Vermiste pa en dogter (6) veilig ná 27 dae op see

Alan Langdon (46) en sy dogter, Que (6), van Nieu-Seeland (Foto: The Telegraph)

Alan Langdon (46) en sy dogter, Que (6), van Nieu-Seeland (Foto: The Telegraph)

ʼn Soektog na die vermiste Alan Langdon (46) en sy dogter, Que (6), van Nieu-Seeland, is Donderdag afgelas nadat hulle ná 27 dae op die oop see met hul beskadigde seiljag in Ulladulla, ʼn vissershawe 230 km buite Sydney, vasgemeer het.

ʼn Internasionale soektog is middel Desember verlede jaar van stapel gestuur nadat Langdon en sy dogter verdwyn het.

Die pa het glo ʼn kort reis van Kawhia na die Bay of Islands in Nieu-Seeland beplan, maar die seiljag is enkele dae ná die aanvang van die reis beskadig ná ʼn storm hulle getref het.

Hulle het ook kommunikasieverbinding met die buitewêreld verloor.

“Toe die roer van die seiljag gebreek het, het ons nie baie opsies gehad nie,” het Langdon aan The Telegraph vertel. “Ek het gewag vir beter weer, maar die weersomstandighede het nie verander nie. Om oor die Tasmaanse See te vaar, sou beteken dat ons die een of ander tyd Australië sou bereik.”

Langdon, wat van die ma van sy kind vervreem is, is sedert Desember baie in die nuus nadat sy eksvrou, Ariane Wyler, vermoed het dat hy met Que weggeloop het.

Volgens Wyler het hulle verdwyn enkele dae voor ʼn toesigverhoor.

Wyler het ook ʼn privaat speurder aangestel om na hulle te soek en vertel dat hulle al ʼn vorige keer ook vermis was. Primêre toesig is glo tydelik aan Langdon toegeken.

Langdon het gesê dat die gebeure buite sy beheer was, maar dat albei partye vir die volle 27 dae “buite gevaar” was, maar net niemand kon laat weet nie.

Die saak word tans deur die polisie ondersoek.

Bron: The Telegraph

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

John ·

Die ou lyk nie gesond nie. Om ‘n kind deur soveel trauma te sit en dan toesig te wil he…

Olga ·

Ek glo nie die pa het die trauma beplan nie hoor! En as die pa primere toesig het tans, se dit nie veel van die ma nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.