Bush vantevore oor Powell gesê.

Powell was die seun van Jamaikaanse immigrante wat eindelik in 2000 die Republikeinse president se minister van buitelandse sake geword het.

Hy is bestempel as ʼn reguit man met ongelooflike integriteit en diep respek vir die demokrasie, maar ook met ʼn soldaat se pligsbesef en eerbaarheid.

Hy kon egter nooit die toespraak wat hy in Februarie 2003 by die Verenigde Nasies (VN) se Veiligheidsraad, waar hy aangevoer het daar is wapens van massavernietiging in Irak, afskud nie. Daar is later bewys dié bewering was vals.

“Dit is ʼn swart kol … en dit gaan altyd deel van my geskiedenis wees. Dit was moeilik. Dit is nou nog moeilik,” het Powell in 2005 in ʼn onderhoud met ABC News gesê.

Soldaat, staatsman

Huldeblyke het egter ingestroom vanuit die Kongres. Die Demokratiese senator Mark Warner het Powell as ʼn “patriot en dienaar van die mense” geloof, terwyl die Republikein Peter Meijer hom beskryf het as ʼn skaars verskynsel in ʼn moderne era: “ʼn Ware soldaat-staatsman”.

Volgens sy familie was Powell ten volle ingeënt.

Powell is in 1937 in Harlem gebore en het in New York grootgeword. Hy het later ʼn graad in geologie verwerf en het hom daarna by die Amerikaanse weermag aangesluit.

Powell het twee keer in Viëtnam gedien – die eerste keer as een van John F Kennedy se militêre raadgewers en daarna om die My Lai-slagting te ondersoek.

Terug in Washington het hy vinnig opgang gemaak. Hy was nasionale veiligheidsraadgewer vir Ronald Reagan en voorsitter van die gesamentlike weermaghoofde onder George HW Bush en Bill Clinton.

Hy is in sy leeftyd met verskeie medaljes vereer, waaronder die Presidensiële Medalje van Vryheid, twee keer van Bush sr. en een keer van Clinton.

Hy is in 1962 getroud met sy vrou, Alma, en hulle het drie kinders, Michael, Linda en Annemarie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Oros Soros ·

Buitengewone mens gewees. Min van sy stofasie in die wêreld.

Adriaan ·

Vir my is sy blywende nalatenskap die leuns wat hy verkondig het oor Irakese wapens van massavernietiging.

Realis Thailand ·

Een fout agv verkeerde inligting ontvang en jy kruisig hom
Het jy nog geen fout gemaak in jou lewe nie
Die man het meer etiek gehad as die meeste mense wie ek ken.

Vlooitjie ·

Simpatie aan sy familie met sy afsterwe. Net terloops, Genl Powel was gediagnoseer met Multiple Myoloma, ‘n tipe bloedkanker wat jou imuun stelsel afbreek. Hy was ten volle in ge-ent teen Covid.

Yolandie ·

So hy kon die inenting net sowel gelos het, het niks vir hom beteken op die ou einde nie…

Dirk Mostert ·

AA! Volgens die TV-berig het hy gesterf weens covid-komplikasies.

Misky ·

Sy dogters se name klink so afrikaans. Linda en dan veral Annemarie. RIV en sterkte aan familie.

Jack ·

Sy leuens wat baie lewens gekos het maak hom nie n gesiene mens in my boeke nie. Hy is omstrede weg uit sy pos. Die dood verander nie jou nalatenskap nie.

Mercia ·

Ten volle ingeënt…….sê die wetenskaplikes dan nie dit verhoed hospitalisasie en dood nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.