VSA appèlregter Antonin Scalia oorlede

Antonin Scalia. Foto: Gavin Averill/The Hattiesburg American via AP

Antonin Scalia. Foto: Gavin Averill/The Hattiesburg American via AP

Antonin Scalia, die invloedryke regter van die Amerikaanse appèlhof, is Saterdag in die ouderdom van 79 dood.

Die owerheid in Washington het bevestig dat Scalia by ʼn privaat woning in die Big Bend-gebied in die weste van Texas gesterf het. Donna Sellers, ʼn woordvoerder, het gesê Scalia is Saterdagoggend dood in sy bed aangetref nadat hy nie vir ontbyt opgedaag het nie.

Scalia se dood is waarskynlik die inleiding tot ʼn ideologiese konfrontasie tydens die presidensiële verkiesingsjaar aangesien pres. Barack Obama ʼn opvolger in die justisie vir die res van sy Withuis-termyn sal moet benoem. Scalia was lid van ʼn konserwatiewe 5-4-meerderheidsgroep, met Anthony Kennedy wat soms as buiteperd ten gunste van die liberale in die hof gestem het.

Scalia was bekend vir sy skerp intellek wat hy met oorgawe ingespan het om die hof meer na regs te beweeg kort nadat hy in 1986 deur pres. Ronald Reagan vir die appèlhof genomineer is. Hy was ook ʼn verbete voorstander van originalism, ʼn benadering tot die grondwetlike vertolking wat streng getrou bly aan die oorspronklike betekenis en konsepte soos dit deur die stigterslede van die grondwet verstaan is.

Scalia was passievol in sy opvatting van die doodstraf. Hy het hom in 1989 sterk uitgespreek ten gunste van die doodstraf vir moordenaars wat 16 of 17 jaar oud was ten tyde van die misdaad. In 2005 moes hy egter handdoek ingooi toe die howe hierdie oorweging die nekslag toegedien het en dit ongrondwetlik verklaar het om sulke jong moordenaars die doodstraf op te lê.

Sy sigarette en pyp het hom gekenmerk en hy was ʼn geesdriftige sanger by die hof se Kerspartytjies en ander musiekbyeenkomste. Hy het by geleentheid selfs sy buiging as byspeler in ʼn Washington-opera gemaak.

Scalia en sy vrou, Maureen, het nege kinders gehad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

HEVW ·

n Groot verlies. Dankbaar vir ons hedendaagse kampvegters. As ons maar meer van hierdie gehalte figure in on omstandighede kon he.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.