Kind oorleef ná hy met sambreel uit gebou spring

Die seun is ernstig beseer toe hy ‘n sambreel as valskerm gebruik het om uit die woonstel te spring (Foto: Shangaiist)

ʼn Sewejarige kind het wonderbaarlik ʼn val van 10 verdiepings ver oorleef toe hy ʼn sambreel as ʼn valskerm gebruik het.

Die media in China berig die kind het gesien hoe ʼn tekenprentkarakter ʼn sambreel as ʼn valskerm gebruik en het besluit om dit ook te probeer. Alhoewel hul woonstel in Suzhou, Jiangsu op die vyfde verdieping is, is die hoogte daarvan gelykstaande aan 10 verdiepings, omdat die woonstelle dubbelverdiepings is.

Dit is egter nie die sambreel wat die kind gered het nie. Sy val is gebreek deur ʼn kragdraad, het ooggetuies gesê. Hy het ernstige beserings opgedoen, maar is nie meer in ʼn kritieke toestand nie, ná ʼn operasie, het ʼn dokter gesê.

Daar was al vantevore soortgelyke voorvalle waar kinders seerkry wanneer hulle tekenprentkarakters naboots, berig Sohu.com. ʼn Vyfjarige dogter het verlede maand in Urumqi in Xinjiang ook met ʼn sambreel van die 11de verdieping gespring. Sy het op ʼn platform op die vierde verdieping geland en is in die hoësorgeenheid opgeneem.

ʼn Meisie het in Desember probeer om teen die waterpype teen die gebou af te klim en sy het vyf verdiepings ver geval. Sy is baie ernstig beseer. Sy het haar ma gemis en wou na haar gaan soek, maar die voordeur was gesluit. Sy het die idee, om teen die waterpype af te klim, op ʼn tekenprent gesien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Niks nuuts! ·

Gedurende die 1950’s het my maatjie van die huis se dak gespring met ‘n sambreel. Sy pa was prokureur op ons dorpie en die oggend met reën het hy die sambreel gegryp en met die uitgaan die sambreel oopgemaak wat toe verkeerde kant aanhou met oopvou het. Sy pa se eerste woorde was om na sy seun te roep met “Peter”! Pa het geweet wat het gebeur.
Op ‘n ander geleentheid het hy vlerke gemaak en van die windpomp afgespring, gelukkig aan die kant waar sy ma tuingemaak het en net sy arm gebreek. Ek sien hom nog steeds waar hy spring, so ‘n entjie vlieg, die vlerke opvou en reguit aarde toe . . .

Lou ·

As jong laaitie in die middel 70’s het ek met ‘n tuisgemaakte valskerm van die huis se dak afgespring. Nodeloos om te se, ek het my dinges afgeval maar darem nie ernstig seergekry nie. Kinders vang maar onnosel goed aan.

Bubbels ·

Sjoe lyk nie vir my tekenprente het so goeie invloed op klein breintjies nie… My kind dink ook altyd sy kan vlieg soos Tinkerbell.

Griki ·

Ek het self met ‘n sambreel van die garage se dak afgespring. Ek het gelukkig nie seergekry nie, maar die sambreel (of wat daarvan oor was) het stilletjies verdwyn. Ek dink my beskermengel het met vroeë aftrede gegaan want ek was ‘n wilde kind en bang vir niks, maar ten spyte daarvan het ek nooit enige ledemate gebreek nie.

Polly ·

Hier kom nog ‘n liegstorie van wat gebeur het agter die badkamerdeur. Probeer ‘n ander een, iemand het hom klaar gebruik. Dalk glo iemand anders jou. “Facepalm”…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.