Minstens 140 soldate sterf tydens Taliban-aanval

Balkh-provinsie, Afghanistan

Minstens 140 soldate is Vrydag by ʼn weermagbasis in Afghanistan dood tydens ʼn aanval deur Taliban-militante, wat in weermaguniforms geklee was.

Meer as 160 mense is beseer, het Mohammad Ibrahim Khair Andesh, hoof van die Balkh-provinsie se raad, Saterdag aan die nuusagentskap dpa gesê.

Die aanval het by ʼn weermagbevelsentrum plaasgevind, ʼn paar kilometer buite Mazar-e Sharif, die hoofstad van die Balkh-provinsie.

Taliban-militante in drie weermagvoertuie met vervalste dokumente het die aanval geloods deur ʼn vuurpyl af te skiet by die ingang van die weermagbasis, het ʼn weermagbeampte aan dpa gesê.

Tien militante het eers ʼn moskee in die basis geteiken waar personeellede Vrydag gebid het, voordat hulle na ʼn eetsaal geskuif het.

Die Taliban beweer meer as 500 soldate is dood en beseer. Die militante groep beweer ook dat vier van die aanvallers soldate was wat op die basis gewerk het. Die groep het ʼn foto van die aanvallers, geklee in weermag-uniforms, vrygestel. Hulle gesigte is verdof.

Die weermagbasis in Mazar-e Sharif is die bevelsentrum vir noordelike Afghanistan waar ʼn kontingent van die Duitse weermag ook gestasioneer is. Geen Duitse soldate is in die aanval beseer nie.

Dit is die tweede soortgelyke voorval die afgelope paar maande. Militante van die Islamitiese Staat het in Maart op ʼn weermaghospitaal in Kaboel toegeslaan. Altesaam 49 persone is dood en 76 gewond.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

My mening ·

Terrorisme is die mees veragtelikste kanker in die samelewing.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.