Ouers waarsku ná soen glo tot baba se dood lei

Mariana Sifrit (Foto: Nicole Sifrit/Facebook)

ʼn Babadogtertjie van net 18 dae oud is dood nadat sy virale meningitis opgedoen het weens ʼn herpesvirus wat sy vermoedelik gekry het toe sy gesoen is.

Nicole Sifrit, die baba se ma van die Amerikaanse deelstaat Iowa, het vandeesweek op Facebook geskryf sy en haar man, Shane, is gebroke ná die afsterwe van hul babadogtertjie.

Sifrit het op Facebook gesê hul babatjie het aanvanklik gesukkel om te eet. Sy kon later ook nie meer wakker bly nie, en haar asemhaling het kort ná die eerste gevaartekens abnormaal vinnig en vlak geraak.

Die klein Mariana is met virale meningitis gediagnoseer, en die dokters kon niks aan haar toestand doen nie omdat die virus reeds te veel skade aan haar liggaampie aangerig het.

Mariana Sifrit (Foto: Nicole Sifrit/Facebook)

“Haar gesondheidstoestand het met rasse skrede agteruitgegaan. Haar toestand het elke dag versleg. Die virus het al haar organe beskadig. Sy het lewerversaking gekry, en later nierversaking. Daar was niks wat ons kon doen, behalwe om haar laaste paar dae vir haar gemaklik te probeer maak nie,” sê Sifrit.

Volgens dokters het Mariana virale breinvliesontsteking opgedoen as gevolg van ʼn herpesvirus wat in wese eintlik ʼn koorsblaar is. Dokters het gesê hul baba moes deur iemand gesoen gewees het wat ʼn koorsblaar gehad en uiteraard ook dié virus onder lede gehad het.

Albei ouers is intussen vir die herpesvirus getoets en die uitslae was negatief.

Babas word nie met ʼn ontwikkelde immuunstelsel gebore nie. ʼn Virus soos dié van ʼn koorsblaar kan dus die lewe van ʼn baba eis, terwyl dit geen skade aan ʼn volwassene sal aanrig nie. Volgens navorsing van Johns Hopkins Medicine is sowat 50% tot 80% van alle volwassenes draers van dié herpesvirus.

Sifrit het haar intussen tot sosiale media gewend om ander ouers te waarsku. “Ek het nooit gedink dit kan met ons gebeur nie,” het sy gesê. “Ons wil bewusmaking bewerkstellig onder ander ouers van pasgebore babas. Hulle moet versigtig wees wanneer mense hulle besoek en hul baba wil vertroetel – en moenie toelaat dat enigiemand jou baba soen nie,” sê sy.

“Ons is net dankbaar dat ons haar kon groet. Daar is baie ouers wie se kinders skielik sterf. Nou het ons ʼn doel om bewusmaking te skep.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Sakkie ·

Dan dink mense ek is mal as ek se niemand sal my baba soen nie. Nou sien hulle.

Andrea ·

Presies, Sakkie. My ma het ons geleer jy soen nie so n klein baba nie, vat nie met ongewaste hande aan hul nie, en soen NOOIT n baba of klein kindjie op die mond nie.

San ·

Baie moeilik as jou baba in dagsorg of kleuterskool is waar hulle deur enigeen gesoen kan word

Ronel ·

Ek verpes dit as mense ‘n klein babatjie op die mond soen. So paar jaar terug was daar ‘n babatjie in SA ook dood agv dieselfde virus en ook agv ‘n soen op die mond. Daar was ‘n facebook page vir di ekleintjie. Ek kan net nie nou haar naam onthou nie.
Any way. Mens soen nie ‘n babatjie op die mond nie. Soengroet oor die algemeen is vir my effe grillerig. En ja, ek is daai ene wat die wang draai as almal dan nou wil soengroet.

Teresa ·

Ek het almal ver weg van my pasgeborenes gehou!!! En dan buiten die soenery van pasgeborenes sien ek die nuwe gier is om jou pasgebore baba by jou honde te sit dat die honde die babatjie lek vir ‘n facebook foto, om kwansuis te wys dat jou diere kinders ook die nuweling goedkeur!!!!! Regtig??? Nee man!!!

MissDemeanor ·

Ek gril nog altyd vir die Afrikaanse gewoonte om familie op die mond te soen…sies man. Ek soen eerder in die lug, wang teen wang. Die mond soenmery is net weird. En ek haat dit ook as my eie familie my kind op haar mond wil soen. Ek dink dit is iets vir mense wat in n romantiese verhouding is.

H ·

Ek as groot mens is nie eens ‘n groot soen fan nie. Hoekom moet ons mekaar soen as ons groet hallo of baai. Dis ‘n ander saak as mens naby familie is, maar nee dankie ek sal maar die soene vir my gesin spaar.

Adriana ·

Weet die ouers wie die ou dingetjie gesoen het wat die virus gedra het? Ek wonder wat gaan deur die een se kop wat geweet het hy/sy het n koorsblaar en nog steeds n babatjie soen?

Mike ·

‘n Mens soen net jou eie gesinslede. GEEN ander vriende of kennisse nie.
‘n Vriendelike kopknik kan net so opreg en hartlik wees

Yvonne ·

Dit is so hartseer! Ek was soos n wyfie leeu toe my kinders gebore is. Baie familie lede het gedink ek was onbeskof maar geen ongewaste hande,loopneuse en soene is naby my pasgeborenes toe gelaat nie. Sterkte aan die familie.

dpj ·

Wys jou net hoe hegienies mense is.
Wanneers mens siek is besmet jy nie elkeen wat voorkom nie. Bly by jou huis en sonder jouself af en kry mediese behandelling.
Voorkoming is beter as genesing.

Antjie ·

Wat sleg is van so ‘n artikel gebasseer op ‘n ma se sosiale media waarskuwings, is al die verdraaïngs. Neonatale (binne 1e maand) HSV-1 en HSV-2 is algemeen, ~ 1/3000 geboortes in Amerika. Amper die helfte van die gevalle se mammas is nie bewus van hul (genitale- in ~ 95% v gevalle) infeksie tydens geboorte nie. Mortaliteit met behandeling <4%. Maar meestal gebeur dit vinnig omdat baba blasies vorm, en nóg vinniger as dr of sr sien mamma het blasies tydens kraam. Hoewel mense met aktiewe orale HSV-1 onder geen omstandighede enigiemand moet soen nie, en selfs gesonde mense miljoene kieme oordra met enige soen wat vir my ongemaklik bly met 'n baba, twyfel ek of dit as al oorsaaklike faktor bewys kon word. Hierdie sosiale media gedrewe verslag kan dus ouers onnodig bekommerd maak. Dit het baie meer potensiële waarde om ouers van pasgebore babas wat vroeg huis toe gaan te leer waarvoor om uit te kyk en mediese hulp te soek vroeër eerder as later. Skielike slaperiger baba, kort-kort skerp kyk vir paar sekondes na een kant, gesig en handjie aan een kant vd lyfie wat vir 'n paar sekondes ritmies twitch is alles tekens van serebrale HSV. Daar is dikwels vroeg al êrens 'n blasie of meer op die vel wat baie tipies is van hierdie virus. Moenie ignoreer nie, asb! Dis báie belangriker as om vryerige oumas van hul kleinkind af weg te jaag as hulle nie ore het en rede wil insien nie!

LB S ·

Antjie, baie dankie vir jou verduideliking. Dit klink of jy weet waarvan jy praat. Ek is ook ‘n “vryerige” ouma van ‘n 7 week-babatjie, maar ek soen hom op die wangetjie. Wat my baie ontstel is die 2 honne wat so graag naby sy gesiggie kom ruik en die kinders dink dis goed, “hy moet met die honde grootword”. Ek bid maar elke dag ……

Elize ·

Mense met koorsblare is nie eens veronderstel om ander mense te soen nie, en om dan nog n babatjie te soen is onaanvaarbaar. My skoonfamilie soengroet almal wat hulle ken, ek gril daarvoor, veral vir die klomp met die snorre.

MissDemeanor ·

Gaan maar altyd vir die wang deur flink jou kop te draai…en om botsings te vermy mik altyd links ( vir die regter wang).

Estelle ·

Ek het nooit my kinders op hul monde gesoen nie. En ek hou ook nie daarvan nie wanneer iemand n baba se fopspeen in sy/haar mond druk en daarna in die baba se mond sit.

Maritha ·

Suid Afrikaners soen te maklik en is ook heeltemal te familier met mense wat nie familie is nie, gewoonte wat ons volkie moet af leer

Griki ·

Ek kan nie glo dat regdenkende mense ‘n baba op of rondom die mondjie, neusie of ogies soen nie. Selfs al is mens hoe gesond, kan jy ‘n siekte onder lede hê waarvan jy nie eens bewus is nie en babas het eenvouding nie weerstand nie. Skote Petoors vir alle ouers wat mense keer om hulle babas te soen.

SE MAAR NET ·

Ek is ok nie ‘n soen mens nie, kry te maklik koorsblare. Mense kan maar dink wat hul wil, maar ek gee altyd my wang as hul my wil soen…

Neilia ·

Mense verwar die herpes met vuil siekte , asb as jy nie weet wat dit is moenie se mense onhigienies nie. Alke koorsblare binne of buite die mond word herpes genoem . Waar dit buite die vel is dan herpes zorster . Meeste mense het dit dis nou maar deel van jou . Dis n kiem wat in ribbekas is ,nee geen medikasie kan dit weg neem nie . Myne het uit gekom agv waterpokkies op n 24 jarige ouderdom. Groot pynlike blase op my rug en bene . Doen eers navorsing voor julle komment . Jammer vir die ouers .

Robert ·

‘n Soen op sy tyd is lekkerrrrr. Babatjie, vreemdelinge soen, nee, bly weg!
Net bekommer dat die baba se toestand “teen rasse skrede agteruit gegaan”. Teen? Nee, ” met rasse skrede….”

susan ·

Baie jammer om dit te moes lees, ek kan myself nie indink nie dis erg hartseer. Mag ons liewe HEER die stille vertrooster vir jul wees in die tyd. Baie jammer vir jul pyn :(

anna ·

n Mens soen nooit n klein baba nie.Ek soen op wang wat veilig is vir baba en.groot mense.Laat dit n.les wees vir al ons groot mense wat altyd baba’s wil soen mense dink asb aan daai kleine lyfies want nog geen weestand het teen siektes nie

Annie ·

Geen baba het op 18 dae ‘n immuunstelsel nie. Ek het nooit uitgegaan met my kinders voor hulle 3 maande oud was nie. Wil die aapstuipe kry as ek sien die week-oue babatjies word in die winkelsentrums in stootkarretjies rondgery. Oudmodies? Ja en trots daarop

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.