Paneelwa ploeg in bushaltes in tydens moontlike terreuraanval

Foto’s van die toneel in Frankryk (Foto: AP Photo/Claude Paris)

Minstens een mens is dood en een ander beseer nadat ʼn paneelwa Maandagoggend in twee bushaltes in Marseille in Frankryk ingeploeg het.

Volgens die Franse polisie is ʼn 35-jarige man kort ná die voorval in hegtenis geneem. Inwoners van dié stad is intussen ook gewaarsku om die Old Port-gebied te vermy.

The Independent berig die bestuurder van die paneelwa het omstreeks 08:15 (internasionale tyd) in die eerste bushalte ingeploeg voordat hy ʼn uur later trompop teen ʼn ander bushalte gery het.

Volgens die polisie is ʼn man in die eerste voorval beseer, terwyl ʼn vrou, vermoedelik in haar 40’s, in die tweede voorval oorlede is.

ʼn Omstander het glo die nommerplaat van die paneelwa neergeskryf voor hy die polisie in kennis gestel het.

Volgens mediaberigte is die bestuurder bekend vir geringe misdade in die omgewing.

ʼn Marseille-polisieman het gesê dit is nog in dié stadium te vroeg om te bespiegel oor die ongeluk, maar terreur kan nie uitgesluit word nie.

ʼn Motief vir die aanval was teen Maandagmiddag (Suid-Afrikaanse tyd) steeds nie bekend nie.

Foto’s van die toneel in Frankryk (Foto: AP Photo/Claude Paris)

Dié aanval volg kort nadat twee ander terreuraanvalle Europa verlede week geruk het. Altesaam 13 mense is dood en minstens 100 beseer in ʼn terreuraanval in Barcelona in Spanje toe ʼn paneelwa in ʼn skare ingeploeg het. ʼn Derde verdagte in dié voorval is Saterdagoggend in hegtenis geneem. Die bestuurder van die paneelwa, wat steeds op vrye voet is, is oor die naweek as Younes Abouyaaqoub geïdentifiseer.

Vyf mense wat vermoedelik betrokke was in die tweede terreuraanval wat in Cambrils, 120 km suid van Barcelona, plaasgevind het, is Vrydagoggend doodgeskiet. Sewe mense, onder wie een polisiebeampte, is beseer tydens dié aanval. Plaaslike media berig die aanvallers het, soortgelyk aan die ander aanvalle, probeer om met ʼn voertuig in voetgangers vas te ry toe polisiebeamptes op hulle losgebrand het.

Die Katalaanse polisie het gesê hulle meen die twee aanvalle, tesame met ʼn ontploffing Woensdagaand in Alcanar, 200 km suid van Barcelona, waartydens een mens dood is en ʼn huis ineengestort het, hou verband met mekaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Michael ·

Hulle hoef net Pres Trump se voorbeeld te volg en die muslim ekstremiste te deporteer na hulle land van oorsprong en n verbod te plaas op muslims wat die land wil binnekom so maklik soos dit maar net soos in suid afrika word die probleem nie geïdentifiseer nie want dit is nie polities korrek nie .

Chrisn ·

Wat in Europa gebeur is net so tragies soos al die boere en hul gesinne wat hier vermoor word. So ook elke politieke moord in Natal, Kaapse bendegeweld. Ja ons ekstrimiste is de Klerk, Meyer en kie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.