Ma sterf ná hospitaalbesoek aan vroeggebore babas

Die Evans-gesin (Foto: Youcaring.com)

ʼn Ma van ses van die Amerikaanse deelstaat Kalifornië is in ʼn motorongeluk dood enkele oomblikke nadat sy ʼn hospitaalbesoek aan haar vroeggebore tweeling gebring het.

Volgens ʼn polisieverklaring is ʼn 21-jarige vrou vandeesweek in verband met die ongeluk in hegtenis geneem. ʼn Voorlopige ondersoek dui glo daarop dat die vrou se alkoholvlak minstens drie keer hoër as die perk was toe die ongeluk op 6 Oktober plaasgevind het. Toe die verdagte onmiddellik ná die ongeluk na die hospitaal geneem is, is leë alkoholbottels ook in haar motor gevind.

Katie Evans, die slagoffer, en haar man, Jacob, woon volgens berigte al vir langer as ʼn dekade in Kalifornië. Die egpaar het vier kinders tussen die ouderdomme van twee en 12 en ook die pasgebore tweeling.

Katie Evans saam met haar tweeling (Foto: Youcaring.com)

Natalie Mortensen, ʼn vriendin van die oorledene, het onlangs ʼn skarefinansieringveldtog begin om geld in te samel sodat Jacob ná die verlies van ʼn inkomste steeds vir sy gesin kan sorg.

Die veldtog het aanvanklik ʼn teiken van $100 000 (bykans R1,4 miljoen) gehad, maar meer as $300 000 is sedert die ongeluk vir die gesin ingesamel.

“Katie kon nie ʼn dag laat verbygaan sonder om vir haar tweeling in die hospitaal te gaan kuier nie. Sy was ʼn toegewyde ma, suster en vrou en sal ongelooflik baie gemis word. Jacob het aanvanklik gedink hy sal sy gesin moet ontwortel waar hulle grootgeword het in Kalifornië en nader aan sy familie trek om koste te bespaar, maar danksy mense se vrygewigheid het hy nou die moontlikheid om in Kalifornië aan te bly waar sy kinders grootgeword en reeds vriende het,” het Mortensen op ʼn webwerf vir die skarefinansieringsveldtog geskryf.

Die 21-jarige vrou is volgens die Kaliforniese polisie sedert Woensdag in polisieaanhouding. Daar is ook ʼn klag van strafbare manslag teen haar en borgtog van $200 000 (ongeveer R2,7 miljoen) is vasgestel.

Jacob en Katie Evans (Foto: Youcaring.com)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Denise ·

Dit is baie hartseer ek het nie woorde nie . Sterkte aan die man en sy kinders.

Denise ·

Ai hoekom moet mense drink en bestuur ???? Baie hartseer vir die man en kinders !!!!

BOLANDER ·

Ek is sprakeloos!! Vader, staan asb hierdie man en sy kinders by in hierdie vreeslike tyd.

AMEN

Sarel Strydom ·

Suid – Afrika : Borgtog sou heelmoontlik tusse R200 – R2000 gewees het en die saak sal 10 jaar lank sloer.

Cherokee ·

Maar borgtog sou nie R2.7m in Suid Afrika gewees het nie. Dit is waarom ek sê beriggewers moet ophou om valuta-vergelykings te doen.

Jay ·

Ja julle Rand beteken niks. Die land gaan so agter uit voel jammer vir almal wat nog daar vasgekeer is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.