[Foto’s] ʼn Nóg sterker orkaan op pad na VSA

Honderde inwoners van Monroe County in die Amerikaanse deelstaat Florida gaan binnekort noodgedwonge hul huise moet verlaat weens orkaan Irma wat glo verwoesting in groot dele van dié deelstaat gaan saai.

Volgens mediaberigte is dié orkaan een van die grootste storms in die Atlantiese Oseaan in meer as ʼn eeu, en sal die orkaan selfs meer verwoesting saai as orkaan Harvey, wat Saterdag na ʼn tropiese storm afgegradeer is, in Houston in Texas.

Rick Scott, Florida se goewerneur, het Dinsdag bevestig minstens 65 distrikte in Florida het ʼn noodtoestand afgekondig.

CNN het vroeër vandeesweek berig dié orkaan is glo op pad na onder meer Florida, maar ook die Karibiese eilande en Puerto Rico en sal na verwagting eerskomende Sondag die vasteland tref.

Satellietbeelde van orkaan Irma (Foto: NOAA/AP)

Owerhede van Monroe County het inwoners en toeriste Dinsdag in ʼn persverklaring gewaarsku om dadelik met ontruimings te begin en gewaarsku dat dié storm groot gevaar inhou. Dié dorp se rampbestuurspanne is ook op ʼn hoë gereedheidsgrondslag geplaas om te probeer om die skade en lewensverliese so min as moontlik te hou.

Pres. Donald Trump het Dinsdag noodplanne goedgekeur vir dié deelstaat en ander gebiede in die land wat moontlik geraak kan word ná ʼn versoek van die goewerneur.

Die Amerikaanse nasionale weerdiens het Dinsdag gesê die orkaan veroorsaak reeds stormsterk winde van meer as 250 km/h op die see, maar dat winde van sowat 300 km/h verwag word wanneer die orkaan die vasteland tref.

Meteoroloë het vandeesweek klem gelê op die uiters gevaarlike en ernstige bedreigings wat die orkaan vir dié deelstaat inhou.

CNN het Woensdag berig orkaan Irma is intussen amptelik as ʼn gevaarlike kategorie-5 storm geklassifiseer.

Inwoners van Florida en die Karibiese eilande berei voor op orkaan Irma (Foto: AP/ Carlos Giusti)

Groot dele van Houston in Texas is steeds in puin nadat orkaan Harvey dié staat verlede week getref het. ʼn Vloot helikopters, bote en hoogwatervoertuie het die vloedwater getrotseer en owerhede het intussen die gebiede wat die ergste hierdeur geraak is, geïdentifiseer. Reddingsbeamptes het te veel oproepe ontvang om op elkeen te reageer en moes lewe-en-dood-situasies prioritiseer.

Meer as 100 mm reën binne een uur het daartoe gelei dat die watervlakke hoër is as in enige ander onlangse vloed, asook hoër as tydens Tropiese Storm Allison in Junie 2001, het Jeff Linder van die vloedbeheerdistrik in Harris County, wat Houston insluit, gesê.

Owerhede het mense met bote en brandstof versoek om hulle te help om inwoners te red, het KPRC-TV in Houston Sondagoggend berig. Vullistrokke en munisipale busse word gebruik om inwoners na hoër gebiede te vervoer.

Harvey was ʼn kategorie 4-storm en dus minder gevaarlik as orkaan Irma.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

m ·

Die weer is omtrent omgekrap aan die ander kant van die aardbol. Ons bid dat hierdie storm nie die sterkte gaan bereik wat hulle voorspel nie.

Karma ·

Sjoe!!!!! Kyk, ek is maar baie bly dat ek hier in Worcester in die Wes-Kaap bly en dat die ergste storms wat ons nog getref het, maar net wind- en reënstorms was. Nee kyk, as ek enigsins in die suidelike dele van Florida, the Keys, Louisiana, Alabama of Texas gebly het, het ek lááánkal al noordwaarts beweeg. So ‘n storm of orkaan kan seker nie kinderspeletjies wees nie. Arme mense …. hoop almal, mens en dier, word bewaar!

Buitestander ·

Ons moet altyd die hoër Hand in die storm raak sien.

Familie ·

My seun en sy fam. het sopas vanaf Charlotte, North Carolina verhuis na Florida omdat die winters uiters koud is daar noord. Hy was voorheen in Florida en het ondervinding van hierdie orkane. Behalwe ‘Eish’, wonder ek wat sou SA gedoen het?

Karma ·

@Familie – in SA sou die weervoorspellers gewaarsku het teen die storm met hoë winde en en monster-golwe langs die kuslyn van die Wes- en Oos Kaap. Dan sou die Minister van Weet-nie-wat-nie gesê het die mense moenie “stress” nie: hulle is voorbereid en die nooddienste is op bystand. President Zuma sal maak dat hy wegkom uit SA en die Guptas en al sy geld saamvat Dubai toe. Rampbestuur in die Kaap sou dan sê hulle is reg: die orkaan kan maar kom.

Dan sou die Gautengers wakkerskrik (as die storm nou al verbý Wes-Kaap/Oos-Kaap is) en sê: “Sjoe, vreeslik baie reën en koue temperature reg oor die land ……”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.