Ma kry nieroorplanting danksy kinders se video

Skermskoot uit die video wat Bailey en Tobias vir hul ma gemaak het.

Twee kinders van Pennsilvanië in die VSA se roerende video wat soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei het, het nou hul ma gehelp om ʼn nieroorplanting te kry.

Diana Zippay is gediagnoseer met Alport-sindroom – ʼn genetiese toestand wat lei tot die geleidelike afname van nierwerking. Bailey en Tobias, haar kinders, het besluit om dié video te maak.

Nadat hulle vasgestel het dat geeneen van Zippay se familielede ʼn geskikte skenker kan wees nie, het Bailey voorgestel dat hulle dié video maak. Dit is nou al derduisende kere op sosiale media versprei.

In die video hou die kinders papiernotas vas waarop geskryf staan dat hul ma ʼn nierskenker nodig het.

ʼn Weldoener is kort ná die vrystelling positief as skenker getoets, en Zippay het Dinsdag die operasie vir ʼn nieroorplanting ondergaan.

Volgens CBS was die kinders saam met hul ma in die wolke toe hulle die goeie nuus hoor dat ʼn gepaste skenker gevind is. “Ons het almal gelag en gehuil. Dit was net ʼn fantastiese oomblik, ʼn fantastiese familie-oomblik,” het Zippay gesê.

Volgens die Allegheny County Health Network was dit ʼn sukses en haar nuwe nier funksioneer goed.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anoniem ·

So dankbaar dat imand bereid is om die mamma te help, wys daar is nog goeie mense daar buite! Ek self moet gaan vir n nier operasie en beskik nie die nodige fondse nie, sal wat wou gee om ook n slag normaal te kan voel maar glo die Here weet wanner om my te help, Sy tyd is nie ons tyd!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.